As ek die President was

As jy gekies is tot President van ons land, wat sou jy doen? Dís die vraag wat iemand op Facebook vra. Mag dit my tog nooit oorkom nie! Asseblief tog nie!

Kyk, ons kan laf raak as ons antwoord, of sinies, ernstig, huil, maar sê nou dit was jy, wat sou jy REGTIG gedoen het?

Ons almal weet ons land is in ‘n chaotiese toestand, dis regtig nie nodig om dit hier uit te spel nie. Oor die politiek wil ek nie eers praat nie. Ek lê sommer vanoggend en dink aan die droogte in die Wes-Kaap, Oos-Kaap, Karoo, waar nog orals. 21 April, reken hulle, is Day Zero. Nou klink dit my dis vervroeg na 12 April. Wat dan?

Mense tref voorsorg, hul begin water oppot. Hopelik water uit die Transvaal, want anders word die dag nog meer vervroeg. Maar dan gaan die Transvaal se water óók opraak. En kom haal hul by die Overbergse dorpe, wat se water óók min is, gaan dit óók opraak! Mense, dis ‘n KRISIS! Dan moet ons water invoer van Europa af!

Nee, ek wil nie die President wees nie. Regtig nie.

Maar sê nou net die lootjie val op my? Wat sal ek doen? I shall humble myself before the Lord. Ek sal vir dae lank vas en bid. Ek sal vir God vra om my te help om hierdie moeilike situasie waarin ons land verkeer, te probeer bestuur. Ek sal bid vir raad en wysheid en die gutz om die regte ding te doen, want baie keer weet ons presies wát die regte ding is, maar ons is te bang om dit te doen.

Ek sal vir my goeie raadgewers aanstel. Betroubare mense. Eerlike mense. Mense wat dit wil doen omdat hulle regtig die beste vir almal in ons land wil hê. Mense wat ons land wil opbou.

En dan sal ons as ‘n span begin om te probeer om die land te bou, om te werk aan die moraal van ons mense. Sjoe, as ek dit net sou kon regkry om die afbreek te stop, die brandstigting, die vandalisme, maar dis ver bo my verstand en begrip.

So, ek wil regtig nie president wees nie. Maar Meneer die nuwe President, ek wens u regtig alle sterkte toe. Ek hoop u kry die skip gedraai. U weet, hier is regtig so baie mooi in ons land, kom ons soek dit en bou daaraan. Ek hoop u ken vir Jesus Christus, want Hy is die Een wat my elke dag krag en raad en wysheid gee om die regte besluite te neem. Soek Hom, spandeer daagliks tyd met Hom, raak stil by Hom, lees Sy Woord, daar lê regtig baie antwoorde in opgesluit. Volg Hom, u sal nie spyt wees nie.

Wat sal jy doen as dit jy is? Hoe gaan jy die skip omdraai?

Groetnis, Toortsie

Asseblief, kom ons hou die kommentare positief en geensins afbrekend nie.

28 thoughts on “As ek die President was

  1. Ja Toorts, ek wil ook nie die werk hê nie. Wat ek wel doen, soos jy is bid vir ons land, sy leiers(al stem ek nie saam met hulle nie) en al ons mense en dan trag ek om in my onmiddelike omgewing ‘n wesenlike verskil te maak.

    Liked by 1 person

  2. Ek bedank die pos dadelik dankie. Ons moet vir ons leiers bid, en dit kan ons doen. Dan tog net asseblief ophou murmereer en murmereer en murmereer…. dit mergel mens uit.

    Liked by 1 person

  3. Waar is daardie saamstaan van die jare sewentigs. Ons het een dag gebruik om almal soos n ieder en n elk in en om die kerk vergader het en ernstig gebid vir reën. Dit het n groot indruk op my gelaat dat almal so saam aanbid het Wat toe ook later gebeur het! Daar is tog so baie gelowiges. Ek verstaan dit nie. Kaapstad se water tekort word nou hier vir ons voorgehou om te moet nadink oor ons eie watergebruik. Ongelukkig kan n President nie man/vrou alleen die wa trek nie.

    Liked by 1 person

  4. In die huidige klimaat is die probleem dat die president verplig is om sy maatjies aan te stel, nie die mense wat weet wat hulle doen nie, want die maatjies kan net so vinnig ontslae raak van die president as wat hulle gehelp het om hom verkies te kry. Dieselfde geld vir die kiesers – hulle moet omgekoop word (al is dit met leë beloftes) om vir die “regte” party te stem. Demokrasie het ‘n bespotting geword.

    Liked by 1 person

  5. O genade Toortsie, jy vra moeilike vrae. Ek sou eers “time out” moes neem om te verwerk wat gebeur het. Terselfdertyd soveel moontlike kundiges op elke gebied sien en hul menings kry. Hierdie gaan maande neem. Wonder ek nou net, op ń ligter noot, wat met die rand/dollar sal gebeur as mý naam op die voorblaaie pryk!🙈🙊🙉😂

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!