Kameel – Chaos in die voëlnes

imagesTwaalfuur vandag was ek nog net gebad en aangetrek.  Nie tande geborsel of hare gekam of room aan my gesig gesmeer, bybel gelees of gebid nie – en dit te danke aan ‘n vyfmaande oue baba wat nou van beddens afrol, en baie aandag nodig het.

Die oggend het rustig begin totdat Kenneth in ons kamerdeur verskyn het. Hulle internet is af, dus het hy hier kom werk, en ek kan babaoppasser wees. Meteens staan die voëlnes op sy kop. Ons huishulp wil skoonmaak…. maar waar om te begin? Die mans sit in die sitkamer met hulle skootrekenaars, ek en baba Elí speel op die bed, babastoeltjies en sakke staan oral rond. As jy in ‘n voëlnes bly sal jy verstaan dat dinge baie vinnig beknop kan raak.

Ek en Ken sou vanoggend winkels toe gegaan het, dus besluit hy om alleen te gaan. Hy is hier weg, en ek vra Kenneth om ‘n oog oor Elí te hou terwyl ek gou gaan bad. Skaars in die bad of chaos breek los. Ek klim vinnig uit die bad, vou ‘n handdoek om my en gaan kyk wat gaan aan. Kenneth staan met die skreeuende baba in een arm, bottel in die ander hand, selfoon met sy skouer teen sy oor vasgedruk, besig met ‘n werksvergadering (moet my nie vra hoe hou hulle vergaderings oor ‘n foon nie, maar dis hoe hulle nou se dae dinge doen.) Die twee rottweilers – opgewerk deur die baba se geskreeu – staan in die agterdeur en gaan beserk. Met een woord chaos!!!

Die huishulp vat die baba, ek gryp die bottel koue melk, en sit vinnig die ketel aan om water te kook… maar die rottweilers kry ons nie stil nie. Kenneth eindig sy gesprek, en plakkie in die hand is hy agter die honde aan. In die proses stamp hy sy groottoon nerfaf, en toe hy terugkom is dit ene bloed. Uiteindelik is die toon gedokter, en ek jaag hom groothuis toe om in die kantoor te gaan werk. Los Elí vir my, ons sal regkom.

Hoe op aarde het ek soveel kinders grootgemaak as net een my hele dag so omvêr kan gooi, en my natgesweet, onversorgd en gô-uit agterlaat?

27 thoughts on “Kameel – Chaos in die voëlnes

    1. Toe hy eers in stilte in die kantoor gaan sit het het dinge beter gegaan. Net so goed want kort daarna het hulle saam die Duitsers uit Duitsland vergadering gehou. Ek verstaan nie hoe dit werk nie… maar ek hoef net te verstaan hoe om te babysit sonder dat chaos uitbreek 😀😀😀

      Liked by 1 person

  1. O gedorie! Ek dink as dit jou eie kind is doen jy dit net. Wanneer jy ‘n ouma of oupa is, wonder jy hoe jy dit gedoen het. Volgende keer gaan dit hopelik beter en het jou seun staalpunt skoene aan. 😜

    Liked by 1 person

    1. Om te dink my ma het vir my gesê ek het so baie kinders want ek maak hulle so maklik groot. Ek het of my touch verloor, of dis die ouderdom se skuld. Ek kry die rottweilers jammer as my seun staalpuntskoene aangehad het…. ons hou maar by plakkies 😊

      Liked by 1 person

    1. Die besef van my met net ‘n handdoek om my het my eers later getref. Dit sou ‘n gesig afgegee het, het ek eensklaps kaal voor my seun en huishulp gestaan. Die prentjie laat my nou giggel 😊

      Like

    1. Gelukkig het die handdoek gehou!!! Ek dink ons huishulp sou dan histeries aan die lag gegaan het…. sy het klaar so vir my gelag. Dankie tog ons kan die kleinkinders teruggee!!!

      Like

  2. Ek kan hierdie gedoente voor my oë sien afspeel. Bly die honde kon toe darem rustig verder gaan. Die telefoonvergadering is ook my pot se deksel! Kom nie eers reg om Tina behoorlik te whatsapp nie.
    Baba-oppas kom natuurlik maar ai die “ouderdom” maak mens net minder beweeglik. Ek grinnik nou nog vir jou, jou handdoek en al the toeskouers.

    Liked by 1 person

    1. Scrapy as mens diepwater ingegooi word swem jy…. dit het ek weereens gister besef. Ek dink as daar ‘n video van die petalje geneem was sou mens dit as ‘n komedie die wêreld kon instuur…. alhoewel dit op daardie stadium na oorlog gevoel het.

      Like

Gesels saam, asseblief!