Gryp die lewe

Herster het vir my gevra of ek ‘n adrenalien junkie is en hoe meer ek daaroor dink, hoe meer weet ek, ek is dit nie. My idee van adrenalienjunkies is ouens wat van brûe afspring en teen berge af ski en allerhande waaghalsige dinge doen. Ek is eerder een wat die lewe gryp.

En dis nou net mooi waaroor vanoggend se preek gegaan het. Eintlik is dit die jaartema van ons kerk vir 2018: Dat ons net een lewe het, wat ons moet lééf. Dat ons moet lewe asof ons 25 ure in ‘n dag het.

Die dominee vertel van die gesin wat ‘n prys gewen het Mauritius toe. Die ma is bekommerd oor watter verkeerde dinge hul gaan sien, dat hul vreemde kos sal moet eet, dat sy nie goed lyk in ‘n swembroek nie en wat nog alles. By Mauritius aangekom, sluit sy haar in die hotelkamer toe met ‘n boek, terwyl die pa en kinders geniet wat daar te geniete is. Sy is vies vir hulle wat hulleself so geniet, terwyl sy in die kamer lê en boeklees. Toe die week om is, is sy kwaad oor hul ‘n hele week daar was en sy niks van die plek gesien het nie.

Ons het net een lewe. En ja, almal van ons het slegte dinge in ons lewens: Daar is dalk siekte, die geld is min, ons kleinkinders word ons weerhou, die buurman is knorrig. Maar ons het die keuse om dít wat oor ons pad kom, aan te gryp, óf weg te wys. Ja, daar kom moeilike dinge oor ons pad, maar daar kom ook seëninge oor ons pad, ons moet net kies of ons daardie seëninge gaan toe-eien of nie.

So ek, Toortsie, kies die lewe. Elke minuut daarvan. En vreemd, sodra jy dit begin kies, kom daar net meer en meer geleenthede om die lewe te kies. Dis amper of die lewe lewe aantrek.

Wat kies jy? Dalk is ‘n goeie plek om te begin om nie ‘maar’ te sê nie.

Groetnis

Toortsie

25 thoughts on “Gryp die lewe

Gesels saam, asseblief!