Het jy ‘n ‘bucket list’?

Het jy ‘n emmerskoplysie? ‘n Lys van goed wat jy nog moet doen voor jy doodgaan?

Ek het nie regtig so iets nie en ek het ook nog nooit regtig dit gehad nie. Marida Steurer skryf so mooi oor ‘n sekere Afrikakultuur wat sê dat jy eintlik met jou rug na die toekoms staan, omdat dit onbekend is. Gaan lees dit gerus. Ons weet nie wat ons toekoms inhou nie, maar genadiglik kan ons dit met moed aandurf, omdat God saam met ons stap.

Ek het nie ‘n lysie van goed wat ek moet doen voor ek doodgaan nie, ek is in elk geval nie ‘n goeie lysiemaker nie. Tog gebeur dit soms dat ek ‘n wens uitspreek van iets wat ek graag sou wou doen, wat nie noodwendig gebeur nie.

Voorbeelde hiervan is my tienerwens dat ek graag in Wenen wou kom. Een dag het ek gelees van staptoere deur die Kruger Wildtuin en ek het gedink: Sjoe! Dít sal darem fantasties wees. Met my liefde vir olifante het ek ook ‘n stille begeerte gehad om op olifante te ry.

Daar was geen drang dat dit móét gebeur nie en al hierdie dinge het toevallig oor my pad gekom op die vreemdste manier, nie deur my eie, goeie beplanning nie, maar beslis deur ‘n Hoër Hand beplan wat geweet het van my wens.

Ons is op-die-ingewing-van-die-oomblik-mense. Dit beteken dat daar sommer skielik ‘n geleentheid kom, wat ons aangryp. Ek het mos ‘n wanderlust en sou ek net kon, sou ek seker permanent aan die rondrits wees.

Ek sou graag nog eendag Kenia en Malawi wou besoek as dit vir my beskore is en Suid-Amerika roep my steeds. Dan is daar die Camino. My lewe hang nie van hierdie dinge af nie en sou ek nie daarby uitkom nie, gaan dit nie saakmaak nie, ons kry soveel ánder wonderlike geleenthede wat ons wel aangryp.

Daar ís wel een baie groot ding op my lysie, dit het met mense te doen. Dis iets wat in God se hande is en Hy sal dit laat gebeur op Sy tyd.

Gryp die oomblik! Maak die beste van elke dag in die wete dat God gelukkig die toekoms ken, al ken ons dit nie.

Dankie Marida vir die inspirasie tot hierdie bloginskrywing.

Groetnis

Toortsie

15 thoughts on “Het jy ‘n ‘bucket list’?

  1. Emmerskop, kluitklap, hoe mens dit ookal wil benoem, daardie lys het ek ook nie. My dogter, Melissa, het, eie aan haar aard, wel een, en dit is ‘n kunswerk op sy eie. Kompleet met foto’s van die plekke en gebeure daarin vervat.

    Liked by 1 person

  2. Ek wou mos nog net daardie een perfekte brander op my bord uitry voordat die kluite klap… maar tot dusvêr speel nie weer of see saam nie.
    Ek het baie wense gehad…. maar dit het nooit gerealiseer nie. Dié dinge wat ek gesê het ek nooit wil doen nie… die het wel gebeur.

    Liked by 2 people

  3. Ek het ook nie ñ formele kluitklaplys nie, maar soos jy is my kop vol drome van wat ek nog graag sou wou doen. Indien nie, is dit ook reg. Soos Marida sê, ons staan met ons rug na die toekoms. Dit maak die lewe heerlik opwindend!

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!