Kameel – Die stil kind het probleme

Dis ‘n boodskap van die stil kind af;

“Hello mamma”

Dit beteken die stil kind het probleme.

“Hello L…..” antwoord ek.

“Hoe gaan dit mamma?

“Goed en met jou?” Nou gaan die bom ontplof…. jare se ondervinding het my dit al geleer.

“Ek drink vreeslik mamma.”

Ek is nie verbaas of geskok nie. Ek moes al te veel dinge in my lewe aanhoor.

“Hoekom drink jy L….?”

“Want ek is kwaad.”

Sy wil met die hele mandjie patats voor die dag kom…. dus bel ek.

Sy is kwaad maar ook huilerig.

Sewe jaar gelede is sy en haar man uitmekaar, en in die proses is sy haar twee dogters ook kwyt. Sy het by ‘n man tien jaar ouer as sy ingetrek – ‘n karakter wat ons nie self vir haar sou kies nie. Dié man het nou sy suster se sestienjarige kleinkind – wat so oud is soos die stil kind se oudste dogter – ingevat om by hulle te bly. Die tiener se huislike omstandighede is haglik; sy het haar oom gevra of sy daar kan bly om haar skoolloobbaan te voltooi. Hieroor is die stil kind woedend; dis onregverdig, sy kannie haar eie kinders grootmaak nie  maar daar word van haar verwag om ‘n anderman se kind in haar huis te verwelkom.

“En nou drink jy?” vra ek.

“Ja, ek drink dag na dag myself dronk want ek wil nie saam met daardie meisiekind in dieselfde huis wees nie.”

“Ek kan jou nie stop as jy jou pyn wil wegdrink nie, ek verstaan jou pyn baie goed (en verstaan ek dit nie!!) Maar jy het ‘n keuse hier. Of jy drink en laat jou lewe aftraande pad hardloop en kyk waar spoeg dit jou uit, of jy sien hierdie meisiekind as ‘n tweede kans wat die Here jou in die lewe gee.”

“Hoe bedoel mamma?”

“Jy kannie jou eie dogters grootmaak nie, maar voor jou staan ‘n kind uit moeilike omstandighede. Sy het ‘n ma, liefde en leiding nodig, en jy kan dit vir haar gee.

Stilte

“Die dag toe die welsyn gebel, en my vertel het van jou het ek ook voor ‘n keuse te staan gekom. Ek kon kwaad word en vra hoekom moet ek ‘n anderman se kind grootmaak en nie my eie nie? of ek kon my hart vir jou oopmaak, en vir jou ‘n huis, en liefde gee.” Ek het op die laaste keuse besluit… die res ken jy.

“Ek was baie selfsugtig, nê mamma.”

“Ja, jy was.”

“Ek sal regmaak waar ek verbrou het.”

“Ek is bly, sterkte vorentoe.”

Twee weke later gaan kuier ek en Ken, en Jay en haar man daar. Ons ontmoet die tiener; ”n pragtige meisiekind. Ek vra haar of dinge nou beter gaan in die huis. Sy knik haar kop bevestigend en lag. Sy en die stil kind is heel eie met mekaar in die kombuis. Daardie middag is die stil kind weer op haar stukke, en ons lag soos toe sy nog in die huis was. Op ‘n stadium sê die man in haar lewe dat hy vir haar gesê het hy gaan my vertel hoe vreeslik sy drink. “Ek het my ma klaar vertel, sy weet alles van my af,” antwoord die kind…. en op daardie oomblik voel alles weer so bekend.

 

35 thoughts on “Kameel – Die stil kind het probleme

    1. Dankie seegogga. Voel asof ek so lanklaas met jou gesels het. Gaan dit goed? Wanneer kom jy weer met ‘n storie soos daardie skoolseun voor die dag. Dit het spore in my hart gelos.

      Liked by 1 person

    1. Sonder Hom het ek ook my hartseer oor my kinders probeer wegdrink. Met Hom kon ek die lewe weer in die oë kyk, en aangaan met die lewe. Ja voorwaar, ons genadige God!!!

      Like

  1. Genade onbeskryflik groot. Die meiskind is op die pad gesit sodat stil kind tot insig kan kom en haar talente wat sy het kan laat uitkom. Die drinkery is so n maklike handvatsel. God se Hand is nog makliker as mens dit net wil aanvaar. Hierdie stukkie skryfwerk het nie baie woorde nie maar dit het oneindige diepte en insig veral van jou kant af. Dankie dat jy dit gedeel het. Hope liefde vir jou.

    Liked by 1 person

    1. Ek dink jy verstaan reg scrapy. Dit was net die begin… die storie loop verder. Sy het nodig om weer rigting en doel in haar lewe te vind. Sy het genoeg liefde in haar om dit mildelik uit te deel. Ek vertrou dat God vir haar ‘n pad sal oopmaak na hoër hoogtes toe.

      Like

Gesels saam, asseblief!