Eiers soos jy daarvan hou

Kameel stuur vir my ‘n whattsapp dat sy hoop ek het weer my voete gevind, my wasgoed hang op die draad en dat ek my eiers weer kan eet soos ek daarvan hou.

Ja dankie, Kameel, my voete is so gevind soos kan kom, ‘n klompie wasgoed is gewas, en die eiers, ja die eiers.

Vanoggend het ek nog nie kans gekry om eiers te bak nie en ek was juis so lus vir eiers, gebak in botter, met die wit gaar en die geel nog ietwat loperig.

Ons het ‘n vriend, Danie, wat sê dat eiers nooit verkeerd kan wees nie, en ek wil amper met hom saamsten, maar joe, ‘n blou gekookte eier gaan darem moeilik in jou keel af! Hy vertel dat sy ouma altyd vir hom twee eiers gebak het. As die eerste eier ‘n dubbeldoor was, het jy mos klaar jou twee eiers! Maar, sou die eerste eier ‘n gewone een wees en die tweede ‘n dubbeldoor, was die geluk behoorlik aan sy kant! Hy het behoorlik duimvasgehou dat die tweede eier, en nie die eerste een nie, ‘n dubbeldoor sou wees.

Ek is dankbaar dat ons by elke hotel wat ons geslaap het, soggens eiers gekry het, in enige vorm. Meestal roereiers, sommige vogtiger as die ander. 😁

Die eerste oggend het Toortsie ampertjies ‘n glibberige foutjie gemaak. Daar was ‘n eierkoker en mens moes jou eie eier kook. Toortsie se liggie het nié daar aangegaan nie! Ek neem toe vir my twee van die eiers, en gelukkig besef my man betyds dat ek met rou eiers in my bord loop. Hellooooo! 😁

Ag nou ja, ‘n eier is ‘n eier is ‘n eier, of hoe, veral ‘n vliegtuigeier wat al ‘n hele nag saamgevlieg het. Soms is dit nogals heelwat eetbaar. Soms, wel, … dis ‘n voorreg om te kan vlieg!

En as jy graag wil weet hoeveel eiers jy mag eet, is my vraag: Hoeveel eiers WIL jy eet?

Toortsie

8 thoughts on “Eiers soos jy daarvan hou

  1. Ek het so ‘n eierkook masjientjie…. maar die eiers kom gedurig blou daaruit. Dit sou nou vir jou ‘n gemors afgegee het, het jy daardie rou eier oopgekap 😁😁😁😁 Sorry, moet maar lag…

    Like

    1. Kan jy net dink! Jong dis ‘n grand besigheid. Dis ‘n houer met kookwater en dan laat sak jy die eier daarin in so ‘n siffie. Ek het op skool geleer dat eiers by seespieël korter kook as bv by julle. Wel, ek het die eier redelank laat kook en hy was steeds sag. Hoog bo seespieël is al antwoord wat ek het.

      Liked by 1 person

  2. Stadig gebak in ‘n bietjie olie (nee, Toorts, vergeet van botter – ek kan nie die reuk verdra nie), die wit net ferm, easy over vir twee sekondes en dan op my roosterbrood. Die geel kan maar so langs die kante afloop. Ek eet nie rubber nie. Welkom terug.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!