In transito

Op my oudag het ek nou sowaar geleer om te slaap op die vliegtuig. Met tyd leer jy baie dinge.

Ek het byvoorbeeld al seker 2 keer om die wêreld gevlieg voor ek geleer het dat vliegtuie eintlik so ontwerp is dat almal hul sitplekke agtertoe kan gooi en almal dan eintlik relatief gemaklik hul oë kan toemaak. Keer op keer het Toortsie flieks gekyk vir ‘n vale, boeke deurgelees, terwyl sy beknop op haar sitplek gesit het met die een voor haar se stoel platgegooi en sy wat Toortsie is, kiertsregop bly sit ter wille van die persoon agter haar.

Wel, ewe skielik sukkel ek om een fliek klaar te kyk, die res is my oë bottoe!

Wat ek julle eintlik wil vertel, is toe ons met die eerste vlug op pad terug by Parys afklim, sukkel die afklimmery vreeslik. Dit gaan stadig. Daar is amper nie beweging van mense nie.

Op ‘n stadium sê die kaptein dat hy die aflaai van passasiers gestop het, want, hoor net hier, skielik was die voorste deel van die vliegtuig leeg en was daar te veel mense in die agterkant van die vliegtuig, die vliegtuig wou tip! Gits!

Maar die vliegtuig het nie getip nie en ons het orals mooi gevlieg en nou is ons op pad huis toe op Suid-Afrikaanse bodem.

Wat ek net nie kan verstaan nie, is dat hul keer op keer vra dat mense hulle elektroniese toestelle sal afsit so voor ons land en dan sit daar sommer weerskante van my mense wat dit ignoreer! Kyk, ek voel vere vir húlle veiligheid, maar joe!, myne hang ook daarvan af!

Mooi bly!

Toortsie

15 thoughts on “In transito

  1. Daardie traak-my-nie-agtige ouens maak my wiele ook altyd lam. Dan het hul nog n antwoord terug as die waardin hul aanspreek. Ek kry maar n slaappilletjie by dr voordat ek vlieg, dis nou die elle lange vlug NZ toe. Die hiernatoe is okay maar die teen die tyd invlieg wat my net nie laat slaap as ek terug SA toe vlieg nie. Slapppil of te nie! Jy is seker nou al terug!

    Like

    1. Veilig by die huis. Ek het voorheen slaappille probeer. Dit maak my haaswakker en ek sit gefrustreerd omdat ek nie kan slaap nie. Die volgende dag vang dit my. So nee wat, ek ontspan nou maar en probeer om nie te veel te worrie nie.

      Like

  2. Toorts dat jy nou jou banting oorboord loop gooi het, en soveel gewig aangesit het dat jy die vliegtuig laat tip!!!!
    Genade, dit sou ‘n redelike “slide” uitgemaak het, het die vliegruig rêgtig getip.

    Liked by 1 person

  3. Ja nee kyk, ek het op Cars gesien van Tractor Tipping, maar Boeing/Airbus tipping neem daardie speletjie na ‘n heel nuwe vlak toe.
    Nou dat ek daaraan dink, ek wonder of hulle bang is ek tip hulle airie en dis die eintlike rede waarom ek altyd ‘n sitplek bokant die wiele of ‘n kampstoeltjie voor by die ouens met die voëltjiemis op hulle skouers kry. En hier dog ek nog altyd dit s oor my briljante en ononderbroke geselsskap!

    Like

      1. Ek besit nie eers klere wat grênd genoeg is om daar in die nosebleed stoele te mag sit nie. Nee hulle slaan letterlik vir my ‘n kampstoeltjie oop langs die vlugingeneur, of in die kombuisie. Vir balans moes ek vandag tot my ontnugtering uitvind.

        Like

          1. Jissie dis darem maar ‘n hoop geld vergeleke met ‘n gewone cattle class sitplek! Weet die lugrederye dan nie dat mense met soveel geld ook soveel meer probleme het nie, en dan gee hulle vir daai mense die staal eetgerei!

            Liked by 1 person

              1. Onverantwoordelik as jy my vra. Soos jy sê, ek voel vere vir hulle veiligheid, maar ek is nogal lief vir my eie vel, en cattle class sitplekke het geen ander airbags as daardie geles onder jou stoel wat jy self moet opblaas nie

                Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!