Oujaar in Amsterdam

So sit ons twee oues van dae die nuwe jaar en inwag in Amsterdam. Amsterdam van alle plekke!

Ons het nou al vandag gesien hoe klompe en kaas gemaak word en heerlik rondgedrentel by Volendam. Daardie klompmaker is bekwaam, hoor! Nou sit ons in die middestad en wag. En wag. En wag.

Ons was op ‘n boot op die kanale wat ons die hele stad gewys het en het die voorreg gehad om in die koninklike paleis te kon gaan rondkyk. Wat ‘n wonderlike manier om die Wit Kersfees toer af te sluit!

Ons was in ‘n hele paar kastele, indrukwekkende kastele, maar elke keer het ek gevoel of iets mis. Toe kom die koninklike paleis in Amsterdam. WOW! Daar staan hy in prag en praal, nog in volle gebruik, swierig getooi vir koninklikes en hierdie ou eenvoudige plaasmeisie uit Suid-Afrika het die voorreg om dit te aanskou!

(Hierdie het ek later bygevoeg): Ons was in ‘n pragtige ou katedraal. Eintlik het ons skuiling gesoek teen die reën en daar ingegaan. Ek was so dankbaar vir soveel nense wat daar gesit het en God se nabyheid gesoek het.

Nou sit ons hier langs die straat en kyk mense. En mense. En mense. Dit reën en is maar lekker koud. Maar die mense loop en loop en loop. Dis mense met sambrele, mense sonder sambrele en trems en fietse en karre. Waar gaan almal heen?

Nou ja, hier is seker ‘n hele klompie mense wat vanaand ‘n klapper gaan skiet, ‘n gelukkie gaan optel, hoogtes van verskillende proporsies gaan bereik, dis immers Amsterdam! Maar ons? O, wel …

Mag 2018 vir jou goed wees!

Toortsie

Mense! Dis Koud en Nat in Amsterdam! Dis koud hoor! Koud! En Nat.

22 thoughts on “Oujaar in Amsterdam

  1. Na ek gisteraand gaan kyk het na Amsterdam se immorele museums ens ens ens het ek ‘n ewige gly in die plek gekry. Ek het ‘n Hollandse vriendin wat met haar gesin na Suid Afrika toe geimmigreer het om haar kinders in ‘n land wat nog morele waardes het groot te maak. Ek dink ek verstaan nou beter hoekom sy al daardie jaaaaare gelede so ‘n drastiese stap geneem het. Geniet die laaste paar uur van die oujaar!!!

    Liked by 1 person

      1. My man het vir my vandag gelees wat die wêreld intercessors oor Amsterdam sê en waarvoor hulle bid. Ook vir my gesê by die Here is alles moontlik. Sal nog daar moet uitkom…. op die oomblik te omgekrap oor die seksuele losbandigheid. Mag seker maar vir jou sê ek is lief vir jou, en dankie dat ek in jou tas kon saam toer 😊

        Liked by 1 person

        1. Wat ek nie vertel het nie, het bietjie vergeet om te sê, was so koud en moedeloos, was toe ons afklim van die bus en dit reën, was die eerste skuiling wat ons kon vind, ‘n katedraal. Weet jy hoeveel mense het daar sit en aanbid? Wonderlik!
          En gisteraand het die daggadwelma my baie meer ontstel as die meisies in die vensters.

          Liked by 1 person

  2. Eers wat jy sê: Hoeveel mense in katedraal gebid het teenoor daardie daggadwelms en prostitute. Prostetusie is so oud soos die aarde se bestaan terwyl geloof voor die aarde se bestaan reeds daar was.(weet nie of ek Grieks praat nie) Bly jy geniet nog jou reis al reën dit en dit BAIE koud is. Voorspoed vir die nuwe jaar.

    Liked by 1 person

  3. Ons het een ou jaar/nuwe jaar in Rio de Janeiro deurgebring. Dit was n belewenis met die vodoo rituele. Ons het in hotel langs Copacabana strand tuisgegaan. Almal het strand toe gestroom om hul offers te bring. Ons is bv gewaarsku om nie uit die hotel te gaan nie omdat dit gevaarlik vir toeriste was om uit te gaan. Kersfees was ons in Sao Paolo en alles was gesluit en stil.

    Liked by 1 person

  4. Ah Nederland! ñ Stukkie van my hart het daar agter gebly nadat ek (20 jaar gelede!) vir ñ rukkie daar gewoon het. Die land van kaas en klompe en kanale en fietse en gezelligheid… Ek moet eerlik wees, ek het nog nooit die rooilig sone besoek nie, maar dit was ñ keuse. Geniet die laaste skof en alles wat mooi is vir 2018.

    Like

    1. Ons het deur die rooiliggebied gestap. Ek is al voorheen daar deur. Die dames in die vensters is nie vir my so ontstellend nie. Wat erg was, was die verskriklike gedruis, die baie mense wag die strate vol is, jy kon nie beweeg nie en ons moes die groep volg, wat amper onmoontlik was. En die daggadampe!
      My skoonseun het hier gewoon en om Nederland deur sy opgewonde oë te sien, was ‘n belewenis.
      Ek het gaan loer wat jy skryf en hou daarvan. Ek hoop jy raak sommer weer ‘n ywerige blogger! 😁

      Like

      1. Dankie vir die kompliment. Ek was voorheen meer aktief op Finesse se Voelgoed platform, maar probeer WordPress nou ‘uitfigure’. Ek is bly om te hoor dat jou seun ook ñ Nederlandse entosias is. Ag ek is nou sommer weer nostalgies.

        Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!