My tienerwens

As tiener was ek absoluut verlief op Johann Strauss se musiek, die Walskoning van Wenen. Ek het sy musiek geken, geluister, gespeel, gesing. Ek het Die Fliedermaus gaan kyk in die destydse Nico Malan Teater in Kaapstad. Ek het sy lewensverhaal verslind.

My tienerwens? Om eendag in Wenen by die Weense Operahuis te kom. Wenen se musiek het my nog altyd getrek en die Weense Filharmoniese Orkes het nog altyd ‘n spesiale plekkie in my hart.

Nooit het ek gedink dat daardie droom verwesenlik sou word nie. As volwassene was dit nie meer so ‘n groot droom dat ek spesiaal Wenen toe sou gaan nie en die wêreld is so groot met so baie plekke om te besoek.

Maar God het geweet van hierdie wens wat diep in my hart gebêre is! En Hy het nie vergeet nie.

Iewers in 2017, 40 jaar later, kom ‘n Wit Kersfees ter sprake. Ons besluit om op ‘n georganiseerde toer te gaan. En raai wat? Wenen is op die lys! Slegs een aand in Wenen, en ons arriveer ná donker, maar daar is genoeg tyd om by die Weense Operahuis verby te stap. Ons soek die ou meesters op in die Musiekhuis en ons harte roer van lekkerte en respek. Ons ‘dirigeer’ selfs die Weense Filharmoniese Orkes.

Wenen! So dankbaar! So kosbaar dat ek dit met my man en musiekkinders kon deel.

Groetnis

Toortsie

15 thoughts on “My tienerwens

  1. Ek was vandag in Wenen en het by die operahuis verby gestap 😀😀😀😀 Ek dink ek hardloop nou ‘n dag agter julle… maar sal julle seker inhaal. Bly jy kon dit beleef Toorts!!!

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!