Eer aan die tonnelbouers

Mense, vanaand eer ek die tonnelbouers van die wêreld. Hulle wat eerstens die visie gehad het om ‘n tonnel, tonnels te bou, orals in die wêreld. Hulle wat die plan geteken het onderdeur hoë berge deur, hulle wat hulle lewens gewaag het en met pikke en grawe, emmersvol dinamiet, ou toerusting, moderne toerusting, hulle wat bloed gesweet het om te grawe sodat ander mense, ons, vandag die voordeel daarvan kan geniet. Hoeveel van hulle het nooit die anderkant van die tonnel gesien nie terwyl hulle so hard daaraan gewerk het. Tonnelgrawers, padbouers, ingenieurs, ek eer julle!

Vandag is ons deur tonnels, tonnels en nogmaals tonnels, soos julle seker kan aflei uit my vorige paragraaf. Destyds, in die 1980’s, het ons gedink die Hugenotetonnel is die agtste wonder van die wêreld, en ja, ek dink steeds dis fantasties. Ek is genoeg kere met geklemde hande, buffer teen buffer, oor du Toitskloofpas om nie die tonnel te waardeer nie! Die Hugenotetonnel is ‘n kalfie teen hierdie tonnels. Regtig waar.

Ons is oor die Alpe, in die Alpe, om die Alpe, onder die Alpe, aan die voet van die Alpe, deur hom! Ja, ons beleef die Alpe!

By Innsbruck aangekom, gaan ons gou na die Ou Stad stap. Daar is ‘n gebou met ‘n goue dak. Die beplande 20 minute stap word nader aan twee ure. Daar aangekom, klaar die fantastiese geboue bekyk, besluit ons om maar terug te stap. Skielik hoor ek trompette!

Die antieke geboue maak ‘n tipe van ‘n binnehof. Op die balkon van die gouedakgebou staan ‘n kwartet van trombone en speel die mees fantastiese musiek. Sodra hul lied klaar is, antwoord ‘n volgende kwartet op ‘n volgende gebou se balkon. Dan, ‘n derde kwartet op die balkon in ‘n hoë toring. Die een lied na die ander los hulle mekaar af. Onbeskryflik mooi.

Alhoewel my lyf lieflik warm is, is my gesig so koud, ek kan later nie gemaklik praat nie!

Groete uit Oostenryk.

Toortsie

4 thoughts on “Eer aan die tonnelbouers

Gesels saam, asseblief!