Kameel – kinders is sleg vir die selfbeeld

images (2)‘n Paar weke gelede kom Jay hier aan en sê haar man sê Ryno lyk soos ek. Ryno is ons dertienjarige kleinseun op hierdie erf, en almal het al kop gekrap oor hom. Sy geaardheid is ons kunskind Kenneth s’n…. maar Kenneth aard na Ken, en Ken se bloed hardloop nie deur Ryno nie. As julle my nie kan volg nie sal ek verstaan… ons gesin is groot, en daar is vele pa’s by betrokke. “Nou hoekom sê hy so?” vra ek vir Jay. Ryno se gelaatstrekke was ook al ter sprake, en niemand kon hom tot dusvêr plaas nie. “Dit is hier oor die oë langs,” sê Jay, “mamma is plat daar met pof oë.” Wat sy seker probeer sê is dat ek nie Romeinse of is dit nou Griekse fynbesnyde gelaatstrekke het nie. Ek lewe al lank genoeg onder kinders met hulle vry sê om gekrenk te voel… maar vind ek bestudeer myself meermale in die spieël om Ryno te probeer raaksien.

Maandagaand word daar by die groothuis gebraai. Ons sit om die tafel op die stoep en gesels te lekker toe ‘n vriend van skoonseun eensklaps sê, “Ryno lyk soos tannie.” Meteens is almal stil, en alle aandag is op die vriend. “Dit is hier oor die oë langs,” verduidelik hy. “Ek het vir my ma so gesê,” haak Jay af, “maar sy wil my nie glo nie.” “Moet net nie dat Ryno dit hoor nie,” sê skoonseun, “ek sukkel al ‘n jaar om sy selfbeeld op te bou, en as hy nou moet hoor hy lyk soos sy ouma is al my werk daarmee heen.” “Ja nee,” stem Marlè saam, “geen seun wil hoor hy lyk soos sy ouma nie. Nog minder wil ‘n dogter hoor sy lyk na haar ma.”

Ek is nogsteeds lief vir my kinders.

18 thoughts on “Kameel – kinders is sleg vir die selfbeeld

  1. Gelukkig kom ek nie uit n groot familie. My skoondogter se kant is n groot uiygebreide familie. Hulle dink nie tweekeer om iemand iets toe te voeg nie. Dis vir hulle normaal, maak nie saak hoe die teenparty voel nie. Ek isbly daar is darem familie trekketussen jou en Ryno.

    Liked by 1 person

    1. Ons lag lekker vir die vry sê onder die klomp. Daar is nie nydigheid daarby betrokke nie. Dit is wanneer dit by die dieper issues van die lewe kom, en ek voel daar word met veroordeling en liefdeloosheid teenoor mekaar opgetreë dat ek kriewelig raak, en dinge fyn begin dophou. Ek deel gou hierdie stukkie met jou; Marlé is ousus, presies en baie deeglik en vir haar hande staan niks verkeerd nie. Daar kom ook nie sommer ‘n growwe woord oor haar lippe nie. Jay is meer relaxed, ‘n juffrou in murg en been maar nie baie goed met handewerk nie. Verlede week kom Jay hier aan met ‘n stapeltjie klere wat aandag nodig het. Sy gaan werk op Marlé se naaimasjien. Op ‘n stadium stap Marlé in, inspekteer Jay se werk en sê “Jy werk soos jou gat, trek los en doen dit oor.” Toe Jay hier inkom en dit vir my en Ken vertel kon ons nie ophou lag nie. Soos skoonseun tereg sê ons is ‘n familie waaroor ‘n sepie gemaak kan word, maar ons is close.”

      Like

      1. Dis te oulik. Regte juffrou perfek. Dis heerlik as die gevoel so “close” is vir mekaar. Ons drie susters kan nogal neidig op mekaar wees wat my baie hartseer maak met tye. Ek het altyd maar in die middel gesit tussen al die modder wat rongslinger is. Op ou end trek ek my dit aan en hul het lankal vergeet van die onderonsies. Gelukkig het ek op oomblik n paar vriendinne hier gemaak wat baie vir my beteken. Ek is ook maar die oorsaak van my eie gevoel want ek praat mos nie sommer uit my hart uit om ander nie te na te kom nie. Jy moet nHeerlike Kersfees hê. Ek gaan rustig alleen die tyd deurbring die jaar. Geen vriende of familie naby nie! Heel salig.

        Liked by 1 person

        1. Ai scrapy, en hier bars ons uit ons nate. Vir die eerste keer in lang tyd is al ses ons kinders en hulle families weer ‘n kersfees saam. Ons is 16 grootmense, 6 tieners, 5 laerskool en 3 voorskool kinders, en 2 babas. 32 in getal. Dit het gisteraand so lawaai in die swembad…. ek kry die bure jammer. Jy moet jou kersfees geniet, en goed uitrus vir die nuwe jaar. God se rykste seën vir jou vir jaar wat voorlê.

          Like

Gesels saam, asseblief!