Kameel – Watwou rustig in ‘n hospitaal

IMG-20171215-WA0012-1Sondagmiddag sit ek heerlik en lag vir my skoonsus wat vertel hoe sy as onskuldige jong verpleegster ‘n ou oom ‘n bedbad moes gee. Die gesprek tussen die twee was skreeusnaaks. Die volgende dag lag ek nie meer nie; ek beland oornag in I.C.U met ‘n hartklop van 150. Al het my liggaam nooit die marathon gehardloop nie, het my hart homself oortref deur vyf na mekaar te hardloop. Dit uit die mond van my dokter.

Half verkluim lê ek in die hospitaalbed met pype, en alle kleure drade, en ‘n drip wat elke kort-kort “ping-ping” maak, omrede ek my arm per ongeluk buig. Dan kom maak die vriendelike verpleegster reg wat ek verbrou het. Hoekom moet I.C.U so koud wees wil ek weet, en vra nog komberse. Die stapel komberse help net mooi niks, dus begin ek maar met die kussing baklei wat nie my “memory pillow,” is nie. My “memory pillow” en ek is onafskeidbaar; waar ek reis, reis hy saam. Na ‘n hewige bakleiery met ‘n kussing wat net nie wil vorm aanneem soos ek hom wil hê nie, probeer ek die bed manipuleer deur knoppies te druk wat hom in allerhande posisies plaas. Om gemaklik in ‘n hospitaalbed te lê blyk ‘n onbegonne taak te wees, dus gee ek vir eers moed op en konsentreer op die geluide om my. Masjiene druis, en suis en een spesifieke een maak aanmekaar kliiiiing, tiing, kliiiiing, tiing.

I.C.U is nie ‘n stil, rustige plek nie; inteendeel dit is ‘n miernes van bedrywigheid, en klanke. Daar is oral staf aan die werfskaf, en die spesifieke verpleegster wat oor jou aangestel is, sit voor jou bed en maak aantekeninge op ‘n groooooot stuk papier waarin elkeen wat jou bed nader baie belangstel. En toe begin my blaas sy nonsens. Ek vra om losgekoppel te word sodat ek badkamer toe kan gaan, maar word vertel ‘n bedpan is my voorland. Ek vra naderhand nederig om verskoning aan die verpleegster wat so vriendelik bedpanne bly aandra. Die narkotiseur kom; kyk so oor sy bril vir my en vra of ek gereed is. “Nee” sê ek, “ek soek eers ‘n bedpan.” Ewe gedweë draai die narkotiseur, en die hartspesialis – wat op sy hakke gevolg het – om, en gaan staan buite die gordyn.

Masjiene word langs my bed ingestoot. Die narkotiseur sê ek moet my mond groot oopmaak, en waarsku my dat die goed wat hy gaan spuit na vrot bananas en wat nog proe. Voordat ek “argghh” kan sê laat hy my op my linkersy draai, sit sy been agter my rug, spuit iets in ‘n pyp, en weg is ek. Wat ‘n salige slaap; hulle kon my gerus langer laat slaap het, maar nee ek word wakker gemaak, en vertel dat my hart in sy normale ritme in geskok is. Daar het ‘n lang nag voor my gelê, maar ek het dit nie toe geweet nie, anders sou ek die narkotiseur vir meer van sy “muti” gevra het.

Die aand het begin met ‘n bedbad. Een wat ek aanvanklik nie wou hê nie, maar voor ‘n keuse gestel is van “of nou… of vier uur moreoggend.” My lyf is met spesiale room ingesmeer, en ek kon myself sowaar met ‘n baba vereenselwig. Die nag was ‘n herhaling van die dag se gesukkel om myself warm te kry, ‘n gestoei met twee kussings (ja, en het sowaar vir nog een gevra) en die bedpan. Slaap was onmoontlik; net die lig bokant jou bed word afgeskakel, maar voor jou brand al die ligte helder. “Nee hulle kan nie die gordyn toetrek nie, die verpleegster moet ten alle tye vanaf haar posisie my masjien kan dophou.” Die geraas van die dag het definitief in “volume” toegeneem. Die masjiene steun en kreun lustig voort. Stemme klink harder, en trek verder, stoele skraap oor die vloer, en hier en daar snork iemand wat definitief ‘n slaappil in het.

Dit is drie uur die oggend toe ek uit skone moedeloosheid ‘n kussing oor my kop trek (suurstofpyp of te nie) en uiteindelik donkerte en rus vind. Wat is die slaap ‘n wondersoete ding… al was dit ook net vir ‘n uur en ‘n half.

 

Advertisements

27 thoughts on “Kameel – Watwou rustig in ‘n hospitaal

  1. Sterkte vir jou! Sjoe! Hul jan darem lawaaierig wees in’n hospitaal en net mooi wanneer jy uiteindelik asn die slaap is, storm daar weer een in om jou onnodiglik wakker te maak. Ek verstaan dit nie altyd nie. Vir wat? Jy pla mos niemand nie!

    Liked by 1 person

    1. Dankie Toorts. Weet noe hoekom ek gedink het I.C.U sal anders wees nie…. maar daar gaan dit eers erg. Hospitaal definitief nie ‘n plek om te ontspan nie. Wanneer vlieg julle?

      Liked by 1 person

  2. Mapstieks, ek het gister al jou ICU storie gelees en nog nie tyd gehad om te antw nie. Voel jy darem weer dat jouse ou hart se ritme weer terug is? Was seker maar n groot skrik so skielik. Daardie lawaai het my ook tot raserny gedryf. Teo ek bykom na my rugoprasie en alles raas en remoer vir die vale het ek vir die spul gesê: “As jul nie nou ophou raas nie vat ek my goed en gaan huistoe.”In Pretoria Oos hospitaal en my huis was in Potgietersrus. Tina hetmy nog soontoe gevat die vorige dag. Weet nie hoe ek sou uitkom na die hengse operasie nie. Ag, ou mater, sterk staan daardie kant. Ek is bly jy is darem weertuis ook.

    Liked by 2 people

    1. Dan was jy sommer hier om die draai van ons. Kon vir jou gaan kuier het, het ek jou toe geken 😊 Hoekom ek gedink het dit gaan rustiger in I.C.U as in die sale van ‘n hospitaal, weet ek nie…. maar nou weet ek beter. Ook dat dit so koud moet wees omdat kieme nie in koue lewe nie. Voel beter, dankie scrapy….. net omgekrap oor die Warferin wat ek nou moet gebruik. Dit beteken alewige bloedtoetse. Glo ek sal vrede kry maar stoei op oomblik nog daarteen. Mooi bly in die poskaart!!! Hoe gaan dit met planne wat jy in pyplyn gehad het?

      Like

      1. Ja, die ouens sal seker maar beter weet. Is logies dat kieme gaan koud kry en nie vermeerder nie. Jong daardie planne het in n mate eers dood gegaan en weer opgeflikker en nou dink ek gaan die beslis nie meer gebeur nie. Ek het aansoek gedoen vir bibliotekaresse by skool waar ek is. Net 12 ure per week. Het dit nie gekry nie- so my inkomste bly nog maar skraps. Die ander groot een was dat ek saam met kinders op n plasie sou gaan bly. Ongelukkig was die blyplekkie nie goedgekeur deur Munisipaliteit nie en dit was te veel herstelwerk om te doen. (eintlik bly dit werk nie want dit was n situasie wat ek nie hier kan bespreek nie) Net bly dat die saak stelselmatig dood geloop het. Wys net die regte ing op die regte tyd nê. Hope liefde vir jou en bly maar rustig. Alles sal regkom.

        Liked by 1 person

    1. Jaaaaà!!! Ek huppel nie, maar is nou gemotiveer om te doen wat my kinders my jare al soebat om te doen….. begin stap.. Kort entjies op ‘n slag…. maar beter as niks. Jy ok?

      Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s