Toortsie maak skandes!

Ek het julle gesê Toortsie moes eerder by die huis gebly het, maar julle wou mos nie hoor nie!

Toortsie het mos ‘n ou probleempie. Die wasters in haar oogkraantjies sluit nie meer so dig nie, en op die onmoontlikste tye begin die kraantjies lek. Die oogkraantjies, bedoel ek.

Nou ja, vanaand, of was dit al weer gisteraand, dis 12 oor 12, sien ek, was dit toe die eerste vertoning van Capital Singers Jingle All the Way.

Ai tog, Liezel het so mooi gebid voor ons op die verhoog gaan dat ons mooi sal sing en tog nie huil nie, maar toe die gordyn lig en Toortsie sien al die mense, toe trek haar keel toe en die oogkraantjies se wasters lek. Gelukkig net ‘n rukkie, maar wie tjank nou op ‘n verhoog terwyl die saal vol mense sit? Skande op die huis!

Weet julle, né, die verhoog staan vol gestapel met sangers en die orkes en dirigent en Corlia, omtrent 683 van ons, en daar waar die verhoog stop, begin die gehoor, blykbaar 1380 mense, dit lyk soos ‘n see van mense. Golwe vol mense. Kan julle julle indink hoe dit klink as al daardie 2063 mense as my somme reg is, mens maak nie hierdie tyd van die aand meer somme nie, almal saam, uit volle bors, ‘Kom alle getroues‘ sing, terwyl ‘n simfonie-orkes die begeleiding doen? Nee, ek dink nie julle kan julle indink nie en as ek julle vertel, gaan julle my in elk geval nie glo nie! Al wat ek weet, oogwasters werk nie sulke tye nie, in elk geval nie by die Toortsie nie!

En, terloops, as jy nog sou wou kom luister, maar jy het nie ‘n kaartjie nie, is jy klaar te laat, daar was nog net een plek oor en hy is seker ook al opgeraap. Ek hét julle gewaarsku!

Al wat ek wil sê is, behalwe vir die trane, was daar nog ‘n skande! Toortsie se woorde het opgeraak! Dit was só fantasties, ongelooflik, uit ‘n ander wêreld, hemels, Toortsie het nie woorde gehad om dit te beskryf nie, so julle kan net dink!

Groetnis

Ursula

Foto geleen by Capital Singers se Facebook blad.

#capitalsingers

35 thoughts on “Toortsie maak skandes!

  1. Wat ‘n wonderlike belewenis Toorts. Jy mag maar huil….. dit moes na so ‘n stukkie uit die hemel gelyk en voel het. Lekker sing tot die huis….. mmmmm….. ‘n ander plek jou roep. 😊

    Liked by 1 person

      1. Jy het jou heel goed gedra by Blue Crane!!! Ek was bang ons word daar uitgeskop en dan mag ek nie weer daar langs die water gaan sit nie. Dankie dat jy jouself so mooi ingehou het 😁😁😁😁😉

        Like

  2. Die hewigste emosie wat ek nog ooit ervaar het tydens ‘n Capitals optrede, was die finale aand en finale lied by Fantasia. Duisende liggies het by die gehoor begin beweeg, en toe val die koor sommer ook in met hulle eie! Dit was ver by aandoenlik verby, en dit terwyl ons When you wish upon a star sing…

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!