As jy musikaal is

Dirkie skryf van die oulike dogtertjie wat voor haar in die kerk gesit het, doodstil. Sy, en haar pop, het hulle gedra. Niemand het met mekaar gepraat nie. Toe die musiek egter begin speel, begin sy dirigeer. Perfek. Op maat van die musiek. ❤️

As jy musikaal is, is jy musikaal.

Ander goed seker ook. As jy sportief is, is jy sportief. As jy syfervaardig is, ís jy syfervaardig. Kleintyd al.

My dogtertjie was nog baie klein, sou sy drie jaar oud wees? Ons het Holiday on Ice in die Kaap gaan kyk, ons en my broer-hulle en hulle dogter. Die niggie, nie musikaal nie, maar met baie ander talente, het by liedjie nommer 2 al verveeld geraak. Die aand het vir haar ekstra lank geraak. Gelukkig het ons redelik agter gesit en was daar ‘n bietjie ‘spasie’.

Ons dogter het daardie aand vir my baie meer openbaar as wat sy ooit sou weet. Sy was van die eerste oomblik af ‘in die musiek’ . Haar lyfie het reageer op die musiek, soos net ‘n mysieklyfie kan reageer daarop. Sy het redelik stil gesit, maar die lyfie het saamgedans, beweeg, presies in tyd, in ritme. Onopgesmuk. Niks oordadig nie. Nie ‘afshowerig’ nie. Natuurlik. Vanself. Sy was vasgevang in die vertoning tot die heel laaste noot.

Daardie aand het hierdie moederhart geweet wat sy moes weet, wou weet. Daardie aand het my in my besluit gehelp dat ek vir haar, binne my vermoë, die hekke sou oopmaak, dat, sou sy ooit in so ‘n rigting wou gaan, die fondamente reg gelê sou wees. Sou sy iets anders kies, sou dit ook reg wees.

Vandag kyk ek met ‘n dankbare hart terug. My gewaarwording was nie verkeerd nie.

Groetnis

Toortsie

10 thoughts on “As jy musikaal is

Gesels saam, asseblief!