Watter tyd is die beste?

Strooimeisie het my nou geïnspireer tot hierdie bloginskrywing. Sy sê, middeljare is nie vir sissies nie, en terloops, sy is in haar dertigs. So, my goeie nuus aan haar is dat die middeljare eers op 40 begin. En deesdae, selfs later. 😁 Ons gaan mos almal 100 word, of hoe? En indien nie, so what!

Dit het destyds ‘n geweldige indruk op my gemaak. Mense het glo dit erg traumaties ervaar toe hulle 40 bereik. By 50 was hulle in trane, nie van blydskap, maar eerder van hartseer of skok of wat ook al, omdat hulle lewe verby is. Ek kon dit nog nooit verstaan nie. Tannie Mags het seker net ‘n te groot invloed op my gehad. Tot met haar dood, was elke verjaarsdag ‘n geskenk van die Here, en was sy trots op haar ouderdom.

Op 55 is ek ook al deur ‘n paar tydperke in my lewe. Ek was ook ‘n verdwaalde tiener, het laat-adolesensie beleef in my laat tienerjare, het die lewe gegryp in my twintigs, het oor my lewe gewonder in my dertigs. Waarmee was ek besig? Sou ek net saam met die golwe op en af dryf, of wou ek meer van die lewe hê? Dit voel of die veertigers amper die kersie op die koek was, waar ek dit wat ek in my dertigs begin het, kon verbeter.

Toe kom die vyftigerjare. Wat ‘n fees! My kinders is uit die huis, versorg, gaan aan met hulle lewe, en ek het die voorreg om nog jonk genoeg te wees om baie dinge te beleef. Natuurlik speel my ou lyf baie keer nie meer saam nie, ek het groot beperkinge, maar dit wat my liggaam, my omstandighede, my wil, en nog ander faktore my toelaat om te doen, doen ek voluit, want ek besef dat elke dag ‘n geskenk van die Here is.

My tydgleuf om sekere dinge te doen, raak kleiner. Binnekort sal ek dalk nie meer kan nie. En wanneer daardie dag kom, is dit ook reg so, want ek het, terwyl ek kon, gedoen wat my toegelaat was om te doen.

Ek is nie spyt dat ek in my jongdae sekere goed opgeoffer het ter wille van my gesin nie, ek het ook in daardie jare my lewe voluit geleef vir hulle en dít is ‘n heerlike gevoel.

My raad aan jongmense? Gryp elke dag. Maak die beste daarvan. Doen wat jy kan, maar nooit ten koste van jouself of ander mense nie. Onthou dat ons keuses het en elke keuse het ‘n gevolg. Ons is verantwoordelik vir ons keuses.

Bou aan jouself. Doen kursusse. Verbeter jouself. Spandeer tyd saam met God. Lees jou Bybel en dink daaroor, elke liewe dag van jou lewe. Leef voluit. En wanneer jy ouer raak, sal jy ook dít geniet omdat jy in jou jongdae voluit geleef het.

Onthou, gister is verby, môre is onseker, vandag is wat jy het, ‘n present.

Groetnis

Toortsie

Advertisements

About Toortsie

'n Flitsliggie wat oral inskyn, ook waar dit soms ongemaklik is... A Toortsie is a small flashlight, like a torch.
This entry was posted in Die lewe and tagged , , . Bookmark the permalink.

17 Responses to Watter tyd is die beste?

  1. Kameel sê:

    Ek het gedink sestig is stokhoring oud. Dan kom mens daar en vind jy voel nog ene “spring chicken”, en glo jy is tot alles in staat…. maar die liggaam sê aikôna. Lewe, sien lewe, en laat lewe…. as jy weer kyk is dit verby.

    Liked by 1 person

  2. Jip, ek stem saam – dis nou.

    Liked by 1 person

  3. Bravo – ek voel netso, ek het ook net geglimlag oor die middeljarige in haar 30’s. Ouderdom is glad nie so traumaties as wat mens se kop dit wil maak nie, vir my is dit beslis ook bevrydend want elke jaar skerp ek net my eie mensekennis ‘n bietjie meer op om nie dalk ‘n 2de of 3de keer in dieselfde slaggat te trap nie…

    Liked by 1 person

  4. Ver anderkant die meeste dekades, glimlag ek meewarig oor die Angst van die bloedjong bloggers. Carpe Diem!

    Liked by 1 person

  5. travel460 sê:

    Al gaan dit soms baie rof in my lewe, voel my lewe vandag, nou, tog maar die beste tot dusver. Ek sien uit daarna om ouer te word, en wil regtig nie weer jonger wees nie. Wonder of dit sin maak.

    Liked by 1 person

  6. seegogga sê:

    Ek h eers gesê”Due lewe begin op 40″ Toe “op 50″. En daarna” op 60″.En hopelik oor 3 jr” op 70″. Dit viel my daar is di baie lrkjer goed wat rk nig wil doen!. Ma js daar is ook gioed wat ek sl afgeskryf hetbv om met fiets v johsnnesburgaf Kasp toe te ry, Kilemanjaro klim…

    Like

    • Toortsie sê:

      Ja. Ek geniet ook die tyd waaron ek is. Die nou. Ek het ook al ‘n paar goedjies afgeskryf, soos die Comrades en B Mus. En dis ook okay, daar is ander goed wat ek eerder nou wil doen.

      Like

  7. Pragtig, julle klomp is so positief. Dis lekker om dit te lees. Dis maar net die lyf wat nie al die dinge meer so lekker kan doen nie.

    Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s