Kameel – Die plot, Sara….. en

Lê-jou-eier: Vertel ‘n spookstorie

Timothy was nege maande oud, en ek swanger met die verlore seun toe ek en Andrè (my eks) na ‘n plot – ‘n paar kilometer anderkant die Sterkkfontein Hospitaal – toe trek. Andrè was in sy noppies, en het sommer dadelik ‘n koei gaan koop vir die koeistal, en ek het gehou van die agterstoep wat met gaasdraad toegemaak was; dit het my aan die grootouers se plaas laat dink.

Saam met die plot het ons ook vir Sara gekry.  Die ou tannie aan wie die plot behoort het, het vertel dat Sara nie op haar ouderdom weggestuur kan word nie, en dat sy vir ‘n blyplek, ‘n bord kos, en so ‘n ietsie ‘n maand sal aanbly om die koolstoof aan die gang te hou, en peuselwerkies in die huis te doen. Van ‘n koolstoof het ek niks geweet nie, en was dus bly dat ek ‘n Sara op die koop toe gekry het. Die feit dat sy nie aldag by haar volle verstand was nie, het my ook nie gepla nie. Die tannie het vertel sy is onskadelik. As jong vrou was sy vir jare in Sterkfontein hospitaal, maar vanaf haar ontslag daar, het sy al die jare op die plot gebly

Daar was egter ‘n slang in die gras. Die hoofslaapkamer het my van dag een af koue rillings gegee, dus het ek dit die babakamer gemaak, maar Timothy se kot na ons kamer toe geskuif. Vroeg in die oggend – voordat Andrè gaan werk – het ek vinnig die nodige goed uit die babakamer gaan haal, en nie weer my voete daarin gesit totdat Andrè by die huis gekom het nie. Die toegemaakte stoep met sy divan, het my “safe haven,” geword, en dit is waar ek my dae deurgebring het .

Sara – oud en geplooid het toe nie soos ek gehoop het vir my ‘n moederfiguur geword nie – inteendeel, sy was my vyandiggesind. Elke oggend wanneer sy verby my stap het haar kraalogies my vol haat aangegluur, en dan het sy n kekkellaggie gegee en onverstaanbare dinge geprewel.

Die tyd het aangestap en ek het al onrustiger geraak…. of beter gestel bang.  Die huis en Sara was my nie goedgesind nie, en ek het dit nie meer binne die huis gewaag sonder Andrè nie. Sy teenwoordigheid was net nog ‘n asem in die huis, maar dit het nie die koue wat vanaf die babakamer dwarsdeur die huis getrek het, weggeneem nie.  In die aande het ek vinnig by kerslig in die pootjiesbad gespring, en met bonsende hart gebad, terwyl dit voel asof oë my vanuit die mure beloer.  Andrè kon my bangheid nie verstaan nie, en het gesê ek trek my Sara se gedrag te veel aan.

Een aand kom kuier Deslyn en haar man by ons. Ek het al vertel hoe ek en sy nagte kon deurgesels, maar daardie aand wil die geselsskap nie vlot nie.  Sy bly oor haar skouer loer en sê later, “It’s creepy here, it feels as if someone is watching me.”  Ek stem heelhartig saam en konfronteer Andrè daarmee, maar die mans lag dit af as vrouegrille.

Nie lank daarna nie verbreek Sara haar daaglikse kekkellag en geprewel, en kom voor my tot stilstand.  Met ‘n bewende krom vinger wys sy na my en sê, “Vir jou gaan hulle kry; hulle gaan jou doodmaak en afslag, en jou vel teen die muur oopspalk  “Wie gaan dit doen?” vra ek verdwaas.  “Wag maar, hulle gaan kom,” en met die woorde verdwyn sy al prewelend deur die kombuisdeur.  Daardie dag klou ek nog stywer aan Timothy, die divan en die gaasdraadstoep vas.  Die aand vertel ek dit vir Andrè, maar hy lag dit af met, “Jy weet wat die ou tannie gesê het, haar kop is nie lekker nie.”

Van daardie oggend af dreig Sara my elke dag met dieselfde woorde, en ek raak by die dag banger, en Andrè meer hardhorig.  Een nag word ek wakker van die plankvloer se gekraak in die gang.  Dit is te donker om enigiets te sien, maar ek kan duidelik aanvoel hoe iemand die kamer binneloop, verby die bed beweeg en voor die kot tot stilstand kom.  “Wat makeer?” vra ek, menende dit is Andrè wat by die kot staan.   Die onheilspellende stilte wat my begroet laat my na Andrè se plek langs my reik. Toe my hand sy warm liggaam aanraak, gil ek kliphard.   Hy kom vervaard orent, “Wat gaan aan,” wil hy weet.  “Steek aan die kers,” snik ek, “daar is iemand in die kamer.”  Hy vroetel met die vuurhoutjies, maar in die lig van die kers blyk alles rustig te wees. “Jy het jou verbeel,” sê Andrè, maar loop deur die huis om my tevrede te stel. “Slaap nou”, sê hy toe hy terugklim in die bed, en met die woorde blaas hy die kers dood.

In die donker lê ek en luister na Andrè se rustige asemhaling. Net toe ek begin insluimer kraak die gangvloer weer, en iemand loop die kamer binne. Soos voorheen beweeg ‘n teenwoordigheid verby die bed, en kom voor die kot tot stilstan.  “STEEK AAN DIE KERS,” gil ek, en weer loop Andrè deur die huis, en moet ek hoor dit is my verbeelding.  Hierdie keer weier ek volstrek dat hy die kers doodblaas, en ‘n kers bly brand vir al die daaropvolgende nagte. Met my volgende doktersondersoek kom daar uiteindelik vir my uitkoms. Die dokter vind my oorspanne, en daar is tekens van ‘n dreigende miskraam. Hy spreek Andrè daaroor aan, en raai hom aan om ‘n ander blyplek te kry.

Oppad terug plot toe is Andrè stil. Dit is duidelik dat hy nie die plot wil opgee nie, en redeneer toe soos volg. Ek is bang vir die huis omrede alles so groen en donker is. As ek nou vir die vier maande van die duur van my swangerskap by sy ouers intrek, sal hy en sy twee broers op die plot gaan bly, en alles spierwit uitverf. Die ligte huis gaan ‘n heel ander atmosfeer skep, en ons gaan heerlik daar bly. Net om van die plot af te kom is vir my genoeg, en ek val gretig in by sy plan. Dieselfde dag trek ek by my skoonouers in, en sy broers vat die pad plot toe.  Vir die eerste keer in maande slaap ek rustig, en my dae voel nie soos een uitgerekte nagmerrie nie.

Een aand word almal in die huis wakker van ‘n gehamer teen die voordeur.  My skoonpa gaan maak die deur oop en daar voor hom staan sy drie seuns nog in hulle nagklere, en met oë so groot soos pierings gerek. Spierwit geskrik vertel hulle die storie van die aand op die plot.

Andrè was moeg en het vroeg gaan inkruip. ‘n Uur of wat later skrik hy wakker van ‘n geraas in die huis:  “Fanie en Nico!” roep hy, “kom tot rus, ek kannie slaap as julle so rondloop nie.”  “Ons is in die bed!” kom die antwoord vanaf die babakamer, “ons dog dit is jy wat opgestaan het!” Andrè reken dit is sy broers wat besig is met hulle streke, draai om en raak weer aan die slaap. Skaars aan die slaap of hy word weer wakker van ‘n geraas.  Nou is hy kwaad en verhef sy stem “Kry einde daar in die kombuis, en gaan slaap!!” “Ons is in die bed!” kom die antwoord vanaf die babakamer.  Weer raak Andrè aan die slaap, maar word net voor twaalf wakker van ‘n vreeslike rumoer in die kombuis.  Hy vlieg uit die bed uit om sy broers te gaan regsien, en loop homself vas in diè twee wat uit hulle kamer gestorm kom.  In die donker staan die drie in die gang en luister na die lawaai in die kombuis. Uiteindelik kry hulle ‘n kers aangesteek, en stap kombuis toe.  Die kombuis is nou rustig, maar daar is ‘n atmosfeer daar wat hulle hare laat rys.  Sonder ‘n tweede uitnodiging gryp Andrè sy motorsleutels, en die drie laat spaander vir die kar.

Dit was dan ook die einde van die plot.

Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

 

Advertisements
This entry was posted in 'In opdrag..... Bookmark the permalink.

33 Responses to Kameel – Die plot, Sara….. en

  1. travel460 sê:

    Dit is wat ek noem ñ ordentlike spookstorie! Kry skoon hoendervleis terwyl ek lees.

    Liked by 1 person

  2. Kameel, jy laat my worrie. Ek is nog bietjie verdeeld oor die feit of ek aan spoke glo of nie, maar jou storie laat my koue riliings kry.

    Liked by 1 person

  3. seegogga sê:

    Dis darem nou n propperse spookstorie!

    Liked by 1 person

    • Kameel sê:

      Het as kind lekker na my oupa hulle se spookstories geluister. Groot verskil as jy self een beleef. My ma sou so ewe daarna sê ek moes net ‘n perdeskoen voor die deur gehang het.

      Like

  4. Welgedaan… lekker storie

    Like

  5. Sjoe, sit ek nou hier met koue rillings so vroeg in die oggend.

    Liked by 1 person

  6. Sjoe Kameel hierdie is ‘n woeste storie,. Verstaan nou hoekom my storie vir jou so globaar was, maar dit was ‘n mede gids. So iets soos jy hier beskryf het ek nog nie beleef nie

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s