As jy dit nie vir geld doen nie.

Hulle is besig om aan die Finesse webwerf te werk en ek weet glad nie wat van die blogs geword het nie. Dit is wel nog iewers daar, en ek glo dit sal weer verskyn. Hierdie is my bloginskrywing vir Finesse Voelgoed blogs vir hierdie week, ek deel dit graag.

Hier het ek nou sowaar ‘n tweede boek uitgegee, weer eens op my eie en nie deur ‘n publiseerder nie. Hoekom doen ek dit aan myself? Hoekom sit ek my weer deur al die spanning? Wat is daarin vir my?

Wat ek wel weet, is dat daar nie regtig geld in is nie, ek verkoop genoeg om my koste te dek, maar ek sal nou nie skatryk raak met my boeke nie. Hoekom doen ek dit dan?

Dis omtrent agt jaar gelede wat ek, bang en vreemd, begin het met my eerste blog. Wíé dink ek is ek? Dis bekende mense, groot name, wat blogs het en boeke skryf, en ek. Ek besef al hoe meer dat dit egter al voor my bloggery begin het. Die skrywery het begin omdat ek gesukkel het om te fokus as ek bid en ek myself probeer help het deur ‘n A4-bladsy per dag te skryf vir God. Mettertyd het ek gegroei in selfbeeld, het my skryfvaardighede ontwikkel en die meeste van alles het ek as mens geweldig gegroei en dít het geen geldwaarde nie.

Deur die groot sprong te waag en ‘n boek uit te gee, het ek só ver buite my gemaksone beweeg en in die proses daarvan nuwe vaardighede aangeleer en dinge omtrent myself ontdek waarvan ek nooit geweet het nie. Ek moes leer om moeilike situasies te hanteer, planne te maak en myself dwing om dieper te delf op plekke waar ek dit voorheen nooit eers sou waag nie.

Dan praat ek nie eers van geloofsgroei nie. ‘n Mens kan regtig nie so ‘n uitdaging aanpak sonder die Here aan jou sy en sonder Sy goedkeuring nie. Hierdie is ‘n pad wat ek in geloof loop en keer op keer sien ek net Sy hand en beskerming, wat fantasties is.

Wat ‘n reis!

My uitdaging aan jou is: Waag daardie eerste tree! Doen dit! Jy sal regtig nie spyt wees nie. Doen daardie ding wat jy nog altyd graag wou doen, dit is die moeite werd.

Toortsie

English Blog Posts

Toortsie se Bantingboerekosboek Facebook page

Toortsie se  Facebook page

Toortsie by Pinterest

Plaasakkomodasie by Riversdal, Wes-Kaap

 

28 thoughts on “As jy dit nie vir geld doen nie.

        1. Gerda Bruinette, wat eers by die blogs was, het altyd gesê ons moet net skryf, en nie worrie nie.
          Tog voel dit of ek effens anders skryf by Finesse as hier. Hier is ek tussen my pelle en skryf sommer enige ding, dit voel of ek daar mooi moet dink, dis nie my eie webwerf nie. Ek geniet dit daar ook!

          Like

  1. Ek staan ook op die vooraand van my eerste boek, maar daar was eers ‘n klomp blocking boards wat ek vir die hekeltannies van Nelspruit, Randburg en Rustenburg moes maak.
    Terwyl ek laas Saterdag staan en die miljuisende gaatjies boor, dink ek ook by myself. Hoekom doen ek dit aan myself. Dit is nie asof ek enigsins gaan geld verdien hieruit nie. Verbeel jou my skok toe ek myself hard en duidelik hoor antwoord: Want jy kan en dit is vir jou lekker.
    So daar het jy dit nou.

    Liked by 2 people

      1. Die boek hou verband met my werk, amper is soos die “…for dummies” reeks, en dit word vergesel deur 6 werkswinkels wat tesame met die boek landwyd aangebied gaan word.

        Liked by 1 person

  2. Ek het na die bokse op n foto gekyk toe jy jou boek laat druk het en het nogal gewonder of jy dit self laat druk het. Die boek wat ek ingeskryf het vir ‘n kompetisie wil ek ook laat proeflees en druk sommer self as dit nie die paal haal nie. Sal by jou kom aanklop vir raad. Sterkte met jou boek en ek hoop jy verkoop sommer duisende.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!