Kameel – te veel woorde

keywords-letters-2041816_1920

Dié, dat ‘n man nie van geborduurde vertellinge hou nie is sommer simpel. Sou Ken my vertel iemand het sopas oupa geword wil ek weet wanneer, waar, hoe en die naam van die nuweling. “Ek het nie gevra nie”, antwoord hy, en los my netso in die lug. Dit voel so onvoltooid!!!! Sou ek weer vir hom iets vertel sê hy kort voor lank ek moet nie Kaaplangs praat nie, maar my sê, sê. Nou kan ek nie anders as om vir André (my.eks) jammer te voel wat so gedweë lê en luister het, terwyl ek.vir hom ‘n storieboek voorgelees het nie. Of miskien het hy net gemaak of hy luister.

Wat ek nie verwag het nie is dat die manneding van “sê jou sê, en kry klaar”, al in kindertyd begin. Joshua, ons tienjarige kleinseun kom leer in die middae by my. Gister kom hy hier aan en is heel verbaas om my in my japon op die bed te sien lê. “Hoekom is ouma nog in ouma se pajamas”, wil hy weet. Ek tipies vrou, vertel hom van sy ma wat eers twaalfuur my hare kom kleur het, en wat alles daarna gebeur het om my dag so omvêr te gooi. Ek sluit my relaas af met die woorde dat ek nou so lekker lê en ontspan en nie lus is vir aantrek nie. Met sy kop rustend op sy hand het hy heel aandagtig (of so het ek gedink) na my sit en luister. Toe ek klaar is met my storie vra hy hoekom het ek so baie woorde gebruik. “Hoe bedoel jy nou?” wil ek weet. “Al wat ouma hoef te gesê het was”, en hy begin op sy vingers aftel, “EK…IS…NIE….LUS….NIE!!” Met sy blou oë kyk hy my heel ernstig aan. “Daardie vyf woorde is al wat ek wou hoor”.

Hoekom voel ek so in die bek geruk?

 

19 thoughts on “Kameel – te veel woorde

  1. Haha, ek is nou histeries aan die giggel. Die kleingoed raak glads te kontant en sit ons mooi op ons plek. Maar ernstig nou, my man vertel ‘n storie van begin tot einde, lekker geborduur en knope aangewerk terwyl ek sulke eenbeen-sprongetjies uitvoer omdat ek dringend by die toilet moet kom. Ek raas ook altyd: “Sê asseblief net ‘ja’ of ‘nee’ – moenie vir my ‘n hele gesang voordra nie”.

    Liked by 1 person

    1. Nou het jy my aan die lag Hester. Lekker geborduur met knope aangewerk…. love it. Dan sien ek daardie sprongetjies…. en moenie vir my ‘n gesang voordra nie 😁😁😁😁

      Liked by 1 person

    1. Jy gaan nog sien hoe sit daardie bloedjies van jou vir jou ore aan soos hulle groter word Una. Gelukkig kon ek ook nie help om te lag nie. Mooi naweek vir jou.

      Like

    1. Kan jy nou glo Frannie sy ma hulle kuier vanaand hier; die groter kinders is almal uit… dus is hy alleen. Hy vra sy ma se foon sodat hy musiek kan luister, waarop sy sê “kuier eerder saam met ons”. Hy antwoord haar “Mom weet ek is nie een vir baie woorde nie.”

      Liked by 2 people

    1. Dis ‘n interessante waarneming oor die kommentaar lewer.
      Ek het verstaan vroue is “gatherers” mans “hunters.” Vroue kleur in en vertel in detail, mans pyl direk op die punt af. Vroue en mans se breine is verskillend “gewire” sê die slimmense. Dit werk so in ons huis 😦

      Like

        1. Dankie…. ek sal van nou af nie meer al die mans oor dieselfde kam skeer nie. 😊 Ek verstaan van verskillende persoonlikhede b.v flegmaat, cholerie (bewaar jou siel), sanguine, melancholies. Baie interessant!!!

          Like

Gesels saam, asseblief!