Toe ontmoet ek hom

Dis nie meer vir my vreemd dat ek die vreemdste, wildste wense het, en dan word dit waar nie. Ek sê dit vir geen persoon nie, dis sommer net my eie gedagtes. Ag, ek kan baie sulke stories vertel, en ek het ook al.

Ons was nog jonk getroud toe ons ‘n keer by my skoonouers gaan kuier het. Op ‘n stadium loer ek in die boekrak en sien die boek, God se Smokkelaar, nogal ‘n boek wat behoort het aan my skoonoupa! Die boek gryp onmiddellik my belangstelling aan en ek begin lees. Dit moes van die heel eerste uitgawes van die baie bekende boek gewees het.

Dit wat Broer Andrew vermag het, is net wonderlik. Hy wou gaan sendingwerk doen, maar was nie toegelaat nie weens sy gesondheid. Niks kon hom egter nog ooit in sy lewe terughou nie. Sê vir hom dis onmoontlik, dan doen hy dit. Toe dit onmoontlik raak om agter die ystergordyn te kom, ry hy man-alleen met sy Volkswagen Bybels aan! Die een wonderwerk op die ander volg.

Oor jare koop ek sy boeke die een na die ander. Dit beïnvloed my. Dit laat my dink: As hy dit kon doen, hoekom nie ek nie? Wat keer my om werk vir ons Here te doen? Sjoe! Sal dit nie wonderlik wees om hom te kan ontmoet nie. Nee, ek aanbid hom nie, ek aanbid vir Jesus, maar ek bewonder hom vir dit wat hy gedoen het in sy lewe. Hy is regtig ‘n man om na op te sien.

Een dag kry ek ‘n nuusbrief van Geopende Deure, die organisasie wat hy gestig het, wat sê hy kom Kaap toe. KAAP TOE! Ek MOET gaan. Ek moet vir hom gaan luister!

Ek tel ‘n vriendin langs die pad op en daar gaan ons! By die kerk aangekom waar hy sal optree, is dit stampvol. Daar is nie plek vir ‘n muis nie. Ons klompie agterosse kan darem in ‘n saal langsaan sit en na hom luister en kyk op ‘n grootskerm TV. Selfs dit is vir my genoeg!

Toe hy klaar gepraat is, het hulle nog ‘n paar interne goed bespreek, maar ek en my vriendin gaan kyk toe solank na die boeke. En raai wat? Daar staan Broer Andrew! En ek gaan om sy hand te skud en sê een of ander totaal belaglike iets! Tipies Toortsie. Maar ja, ek het hom ontmoet. En nét die Here het van hierdie stille wens in my hart geweet.

Lees gerus hierdie berig in Maroela Media.

Toortsie

12 thoughts on “Toe ontmoet ek hom

  1. Ek het die Engelse weergawe van sy boek gelees, dink dit was blou? Net so ń impak op my lewe gehad. Toortsie, ek glo ons ontmoet verskillende mense op verskillende tye van ons lewens met ń spesifieke doel. En daarna is ons nooit weer dieselfde nie. Nie almal voel dieselfde oor die spesifieke persoon nie. Ek het nogal daarmee gesukkel; wou hê my mense moes ook soos ek voel. En ek wou almal om my oortuig om ook te lees, ook te luister. Jy veral weet maar altegoed waarvan ek praat. Insig het eers jare later bygekom. My tyd, my afspaak, soos God dit beskik. Ek kan nie wag vir ons kuier nie.💐

    Liked by 1 person

  2. Heng, dis ‘n voorreg om hom te onmoet. Ek het ook van sy boeke gelees. Ek kan ure lank na hulle stories luister. Ons het ‘n woonstel by ons huis en verskeie sendelinge huur die plek. Om saam met hulle te eet is ‘n belewenis. Al die stories wat hulle vertel.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!