Lê jou eier: As Afrikaans sou uitsterf

Hester se uitdaging hierdie week het betrekking op my eie skrywe van verlede week. Wat gaan ek mis as Afrikaans sou uitsterf? Ek het al so baie oor Afrikaans geskryf, maar ek wil nou skryf oor ietsie waaroor ons almal grom, maar saamdoen. Ek ook! Ek grom ook en doen saam.

Daai ding van die hele saal sit vol Afrikaanssprekendes en EEN Engelssprekendes en dan is ons so ORDENTLIK en doen ALLES IN ENGELS sodat die Engelssprekende kan verstaan, intussen sukkel die res van die gehoor om te verstaan! Het julle dit al ervaar?

Ja, ja, ek verstaan. Ons is so BEVOORREG om meer as een taal te kan praat, daarom is ons NET TE GEWILLIG om elke keer terug te staan en maar die helfte van die praatjie/kursus/gesprek te verloor omdat ons dalk nie vinnig genoeg volg nie. By ‘n kursus moet ek dan in Engels luister, vinnig vertaal en in Afrikaans aantekeninge maak. Of in Engels aantekeninge maak. Of in Minglish.

Hierdie een kan ek nog verduur, omdat ek regtig nie die een persoon die voorreg misgun om ook die kursus by te woon nie. Maar dis sommer nonsens dat die Engelssprekendes sommer net aanvaar dat dit in Engels sal gebeur omdat hulle daar is! Net soos ons Engels moes leer op skool, moes hulle mos Afrikaans leer, of is dit nie meer die geval nie?

Maar daar is vir my iets nog erger: Wanneer ALMAL in die gehoor Afrikaanssprekend is en die spreker ook ‘n Afrikaanssprekende, en die lesing/toespraak/kursus word in ENGELS aangebied. Ja, dit gebeur! En dan is dit nie noodwendig altyd ‘n aanvaarbare Engels nie. HOEKOM DOEN ONS DIT AAN ONSSELF? HOEKOM DOEN ONS DIT AAN ONS TAAL? Hoekom vermoor ons ons taal? Ons doen dit SELF, nie ander mense nie!

Toemaar, ontspan, ek gaan NIE my speelgoed uit die kot gooi wanneer dit die volgende keer weer gebeur nie. Ek sal my gedra, want ek is mos so bevoorreg om Engels ook op ‘n manier te verstaan, so hoekom sal ek nou nie wil hê dat die arme Engelse persoon wat nou nie ons mooie taal kan verstaan nie, nie die verrigtinge kan volg nie?

Ek wou nou die dag in ons kerk opstaan en hande klap vir ons predikant. Hy het begin deur te sê dat hier ‘n Engelssprekende in die gehoor is (en ek dog: hier kom dit!), maar hy sê toe: Sy verstaan dat as hy begin Engels praat, NIEMAND ANDERS HOM SAL VERSTAAN NIE. Sy is baie welkom vandag, maar hy sal voortgaan in Afrikaans. BRAVO!

Sjoe! Positiewe Toorts! Nou was jy darem NEGATIEF!

Groetnis

Toortsie

Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22). 

29 thoughts on “Lê jou eier: As Afrikaans sou uitsterf

  1. Momenteel is in België een tv-programma dat mensen in een villa in Zuid-Afrika zitten. Ik vind Vlaams mooi en Zuid-Afrikaans ook prachtig. Zelf ben ik Nederlandse. Wees alsjeblieft trots op je taal en gebruik hem. Ik kan het goed lezen. Laat een Engelsman maar een koptelefoon op doen met vertaling.

    Like

  2. Toe ek in 2000 by die mpy begin werk het, was alles in Afrikaans, tot bestuursvergaderings, later moes alles in Engels gedoen word. Ek en ‘n Afrikaanse kollega kry mekaar in die gang en praat oor ditjies en datjies, ons kom eers na die tyd agter ons het die hele gesprek in Engels gevoer. Aai

    Liked by 1 person

  3. Ek het twee sulke pragtige stukke gegriffel (soos trommeltjie) sal sê, en jy het dit of nie gelees nie…. of nie kommentaar gelewer nie omdat jy jou vir my eerlikheid vervies het 😢 Ontspan daardie kuitspiere (soos Ken sal sê) ek terg jou net. Toorts ek is eerlik as ek sê die Afrikaans van vandag met sy bliksems en moere ens ens is teen my grein. My kinders terg my tot vandag dat hulle nie “poep” maar pRoep moes sê. Ek hou nie van growwe taalgebruik nie, en ek hoop waaragtig ek is nie meer hier wanneer Afrikaans soos ek hom leer ken het heeltemal uitsterf nie. Engels is die besigheidstaal, daarom vind Engelse dit nie nodig om Afrikaans te leer nie. Ek het mos gesê taal is ‘n tameletjie.

    Like

  4. Ja, ek ken daardie Afrikaans / Engels vergadering gevoel. En dan CRINGE ek vir die krom Engels, wat ook nie reg is nie. Dis lelik van my. Maar soms is die gesprek so tegnies en die terme glad nie teenwoordig in Afrikaans nie, sodat dit ‘n pyniging kan wees om in Afrikaans te praat. Dan liewer die hele geprek in Engels voer. Skuldig, Edelagbare!

    Liked by 1 person

  5. Ek stem en ek is self skuldig – soos toe ek nou in die Kaap was en met almal in Engels begin praat net om te besef ek praat nou met ‘n Afrikaner, dan vir myself lag en outomaties oorslaan na Afrikaans. Maar ja, solank ons taal gepraat word sal dit lewe… hoop ek.

    Like

  6. Dis darem maar waar wat jy hier sê, daardie Eng wat so vinnig uitgeruk word. Snaaks genoeg die klompie jare wat ek in bib gewerk het was ons amal Afrikaans totdat die regering verander het en alles Eng moes wees. Ons het verskillende taalgebruikers gehad en enigste taal wat ons almal verstaan het was Afrikaans. So jammer dat dit so is. Die dames het regtig almal mooi Afr gepraat hul is ook aangestel omdat hu Afr was. Die Hoof bibliotekaresse kon self nie behoorlik Eng praat nie.(Dit was 1996 gewees)

    Liked by 1 person

  7. Dit is helaas so. By ons werk is die amptelike taal Engels. Daar word verwag dat mens na Engels sal omskakel as daar ‘n persoon is wat nie Afrikaans kan verstaan ook by plekke soos die koffie area waar mens soisaal verkeer. Wanneer 2 mens ‘n derde taal praat word daardie guns ongelukkig nie ook gedoen nie

    Like

  8. Hang seker af van die omgewing waar ‘n mens jouself bevind. By die werksplek is alles hier Ingels, (the last British outpost, my deah) maar nou wil ek ‘n klip in die bos gooi – ons aksent as ons Engels praat. Hoekom ‘cringe’ ons? As ‘n Fransman Engels praat swymel ons, as ‘n Duitser sy w’s en v’s in Engels konfoes, is dit ook oraait. Maar behoede die Afrikaanssprekende wat met ‘n Afrikaanse aksent die rooi taal gooi: onaanvaarbaar! Ek het al baie daaroor gewonder … loop ons met ‘n tjippie of ses oor die skouer of wat? Hoekom is ons so askies-lat-ek-lewe?

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar op Toortsie Kanselleer antwoord