‘Afhandel’ vir ‘n aandagafleibare

Ahgehandel. Vir jare al is die woord, afgehandel, vir my die heel mooiste woord in Afrikaans. Ek kry baie keer verbaasde kyke as ek dit sê, maar vir my is daar nie ‘n mooier woord as dit nie.

Ek is ‘n ongediagnoseerde aandagafleibare. Op skool was ek nie die tipiese rondspringkind tydens klas-ure nie, omdat ek ook baie gehoorsaam was. Ek het stilgesit in die klas omdat dit van my verwag was. Tog het ek nie naastenby presteer soos ek moes nie.

Dis eers in my latere jare dat ek besef het, ek is wel aandagafleibaar en dis die wonderlikste ding dat niemand dit geweet het en ‘n etiket om my gehang het nie. Tog is dit lekker om te weet en daardeur myself beter te verstaan.

Aandagafleibaarheid kan moeilik wees vir die persoon wat dit het, maar ook vir dié rondom hulle. As dit egter ‘reg’ hanteer word, kan dit net ‘n plesier wees. Hoé die ‘reg hanteer’ is, weet ek nie! Lees bietjie hierdie artikel wat mense skryf waarvan hulle hou in hulle aandagafleibare kinders. Ek het geleer om vir mense te sê, wanneer hulle gespanne raak oor my gefroetel, om dit net te ignoreer. Ignoreer die bolletjie wol wat op die grond val en die rondspring om almal te bedien. Gaan net normaal aan, want anders raak ek gespanne en DAN raak dit ERG! Ek het al gesien hoe my dogter saggies vir ‘n vriendin sê, ‘moenie worrie nie, my ma froetel maar so, ignoreer dit maar net, dis okay’. Sies tog!

Afgehandel. Weet julle hoe ‘n oorwinning is dit vir ‘n aandagafleibare om iets af te handel? Verstaan julle die inspanning in hulle hele wese?

Die ding is, soos hierdie artikel sê, dat jy eers iets effektiefs kan doen wanneer jy in jou eie hart die waarde en dringendheid daarvan besef. ‘n Nuwe ding wat jou aandag gryp, word gedoen totdat die volgende verskriklike interessante ding verby kom. Op die ou end sit jy met hope nuwe interessante goed wat almal gedoen moet word, so, watter een doen jy en op die ou end sit jy met 20 halwe goed! Die oomblik wat ek in my hart vra: ‘Hoekom doen ek dit? en nie ‘n aanvaarbare antwoord kry nie, is dit verby. Daar moet ‘n goeie rede wees, anders kan ek mos my tyd en aandag iewers anders spandeer!

Daarom verg dit inspanning en konsentrasie om met iets sover te kom dat hy afgehandel is.

So, dames en here, wanneer ek die oomblik daardie nuwe boek in my hande hou, o, genade, dit moet nou gebeur en klaarkry, weet, die oorwinning is groot. Nie oor die boek of die inhoud of die werk daaraan nie, maar oor die ‘afhandel’ daarvan. Om dit reg te kry, moes hierdie aandagafleibare baie leisels op haarself intrek, totaal teen haar geaardheid in. Die uitdaging is: ‘Kan ek dit regkry? Kan ek dit klaarmaak?’ En die dringendheid nou? Daar het al mense betaal daarvoor! Ek Mag hulle nie teleurstel nie!

Afgehandel. Mooi woord, né? ‘n Woord wat inspanning verg om dit reg te kry. ‘n woord wat oorwinning verteenwoordig.

My raad aan ouers met aandagafleibare kinders? O, ek weet julle het hare op julle tande nodig en voel soms om hulle hare te trek, maar geniet hulle uniekheid so tussendeur. Moedig hulle aan met: ‘Ek weet dis nie nou lekker om dit te doen nie en dat jy eintlik iets anders wil doen, maar jy gaan só bly wees as jy klaar is.’ Hulle is eintlik baie spesiaal, het julle geweet? Hulle sal altyd sorg vir ‘n verrassing of twee. Geniet dit!

Groetnis

Toortsie

English Blog Posts

Toortsie se Bantingboerekosboek Facebook page

Toortsie se  Facebook page

Finesse Blogger of the week

Toortsie by Finesse: Die Aus-car wisseltrofee

Toortsie by Pinterest

Plaasakkomodasie by Riversdal, Wes-Kaap

46 thoughts on “‘Afhandel’ vir ‘n aandagafleibare

  1. Aandagafleibare is n pragtige Afrikaanse woord vir die “gedrag”. Ek is saam met jou bly dat hul nie daarvan geweet het toe jy opgegroei het nie. Daar is baie kinders wat dadelik as hul n teken toon van afleibare gedrag hul dadelik geklassifiseer word as…… wat ook al! Baie tragies.

    Liked by 1 person

  2. Kan jy glo, nou verstaan ek my man beter! Jou beskrywing van hoe jy is,(die aandagafleibare), is presies soos Bertus is. Ek skud my kop gewoonlik in ongeloof vir hom, maar nou sal ek meer begrip toon. Gaan hom hierdie gee om te lees.

    Liked by 1 person

      1. Bertus is altyd besig; besig met nuwe uitdagings. Niks is te veel moeite nie, elke enkele steen moet omgerol word. Hy pak uitdagings met soveel oorgawe aan, maar sodra iets nuuts opduik, wil hy aanbeweeg. Ek baklei gewoonlik en sê hy is nie ñ goeie “maintainer” nie. Hy sal dag en nag aan ñ projek werk, dit klaarmaak en afgee, maar dan raak hy verveeld daarmee. Of liewer, teen daardie tyd het ñ volgende projek reeds 200% sy aandag. Vir my lyk sy wêreld baie uitputtend, en ek bly maar eenkant en hou net dop dat die pap nie op die vloer val nie. Dit gebeur ook soms. Dan ervaar hy dit intens sleg, maar nie vir lank nie.

        Like

        1. Ja, mislukkings voel ekstra sleg, juis omdat die kans vir nie klaarmaak nie, altyd daar is en soos ‘n swaard bo jou kop hang. Onthou, hy sou al baie keer in sy lewe hoor dat hy nie iets klaarmaak nie, dit raak ‘n swartmerk. Nee ons is nie maintenance mense nie. Maar dis ook okay. God wil ons op ander maniere gebruik. Daar is baie maintenance ouens wat daai deel kan doen. 😁❤️

          Liked by 1 person

      2. Persoonlik onttrek ek bietjie; besige mense maak my moeg, maar ek bedoel dit nie lelik nie. Ek bly nie altyd by nie; hy is op sy gelukkigste as hy met drie, vier projekte op ñ slag besig is. Dis die slag dat ek my boek vat en rustig in die agtergrond gaan lê en lees.

        Like

        1. Ek gee jou net gou ‘n idee. Ek moet 11 uur klaar gepak wees. Terwyl ek my rug geoefen het, het ek geblog, papiere in die kombuis reggepak en plante natgegooi. Ek moet nou inpak en my huis regkry. Dis 20 voor 11. As Kobus 11 uur instap, is ek klaar en het 20 ander ged tussenin gedoen. Letterlik 3 goed tegelyk. Dit maak my ook moeg en moedeloos!

          Liked by 1 person

              1. Mag ek julle ‘n geheimpie vertel? Toe julle vanoggend al julle goetertjiesmooi gedoen het, het ek gesit en blogs lees en Bybel lees en nou moes ek alles op ‘n hoop doen. Op die ou end dien julle niks meer of minder as ek nie. Julle weet net baie beter om julle tyd en julleself te beheer. Wens ek kon dit doen!

                Liked by 1 person

  3. Eerstens wil ek sê geluk Toorts dat jy deurgedruk…. en die boek afgehandel het. Twee van my kleinseuns is aandagafleibaar en op medikasie. In vandag se skole word die ouers vinnig ingelig dat daar fout.is met hulle kind. Sal die artikel lees en sien of ek dit vir my dogters moet gee om te lees. Albei is redelik moedeloos met hulle seuns

    Like

    1. Ek besef dat dit onhoudbaar is in die skoolsituasie met klasse wat oorgroot is. Die kinders moet ongelukkig inpas by die ander. Ek het ook nie raad nie. Al wat ek besef, is dat daar saam met aandagafleibaarheid, besonderse talente kom en as dit ontwikkel en bestuur word, die kinders tot groot sukses kan kom. Hoe dit gedoen moet word, weet ek nie. God het presies geweet wat hy doen toe hy ons so bedraad het. Vanoggend kon ek vir Hom sê: Dankie Here! Want dis juis hierdie eienskap wat my presies by my man kaat inpas wat vinnig kom met opdragte wat nou uitgevoer moet word en dit dan my niks pla om dit gou tussenin te doen nie.

      Liked by 1 person

        1. Ek doen nie so baie nie. Regtig nie. Ek vat laaank om aan die gang te kom en moet dan storm om alles gedoen te kry. Dan ruk ek weer tot stilstand. Op die ou end doen jy meer as ek.

          Like

    1. Hoe het hierdie kommentaar van jou dan in die spamboksie beland? Ek haal dit dadelik uit. Daar is ‘n hele paar van jou in die spam. Ek verstaan dit nie.
      Neerskryf help beslis. Ek skryf ook my gebed neer, anders is my aandag weg binne 2 sekondes.

      Liked by 1 person

      1. Ek sal nie eens weet waar om te begin nie. Ek weet darem nou-al hoe en waar om my eie blogs te sien – rerig. Ek hoop maar dat mense sien nerens lewer ek enige insae nie, en dan grou hulle maar so bietjie tot hulle my tussen hulle “gemors” kry. 😊

        Liked by 1 person

  4. Ek het hierdie post van jou nou eers gelees gekry maar dit vreeslik baie waardeer! Ek het ‘n aandag afleibare man en seuntjie, so die hare op my tande is wild en baie! Maar ek is vir altwee vreeslik baie lief en daar is beslis tussen deur die gesukkel om hulle gefokus te hou baie spesiale en unieke oomblikke.

    Trots op jou en jou tweede boek. Baie geluk!

    Like

Gesels saam, asseblief!