As Afrikaans sou uitsterf – lê jou eier oor jou erfenis

Hul vra ons om ‘n bietjie te dink: as Afrikaans sou uitsterf, wat sal jy mis?

My hele lewe is Afrikaans. My huistaal is Afrikaans, my gesin is Afrikaans. Ek bly in ‘n dorp waar ons Afrikaans praat. Ek kan my nie indink hoe ons mense sal regkom sonder Afrikaans nie.

Ons straatname is Afrikaans. Wat word van Breëstraat, Parkstraat, Rivierstraat, Kerkstraat? En plaasname? Uitkyk. Gaan Boschfontein, wat eintlik Hollands is, Bush Fountain word? Karsrivier Kars River? Dan praat ons nie eers van dorpsname nie! Riviersonderend. Putsonderwater. Verlorenfontein. Bredasdorp. Dit is Afrikaanse name wat ons net op geen manier kan verEngels of verwatookal nie!

Ek vry in Afrikaans. Ek kan my net nie indink om vir my man in enige ander taal as Afrikaans te sê hoe ek oor hom voel en dat dit dieselfde sal wees nie.

Afrikaanse humor. Het julle al probeer om ‘n Afrikaanse grap in Engels te vertel? Dit wérk net nie? Soos die destydse Minister van Landbou, wat gesê het die Kapenaars het nie bogrond nie, nie ondergrond nie, maar darem ‘n bietjie agtergrond. Vertaal dit gou ‘n bietjie na Engels! Toe!

Ek kan nie kosmaak in Engels nie. Ek het een Engelse resepteboek iewers gekry en hy het lankal op die ashoop beland. Daarteenoor het ek ‘n stapelvol Afrikaanses. Geen vergelyking nie.

Toortsie probeer soms in Engels blog. Mensdom! Wát ‘n gesukkel!

Ek dink ek het my punt gemaak. Ek droom in Afrikaans, lag in Afrikaans, speel in Afrikaans, het lief in Afrikaans, word kwaad in Afrikaans, gaan kerk in Afrikaans, dien God in Afrikaans. Afrikaans is my taal. Ek is lief vir Afrikaans.

Wat van jou? Sou Afrikaans uitsterf, wat sou jy mis? Skryf dit op jou blog. Skryf elke dag iets anders op jou Facebook. Op Instagram. Op Twitter. Vertel dit om die braaivleisvuur. Wat is Afrikaans vir jou? Sê dit. Maak Afrikaanssprekendes bewus van ons mooi taal en dat ons dit moet oppas en liefhê en versorg sodat dit kan groei en ons nageslag ook nog die voordeel daarvan kan hê. Merk dit elke keer #Afrikaans #Onmisbaar

En terwyl ek dan nou my eier kan lë oor erfgoed, Afrikaans is my erfenis, en soos die res van my erfgoed, probeer ek mooi kyk na my taal. If you are Afrikaans speaking, be loyal to your ancesters: Speak Afrikaans! 😁

Ek daag jou uit!

Toortsie

Lees ook: Verklaring oor my taal.


Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22). 

44 thoughts on “As Afrikaans sou uitsterf – lê jou eier oor jou erfenis

  1. Wat sal ek mis? Idiome, sêgoed, slagspreuke met digterlike vryheid geskryf, ‘n paar raaksê vloekwoorde, byname wat die spyker op sy kop slaan, Namakwaland se plantname – hondepisbossie, pietsnot. Kom ons gebruik daardie huts/hutsmerke/hutstekens (hashtags [#] in Afrikaans). Dankie Toorts, maar ek mag darem soms in Engels blog?

    Liked by 2 people

  2. Ek stem…. Afrikaans is ‘ n lekker spreektaal en daar is dinge wat net in Afrikaans gesê kan word; maar ai Toorts jy weet mos ek sukkel nou met twee tale…. en gooi hulle met tye sommer saam in ‘n sin.

    Liked by 1 person

        1. Dit is voorwaar wonderlik om meer tale te kan praat. Hoe meer tale die man, hoe meer man die man. Ek het niks teen ander tale en gooi self op my manier die Rooie, en ek bewonder mense wat selfs meer tale kan praat. Nou die dag het ek gehoor van ‘n man wat al ons SA tale kan praat, 11?, en nie ‘n werk gekry het nie omdat hy nie Fanigalo kon praat nie! Maar Afrikaans bly my lieflingtaal.

          Like

  3. Ek sal letterlik ALLEs mis! Die taal is absoluut te wonderlik. Ek kan aan soveel beter woorde in Afrikaans dink om iets te beskryf wat Engels nie het nie. Afrikaans het ‘n kreatiwiteit wat ek nie in Engels vind nie. Jy kan jouself soveel beter uitdruk en al die uitdrukkings wat jou soms so laat lag van pure snaaks-kreatief. Ek sal sorg dat Afrikaans nie uitsterf nie – nie terwyl ek lewe nie. 🙂

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!