Kameel – O my gatta

Lê-jou-eier: Oorgeërfde eienskappe

Tom and Rebecca's 20th Anniversary Photo Shoot

My oudste suster het my ma se dik hare met die “waves,” geërf; daardie hare wat jy net was en kam. Toe dit by my – die derde dogter – kom, was daar maar min hare oor om uit te deel. My oudste suster het my ma se dun enkels en mooi kuite geërf. Rika, die tweede oudste het hier ook nie te sleg gevaar nie; toe dit by my kom was net my pa se reguit bene oor. My oudste suster het my ma se mooi tone geërf. Rika s’n was ook mooi totdat artritis dit skeefgetrek het. Toe dit by my kom kry ek my pa se lang tone, met so ‘n ekstra kromming om my plakkies mee vas te knyp. Rika het iemand in ons voorgeslag se groot bruin oë, en lang wimpers geërf; toe dit by my kom was wenkbroue, en wimpers skaars, maar my ma se gepofte oë – wat hangvelle maak soos jy verouder – moes opmaak vir diè skaarste. (‘n Nagmerrie in my kinders se oë. Die gene onthou, die gene!!!) My oudste suster het die bekende professors G.S en P.J Nienaber se verstand geërf; Rika het ook ‘n goeie porsie gekry; toe dit by my kom was net die liefde vir boeke oor…. akademie was ‘n uitheemse woord. My ousus het my ouma Cielie se naam en ernstige uitkyk op die lewe geërf. Rika het totaal na die anderkant toe oorgehel – erns was vir haar ‘n vloekwoord. Toe dit by my kom word een voet in erns, en die ander in joligheid geplaas. “Nee, jy het nie ‘n gesplete persoonlikheid nie,” sê my ma, “jy is gebalanseerd.” (Dankie mammie!!) My ousus het my pa se liefde vir sport geërf, en kon soos die wind hardloop; toe dit by my kom het die “speedometer,” vasgehaak. My ousus het die – nie te kort nie, en ook nie te lank nie – lengte vir ‘n vrou geëerf. Rika was ‘n bietjie langer, maar toe dit by my kom moes ek in lengte opmaak vir my nege kort Ierse ooms, en tannies aan vaderskant. En so kan ek aangaan. Moet nou nie dink ek skrik myself koud wanneer ek in die spieël kyk nie; ek het vrede gemaak met myself, en sê dankie vir die gene wat my, my gemaak het.

Beide my ouers was rustig, het nie geskreeu, baklei of gevloek nie. My pa was in sy jonger dae lief vir dans, en dit het ek definitief van hom geërf. Ook my sin vir regverdigheid kom van hom af. Wat ek nie met my pa in gemeen gehad het nie, was sy liefde om grappies te vertel. My sin vir humor neig na die droeë kant toe. Ek was lief vir my pa, maar het ‘n verhouding met my ma gehad wat my susters nie gehad, of verstaan het nie. Ek en my ma het in geaardheid baie verskil, maar beide van ons het bly glo (al het die ou wêreld oor en oor die teendeel bewys) dat daar nog “knights in shining armour” op perde rondry, opsoek na pragtige dames wat hulle uit die draak se kloue kan bevry. Ons het nie hardop daaroor gepraat nie, maar woorde was nie nodig nie. Daarom was dit vir my so hartseer toe sy hier aan die einde van haar lewe vir my sê sy het so geglo sy bring vreugde aan bruide, (Sy het trourokke gemaak) maar met al die egskeidings, en dinge wat so verkeerd loop, wonder sy of sy nie gehelp het om hulle in die ellende te dompel nie.

Ek sluit af met die woorde “O my gatta!!.” Dit was my ma se gunsteling sêding, en myne ook.

 

Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22). 

 

32 thoughts on “Kameel – O my gatta

    1. Dankie Toorts…. maar ek jok rêgtig nie oor die bene en tone nie. Ek was pas getroud toe ek op ‘n dag sandale werk toe aantrek. Ons het ‘n vroubaas gehad…. sy wou haar stukkend lag oor my tone wat lyk asof hulle die sandale vasknyp. Ek het nie ‘n kompleks oor myself nie…. het net feite genoem.

      Liked by 1 person

      1. Ek het sulke lang voete en is lief vir kaalvoet loop. Een dag sê my broer vir my: Mensig, jy het darem lelike voete! Vir lank probeer ek my tone intrek om my voete kleiner te kry. Een dag sê ‘n meisie vir my: Sjoe, jy het mooi voete. Ek kyk toe na haar voete en besef dat myne nie te lelik is nie.
        Dis net ‘n kwessie van smaak en hoe sou ek met my lengte met klein voetjies gelyk het?

        Like

        1. Presies Toort…. jy is in proporsie. Hierdie tone ding van my loop al die jare in ons gesin as ‘n grap rond. Ek lief kaalvoet loop, en Ken probeer gedurig my tone reguit druk. Ons seun het een voet van Ken geërf, en eet voet van my…. tot sy bittere ontsteltenis, want Ken het die mooiste voete. Die pofoë wat later sakke hang is ‘n groot hartseer vir die kinders wat dit oorgeërf het. Marlè sê sy was by ‘n dokter wat gesê het sy kry ‘n baie duur masjien wat die velle wegsmelt. Marlè sê toe vir haar ons hele gesin gaan in ‘n ry staan vir behandeling. Ons spot lekker onder mekaar met al ons oorfgeërfde goed.

          Like

  1. O gatta, dit het ek nou rerig geniet. Werk dit rerig so dat as jy laaste in die ry staan jy altyd die oorblyfsels moet kry? Ek vra maar! Wat van die middelste ou? En as daar net twee is? Ek grappie nou hoor. Jy klink beslis n pragtige persoon. Sommer alles wat spesiaal is het vir jou oorgebly.

    Like

    1. Ag scrapy en hier kom maak jy my dag 😊 My ousus glo tot vandag toe dat daar nie veel goed in my steek nie. Elke keer as sy my sien (nou dat sy ouer word) sê sy al wat ek wou doen toe ek klein was is op my ma se arm lè. Eendag wou sy my uit haar klerekas aantrek…. nadat ek vir haar gesê het haar klere sal my nie pas nie. Toe sy haar hele klerekas sonder sukses leeggemaak het en niks wou pas nie sê sy ewe vies die Here het nie gedink toe hy my so lank gemaak het nie. Ek lag maar net en hou werklik geen kwade gevoelens teen haar nie. Nee wat, ek sou vir ewig kwaad gewees het, het ek my twee susters kop toe gevat.

      Like

      1. Tog bly daardie onwetende afbreek woorde n mens by. Gelukkig as mens ouer word kry n mens insig of krag om dit af te skud.Jy het tog verder n sukses van jou lewe gemaak en dit is tog die belangrikste. (Ons het nounet gehoor ons regering is omgegooi. Nou sal ons ander brandpunte kry wat verwerk moet word!)

        Liked by 1 person

  2. Klink my jy het mooi gene oorgeerf – al dink jy nie latyd so nie. Ek wet jou dat jou susters anders na “jou” gene kyk as jyself. Ooh die gene… ek het weer kniee geerf en nou het my jongste ook, sy is nie baie beindruk nie 🙂

    Liked by 1 person

    1. Nee vrou jy wil nie hoor wat my susters rêgtig oor my te sê gehad het nie. Maar gelukkig het dit soos water van ‘n eend se rug afgerol…. anders sou ek ‘n vreeslike kompleks gehad het. My een dogter het wie weet watter grootjie se dik knieë geërf en is glad nie ingenome met dié gene nie. So het ons almal al een of ander doring in die vlees waarmee ons vrede moes maak.

      Liked by 1 person

    1. Ag dankie wegkruipertjie. Ek is lief vir mense en dit het ek van beide my pa en ma gekry. Hulle het dit net elkeen op ‘n ander manier gewys…. en ek wys dit ook weer op my eie manier.

      Like

Gesels saam, asseblief!