Die Voet van Afrika Marathon

As daar nou ‘n geleentheid is wat my hart vinnig en warm laat klop, is dit die Voet van Afrika Marathon. Ek was in standerd 6 toe my eertydse wiskunde onnie, Mnr Eps Joubert, aan die draf geraak het. Padwedlope. Nie lank nie, of hy begin droom van die marathon wat hier op ons dorp aangebied gaan word: 42.2 km vir die mans, 21.1 km vir die dames. In 1978 is die eerste Voet aangebied. In die wiskundeklas het ons saam met hom gedroom, gehoor hoe die planne vorder en het hy ons oorreed om ook saam te kom draf. Middae 5 uur het ons mekaar gekry by die laerskool en weggespring. Hy het die roetes verduidelik, ons het gehardloop, ek het verdwaal. Terug by sy bakkietjie het ons op die groot wekker gekyk hoe lank ons gehardloop het en in sy boek ons afstand en tyd neergeskryf. ons het die groot name in atletiek geken en geweet wie het die Voet gewen. Intussen het die Voet van Afrika Marathon 40 jaar oud geword, ek het die 21km 10 keer voltooi en ek het nie ‘n idee hoeveel keer ek die 10 km gedoen het nie. Vanoggend kon ek nie help om te onthou hoe ons altyd baie vroeg op die plaas moes wegspring om betyds te wees nie. Ons moes omtrent ‘n uur voor die tyd hier wees om ons nommers te kry, die bus betyds te haal wat ons Napier toe neem om daar in die berg by die wegspringplek afgelaai te word.

Elke Voet is soos ‘n reünie. Daar loop ons ons ou drafmaters raak, ook die mense wat saam met jou op die bestuur daarvan was. Party stap ook al, nes jy, ander het toeskouers geword, jy sien hul langs die pad en groet hulle gesellig. En elke keer is dit lekker as van die toeskouers hulle dorp se mense herken. In die ou dae het ons Bredasdorpers blou hempies gedra en is jy letterlik op die hande gedra as jy die dorp inhardloop. Ons het altyd gesê die hemel moet soos Kerkstraat voel, dit voel of jy vlieg!

So, nog ‘n Voet is verby. Afgehandel. Welgedaan aan die organiseerders. Ook hierdie een is spesiaal en gaan lê diep in my hart. Toortsie

English Blog Posts

Toortsie se Bantingboerekosboek Facebook page

Toortsie se  Facebook page

Finesse Blogger of the week

Toortsie by Finesse: Netwerk 

Toortsie by Pinterest

Plaasakkomodasie by Riversdal, Wes-Kaap

 

15 thoughts on “Die Voet van Afrika Marathon

            1. Ek het mos hierdie ding as ek gaan stap ook…. my liggaam waarsku my nie…. net ewe skielik dreineer al die krag uit my liggaam en ek sak inmekaar. Nou gaan ek maar so sit-sit so deur die lewe.

              Liked by 2 people

Gesels saam, asseblief!