Hoe het ek leer bestuur?

Oudoring het my gedagtes nou ver draaie laat loop. Terug na my kinderdae op die plaas waar ek bedags saam met my pa rondgery het.

Eers het ek, soos Oudoring, op my pa se skoot gesit en die stuurwiel vasgehou en dan het ons op die plaaspaadjies gery en dan skielik het hy vinniger begin ry en ek het geskree dat die kranse antwoord gee!

Ek was sommer nog klein, dan het ons die skape gaan kosgee. Daar word stadig gery en iemand staan agterop die bakkie met die sak mielies en gooi die mielies so in ‘n rytjie vir die skape. Ek het dit weer laas week ná al die jare beleef in die Karoo. My pa het dan die bakkie in ‘n lae rat gesit, ek het oorgeskuif en die stuurwiel vasgehou, hy het uitgeklim en agterop die bakkie geklim so in die ry en die skape gevoer, teruggedraf en weer ingeskuif om verder te ry. Ek het aan geen pedaal geraak nie!

Later kon ek op die lande ry en stop en wegtrek en deur die hekke ry wat my pa oop- en toemaak.

Ek was so in standerd 6 rond wat ek ernstig begin bestuur het. Ek is toe in volle beheer van die bakkie en ons moet afdraai by Louvain. Pa sê, ‘Madelé jy moet afdraai hier voor, jy moet stadiger.’ Ek ry stadiger. Pa sê, ‘stadiger!’ Maar Toortsie besef nie hoe stadig hy eintlik bedoel nie. Trap briek en vlieg deur die draad net regs van die motorhek. Draad stukkend. Bakkie niks oorgekom nie.

Een dag het ek en my dogter ook so teen ‘n reuse wal opgejaag en deur ‘n draad en net betyds gestop om nie in ‘n dam te beland nie terwyl Toortsie eers skree ‘Moenie briek trap nie’ en toe weer ‘Briek!’ Stukkende draad en 2 pap wiele verder en lekker ontlaai van die vreeslike gille!

Dankie oudoring. Dit was lekker onthou. Dit wil dan nou vir my lyk of ek gillerig is?

Toortsie

English Blog Posts

Toortsie se Bantingboerekosboek Facebook page

Toortsie se  Facebook page

Finesse Blogger of the week

Toortsie by Finesse: Netwerk 

Toortsie by Pinterest

Plaasakkomodasie by Riversdal, Wes-Kaap

 

21 thoughts on “Hoe het ek leer bestuur?

  1. My man het my probeer leer. Teen die tweede les het ek uit die kar geklim en ‘n taxi bestel om my huis toe te vat. Die volgende week het ek ‘n bestuurskool gebel en gegaan vir lesse. Easy Peasy. Daarna het ek my eerste eie motor gekoop (splinternuut uit die boks 11 Golf vir R4800) en my man verbied om met my motor te ry. Joune is joune en myne is myne!

    Liked by 2 people

    1. Ek wou leer lorrie ry. Toe ry ek en my nan net met die perd, die wa was nie aangehak nie. Ek het nooit ratte gekrap of so iets nie. Maar ek het te kort gedraai na pappa se sin. By die huis aangekom in bewerasie, het ek besluit my huwelik is belangriker as ‘n lorrielisensie. Gmf. Nou het ek dit steeds nie en ons kort regtig lorriedrywers. Dalk moet ek nou gaan en sommer by die bestuurskool inskryf soos jy!

      Liked by 2 people

    2. As kind wou ek lorrielisensie hê en my oa het gesê ek is ‘te lig’. Nou wil ek nie regtig meer nie, die gutz is nie meer daar nie. Ek sal nou te versigtig wees in ‘n pas met ‘n vrag, en dis nie goed nie.

      Liked by 1 person

      1. Ek het nou geglimlag toe ek sien jy praat van ‘n lorrie. Hier in Gaugeng en KZN word mos net van vragmotors gepraat. Ek het grootgeword met lorries (2 ton Bedfords) en bakkies (nie trokkies soos wat hulle dit hier noem nie).

        Like

Gesels saam, asseblief!