Kameel – die moeder hen

Lê-jou-eier: Wat is jou superpower

imagesEk het nie ‘n superpower nie;  Ek dink wel dat daar – onsigbaar vir my – op my voorkop “Moeder Hen” geskryf staan.  My ouer susters se dogters het hier van hulle tienerjare af my gebel met hulle probleme, of vrae oor die lewe. Laat ek dit sommer hier duidelik maak; ek is nie ‘n berader nie, en het myself nooit as een uitgegee nie. Ek het ook nie om al wat ‘n persoon is loop en kloek-kloek nie, en doen dit vandag nog nie. Nee, hulle het maar net gekom…. as dit nie ‘n vrou in die bybelstudiegroep se dogter is wat by my aanklop, en haar hart kom uithuil nie, bel Marlé van die college af en sê sy bring iemand vir die naweek wat sy dink bietjie gesels nodig het.

Kenneth – toe al uit die huis uit – bring op ‘n dag ‘n negentienjarige seun by ons aan. Hy het hom by die “volley ball” ontmoet – gehoor hy het probleme en vir hom gesê “Ek vat jou na my ma toe, sy sal weet wat om met jou te maak.”  Wat maak moeder hen? Sy trek die verdwaalde kuiken onder haar vlerk in. Sê hy kan in die karavaan slaap, moet geen spesiale behandeling verwag nie, druk haar ore toe vir die familie wat geskok vra “En wat van jou drie tienerdogters in die huis!!!” Nie lank nie of die tieners sleep hom saam jeug toe, en voordat jy kan sê “mes,” is hy soos ‘n kind in die huis. Maande verloop, die seun herstel, sê totsiens. Al die vrouens in die huis vee trane af, en die lewe gaan weer voort. Ek is dankbaar om te sê daardie seun is vandag ‘n pragtige man met ‘n gesin van sy eie; en hy en sy vrou doen sendingwerk in Indië.

‘n Vriendin van Marlé – n ma van twee dogters – kom vra my op ‘n dag of ek haar nie asseblief vir ‘n tydlank teen my bors wil vashou nie. Ek maak my arms oop, sy kom lê op my bors en sê dis so lekker om weer deur ‘n ma vasgehou te word.

Die eienaardigste nog is by ons kerk. So aan die begin van die diens vra die pastoor mense moet asseblief opstaan en ander groet. Nou die beste wat ek met my dronkkop kan doen is om al sittende om te draai en dié naaste aan my te groet. Op ‘n dag groet ek ‘n blondekop vrou – seker Marlé se ouderdom. Tot my verbasing kom sy die volgende Sondag na my toe, gee my ‘n stywe druk en sê “tannie voel soos ‘n ma vir my.” Dit word ‘n instelling; eendag sê sy vir Jay wat saam met my in die kerk was, “Ek is so lief vir jou ma, ek wens ek kan binne in haar klim.”  Dieselfde ding gebeur toe met nog ‘n vrou wat agter ons sit; ek groet, en dan op ‘n dag druk sy my vas en vertel vir almal om ons hoe lief sy my het. Jay noem hulle my “kerkdogters.”

Langs die blondekop sit daar nou ‘n sestienjarige Engelse meisie. Die eenkant van haar gesig is verlam. Ons was vir drie weke nie in die kerk nie. Toe sy my verlede Sondag sien gryp sy my hand vas en sê. “Oh, I am so glad to see you, I missed you so these three weeks.” My hart word toe sommer week…. moeder Hen sal dié afvlerk kuiken met liefde onder haar vlerk neem.

Kameel 🙂

Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22). 

 

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

22 Responses to Kameel – die moeder hen

  1. travel460 sê:

    Wat ñ wonderlike eienskap, Kameel. Om mense so na jou toe aan te trek. Wys jou hoe Jesus se liefde uit jou straal, sonder dat jy dit aldag besef.

    Liked by 1 person

  2. Toortsie sê:

    En die moeder hen het al vir ou Toortsie ook onder haar vlerk ingeneem. Beslis ‘n besonderse gawe van die Here af.

    Liked by 1 person

  3. dromer777 sê:

    Wens jy was nader aan Klerksdorp

    Liked by 1 person

  4. Ek het nog altyd geweet jy is ‘n besonderse mens en nou weet ek wat jou besonderse talent is 💗

    Liked by 1 person

    • Kameel sê:

      Dankie Hester. Ek is eerlik as ek sê dit is vir my maar bietjie duister….. ek sien myself nie as die vreeslike moederlike figuur nie. Miskien is dit beter so want elke keer is ek opnuut verras.

      Liked by 1 person

  5. Jinne – dis nou pragtig! Nou weet ek ook watter tipe persoon jy is! Die afvlerk kuikens het jou voorwaar baie nodig!

    Liked by 2 people

  6. Dit is nou beslis super om so aan die hand van Jesus te kan reageer op behoeftes van persone rondom jou. Moeder hen is beslis n goeie beskrywing! Hul kan so hul veertjies uitpof om n bietjie warmte aan al die kuikens te gee. Beslis n wonderlike talent om so dinge aan te voel.

    Liked by 1 person

    • Kameel sê:

      Ek besef dis ‘n gawe van God, want in myself voel ek alles behalwe na ‘n superhero op hierdie gebied. Ons het lekker reën gehad…. en nou is ek terug in winterpajamas en elektriese kombers. Hoe lyk dinge in die poskaart?

      Like

      • Jong die weer is ook maar op en af. Gelukkig is dit nie meer koud nie. So 10grade snags en tot so 16 grade gedurende die dag. Ons het die afgelope maand rekord reën gehad. Alles groei nou ekstra of versuip! Was gister na n uitstalling en gaan binnekort iets daaroor blog. Dit was nogal insiggewend omdat die kultuur nogal verskil v SA. Het my verbaas dat een ou oom(82) nie die engels van ons gids kon volg nie! Sy het dan in engels gepraat! Interessant !Hul kyk ook maar neer op “ander” uitsprake.

        Liked by 1 person

        • Kameel sê:

          Nounet fotos van ‘n vriendin gekry…. dit het by hulle gesneeu. Weet nie presies waar sy op die oomblik is nie, sy bly op Colesberg. Die taalkwessie is maar ‘n tamaletjie (spelling) Die Kapenaars se Afrikaans is ook maar anders…. die Swartlanders s’n kan ek glad nie verstaan nie. Hoekom brei party ens ens. Soveel mense…. soveel dinge.

          Like

  7. Pragtig, wat n mooi “moeder hen superpower”.
    Daardie is voorwaar n gawe van God alleen.

    Liked by 1 person

  8. Kameel hierdie is regtig besonders,. Gaan nog verder hierop kommentaar lewer en ook jou *vraag by my post

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s