Mees gelese bloginskrywings en anonieme briewe

Hierdie tyd van die jaar gebeur hier jaarliks iets vreemds. My bloginskrywing, ‘Verklaring oor my taal’, kry dan skielik lewe. Ek vermoed dit het iets met skole te doen, maar niemand het my nog ooit geantwoord nie. Dit word gelees en gelees en ek weet nie of dit gebruik word nie en ek sal dit so waardeer as iemand wat dit gebruik dalk net in die kommentaar dankie sê, of sê waarvoor hulle dit gebruik.

Daardie bloginskrywing het ek een dag geskryf nadat ‘n trol wat maagpyn gehad het my blog besoek het en daar kom braak het in die swakste Afrikaans denkbaar oor my liefde vir Afrikaans en oor ek kwansuis wil baas speel op die blogs. Ag, of hy ‘n swak oujaarsnag gehad het, te veel gedrink het of dalk ‘n afsê, weet ek nie en ek hoop hy of sy voel nou al beter.

Dit laat my dink aan wat my skoonpa vir my gesê het: ‘As jy nie bereid is om jou naam onderaan te skryf nie, moet jy dit nie skryf nie.‘ Ek sal daardie raad nooit vergeet nie.

Ek het Vrydag per ongeluk skeef parkeer in ‘n groot parkeerterrein met baie oop parkeerplekke. Iemand het goed gedink om vir my op ‘n Capitecstrokie te skryf: ‘Parkeer ordentlik.’ Sies tog. Die ou het R1881.60 getrek. Dalk was dit sy laaste geld en was hy moedeloos en toe sien hy my skewe parkering en bars uit voor hy kon keer! Nou ja, ek sal moet kyk na my parkeervernuf! Die waarheid is dat ek eintlik regtig ander voertuie in ag neem.

Dit laat my dink aan die briefie wat ek so graag onder die ruitveërs van hulle wil sit wat so sonder rede op die rolstoelparkering parkeeer: ‘Ek hoop regtig nie dat jy ooit ‘n rolstoelparkering sal nodig hê en daar dan iemand anders op die plek staan wat dit nie nodig het nie.’ Ek het dit nog nooit gedoen nie, want ek kan dit nie anoniem doen nie en ek weet nie of ek lus het om my naam onderaan te skryf nie.

Maar oor die statistieke. Ek het gaan kyk  na die bloginskrywings wat in hierdie jaar die meeste mense getrek het en toe na hulle totale klieke. Daar kon dalk ander van my bloginskrywings beter gedoen het en nie in hierdie jaar hul merk maak nie. Dit sluit ook nie die dag in wat hulle op die blog verskyn het nie en deel was van die gewone daaglikse kyk van my blog nie:

  1. Watter werk kan jy van die huis af doen? 19 116 besoekers
  2. Verklaring oor my taal  6 831 besoekers
  3. Die vesel en die dikderm 6 132 besoekers
  4. Was jy al ooit moedeloos? 5 184 besoekers
  5. Uitrusting vir die moeder van die bruidegom 3 986 besoekers
  6. Die werksaansoek 3377 besoekers
  7. My eerste skooldag 3 209 besoekers

Sommer so ‘n bietjie onnuttige inligting.

Groete

Toortsie

English Blog Posts

Toortsie se Bantingboerekosboek Facebook page

Toortsie se  Facebook page

Finesse Blogger of the week

Toortsie by Finesse: Wat maak jy met jou talente?

Toortsie by Pinterest

Plaasakkomodasie by Riversdal, Wes-Kaap

33 thoughts on “Mees gelese bloginskrywings en anonieme briewe

  1. Dis nogal interessant om so nou en dan na die statistieke te kyk, maar ek vererg my elke keer omdat ‘n ou blogpos van my wat handel oor kokkerotte (geskryf vroeg in 2015 toe ons net KZN toe getrek het) nog loshande die gewildste is. Dis ook ‘n seisoenale oplewing wat ek elke keer opmerk.

    Like

  2. Goeiste maar die mense bekyk jou vanuit alle hoeke, lekker om te weet mens se goed word gelees. Wel ek lees lekker aan joune en ja, soos jy weet meng ek my taal want ek is nie aldag seker wat ek nou eintlik is nie. By die werk doen ek fanagolo, by sommige familie doen ek rooitaal en aan huis doen ek Afrikaans, en so hier en daar Engels tussenin. Dus ek is eintlik verward, maar ek lees al te lekker aan suiwer Afrikaanse Blog inskrywings. Jy penaliseer my dus nie??

    Liked by 1 person

  3. Sies vir jou Toorts om so skeef te parkeer!!!! 😀
    Jy hou daarvan om mense te help…. so kommentaar of nie kommentaar nie… glo dat ander by jou skrywe baatgevind het.

    Like

  4. In my tuisdorp is skeefparkeer ‘n fyn kuns. Daarom dat ek na negentien jaar uit my tuisdorp inloop winkels toe omdraai en sien die Fordjie staan reguit. Dan klim ek maar terug en parkeer gou skeef. Ek kan mos nie my herkoms beledig nie.

    Liked by 1 person

  5. Ek het n vriendin wat die spesiale parkerings moet gebruik. Sy wag soms by die verkeerde moter en vertel die persoon presies wat sy dink. Sy sal ook die maatskappy waarvoor persoon bel en bestuurder inlig oor die parkering. As jongklomp hele paadjie vol sit en nie spasie maak nie sal sy sommer die polisie bel om te kom help(dis meestal jonges wat bietjie getrek is wat so moedswillig is)

    Like

    1. Die probleem is dat ‘n mens nie besef hoe verskriklik nodig daardie parkering is voordat jy dit self nodig het nie. In die laaste tye wat ek nog met my ma kon beweeg, moes ek altyd die eerste parkering kry. Selfs as daar 2 rolstoelparkerings langs mekaar is, is die een aan die linkerkant die beste. ‘n Mens sukkel om die persoon uit die kar te kry en het baie spasie nodig. Soveel keer sal iemand dan juis op daardie parkering staan. Ek het hulle al sit en bekyk: Dis ‘n jong, seksie vroutjie wat te belangrik is om verder te parkeer, of ‘n dik, ou man wat te lui is om ‘n tree verder te stap. Of ‘n jong dogter wat pas lisensie gekry het. Toe ek haar vra waar haar rolstoel is, toe sê sy ewe arrogant: Toemaar tannie, dis alles reg, die karwag het gesê ek mag hier parkeer. Toevallig is daar in daardie parkeerterrein nooit karwagte nie, so ek wonder!

      Like

  6. Ek is, sonder dat ek wil, ń skewe parkeerder. Al probeer ek hoe staan hy nooit haaks nie, gooi sy boud altyd bietjie uit na die een kant. Parralel parkeer ek baie mooi. So vergewe my maar mense.
    Ek is beindruk deur jou leserstalle. Mooi gedoen

    Like

    1. Met parallel sukkel ek regtig. Ek kan nogals mooi inkom. Ek dink dis makliker van die regterkant af as van die linkerkant af. Gewoonlik mik ek ‘n paar keer. Ek het gevoel die parkeerterrein is redelik leeg, daar was genieg ander staanplekke. Nou ja, iemand het anders gedink!
      Ek wonder party keer, as google die mense na die topbloginskrywing bring, of dit regtig is wat die mense gesoek het. Ek dink hulle soek werk, nie werk wat hulle self moet uitdink nie. Daardie bloginskrywing word daagliks ‘n paar keer besoek.

      Like

Gesels saam, asseblief!