Wat gaan aan met die Toortsie?

Omtrent net ‘n week gelede het ek vol opwinding vertel hoe Hier’s die Toortsie weer! vorder, nou vertel ek ‘n ander storie.

Daar was so ‘n ligte kinkel in die kabel, of ‘n padda in die pyp, maar alles loop nou weer mooi. Die bladuitleg wat ek gekry het was verskriklik mooi. Liela het haar alles, haar beste gelewer en regtig ‘n mooi werk gedoen. Die probleem was die leesbaarheid, en die groter probleem, die afstand tussen ons. Daar was net te veel veranderinkies en ek het bladsye en bladsye vol geskryf, tot ek moed verloor het. Ons moes net ‘n ander plan maak.

So, intussen is daar toe ‘n nuwe grafiese kunsenaar aangestel wat weer eens dag en nag werk om dinge gedoen te kry. Selfs ék het een nag vir Publisher gegryp en my eie, onprofessionele poging aangewend. Die probleem is: Die resepte in die boek is regtig goed en lekker, die foto’s is ongelooflik mooi en goed, dit help nie ons foeter nou alles deurmekaar met ‘n swak bladuitleg nie.

So, Joh-Marie werk en werk en soos dit inkom, smile ek meer en meer. Mense, dis mooi en leesbaar.

Maar nou kom die beplande 28 Oktober wanneer ek die amptelike bekendstelling wou doen, net te vinnig nader. Ons bloeddruk en bloedsuiker en cholesterol en al die ander lelike dinge hardloop sommer teen die plafon, net omdat ons gedruk voel vir tyd, en regtig, dis mos nou heeltemal onnodig! Ons doen mos eintlik hierdie ding vir die lekker, nie vir die spanning nie! Jitte!

Daarom gaan ons nie ‘n amptelike ‘launch’ hê nie. Maar moenie bekommerd wees nie, ek hou julle op hoogte! Sodra dit by die drukkers is en die proeflopie goedgekeur is, maak ek die pre-launch bestellings oop en sal julle dit teen ‘n spesiale prys kan koop. Die boek se normale prys sal ook R195 wees, net soos die eerste Toortsie, maar die pre-launch prys sal R160 wees. Hou dus solank julle geldjies reg. Die pre-launch sal loop van die dag wat die proef goedgekeur is totdat die koeriers die bokse by my huis aflaai. Dan is dit verby. Hou hierdie spasie dop!

Intussen, hier is ‘n proeseltjie!

As jy bang is jy mis die kennisgewing, raak deel van ons Facebookblad: Toortsie se Bantingresepteboeke. 

Groetnis

Toortsie

English Blog Posts

Toortsie se Bantingboerekosboek Facebook page

Toortsie se  Facebook page

Finesse Blogger of the week

Toortsie by Finesse: Die kleinkinders

Toortsie by Pinterest

Plaasakkomodasie by Riversdal, Wes-Kaap

25 thoughts on “Wat gaan aan met die Toortsie?

  1. Sjoe, ek lewe saam met jou! Dit lyk egter fantasties. Uitnodigend en uitdagend! Dit sal gebeur moenie worrie nie! Dis ook soos jy sê dis vir die lekker en nie om jou siek te mak nie. Tog het n mens n afsny datum nodig om mens te forseer om klaar te maak anders draai dit vir ewig.
    Sien uit na die boek.

    Liked by 1 person

        1. Sterkte. Het jy ‘n goeie proefleser? Ek het iewers gelees dat elke skrywer ‘n editor nodig het. Ek het dit nou ook maar weer besef. Ek was so seker die taal en alles is perfek, dan haal hulle nog weer foutjies uit.

          Like

          1. Ja profleser is my dood met die Engels saam. Gelukkig het ek ook goeie vriende wat my mooi wys waar die probleme lê. Het gister hele dag gesit en sukkel om my voorblad te doen en toe wys my een vriendin dat my boek naam n bietjie afbrekend klink! Sy is nog van die ou garde, weet nog nie of ek my aan haar gaan steur nie want n ander een het dit weer as spesiaal gesien.

            Like

Gesels saam, asseblief!