Die kalf is in die put

Lê-jou-eier: Wat maak Kameel bang

Die oumense was lief vir spookstories vertel, en dit het die hare op jou kinderlyf penregop laat staan. So ek was bang vir spoke maar het darem die bangheid ontgroei. Wat ek egter nie ontgroei het nie is engtevrees. Ek glo die vrees vir noutes het begin die dag toe die kalf in die put geval het. Nou goed, dit was nie ‘n put nie maar ‘n jakkalsgat of iets soortgelyk, en ‘n pasgebore kalf het daar ingeval. My oupa het staan en kopkrap – ons was nie naby die huis nie, maar vêr in die veld – toe besluit hy ek is net die regte grootte om in die gat kop eerste af te sak, die kalf aan sy pote beet te kry, en dan sal hy my kalf en al aan die voete weer terug aarde toe sleep. Ek het my laat afsak, maar die oomblik toe die aarde om my toevou, en dit skemer word raak ek paniekbevange, en skreeu soos ‘n maer vark. Die kalf was hier by my, ek kon sy oë sien maar daar was nie ‘n manier waarop ek nog een oomblik langer in daardie noute wou bly nie. Terug om moederaarde het ek net besluit nooit weer nie.

Dit het al twee keer gebeur dat Ken by ‘n winkel stop om brood te koop, en met die uitklimslag die motor sluit met my nog binne-in. Ons motor kannie van binne af oopmaak nie, dus is my onmiddelike reaksie een van paniek. My bors trek toe, die sweet begin my aftap, en ek begin soos ‘n bestene aan die venster hamer. Wanneer dit nutteloos blyk te wees, begin ek die klere van my lyf af pluk. (Nie om aandag te trek nie, maar van benoudheid.) Die eerste wat waai is my bloes. Gelukkig het Ken nog altyd teruggekeer voordat ek verder kon gaan.

Sowat ‘n jaar gelede kuier ons by ons seun aan die Suidkus. Drie spiere in my regterarm was verrek, dus was my arm onbruikbaar. Die Saterdagoggend klim ek in die bad om te stort. Dit is een van daardie storte met die glasskuifdeure op die bad se rand. Skaars die water oopgedraai, of ek beland kaplaks binne in die bad. Probeer soos ek wil kan ek myself nie uit daardie bad weer regop kry nie. Ek rol letterlik al in die rondte. My regterarm is buite aksie, dus kan ek nie op die bad se rand druk om my op te help nie. Aan die linkerkant is die reëlings vir die skuifdeure, dus is daar ook nie armdruk spasie nie. By nou begin ek benoud raak; die glasdeure is klaar so groot as moontlik oopgeskuif, en die spasie in daardie bad begin te klein raak. Ek probeer hande viervoet opstaan, maar beland weer op my rug.

Ken sal moet kom help; ek begin roep. Ons sestienjarige kleindogter vra van die deur af of ek “ok” is. “Please call grandpa for me,” vra ek, en sou seker hardop gelag het was ek nie so benoud nie. “Grandpaaaa, ouma is calling Liefeeeeeeling!!!” Liefling, van alle dinge… ek het Ken nog nooit liefling genoem nie. En toe slaan dit my soos ‘n vuishou tussen die oë; Ek het die badkamerdeur gesluit. Iets wat ek nooit doen nie – ek sluit nie eers ‘n publieke toilet se deur agter my nie. En net daar slaan die paniek toe. Ken roep van die deur af, maar ek kannie antwoord nie. Ek sit in daardie bad, en met elke bietjie krag wat ek het forseer ek my voete onder my lyf in, en lig myself op my tone stadig regop. Ek gly val die bad uit, en sluit die badkamerdeur oop. Aby, ons kleindogter staan met groot oë en kyk. Die rede vir die gladde bad hoor ek toe is Handy Andy wat sy in die bad gespuit het om dit te was. Sy is gou kombuis toe om ‘n nuwe spons te gaan haal, maar toe sy terugkom was ek klaar in die stort.

 

Copy & Paste die volgende paragraaf onderaan jou blog:

Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22). Laasgenoemde blogpos is opdateer op 2017-09-05

 

Advertisements
This entry was posted in 'In opdrag..... Bookmark the permalink.

17 Responses to Die kalf is in die put

  1. Sjoe – dit klink in elk geval baie benoud! Oulik geskryf.

    Liked by 1 person

  2. Siestog … ek sou darem hard geskreeu het

    Liked by 1 person

  3. dromer777 sê:

    Kry jou baie jammer. Maar skies tog dis erg snaaks😁

    Liked by 1 person

  4. O grieta, ek sal ook nie daarvan hou om toegesluit te word nie.

    Liked by 1 person

  5. Die storie met die kalf het beslis jou n knou gegee. Kan my nogal indink dat dit erg moes wees as kind. Die bad en stort is ook maar n gevaarlike ding. Daardie magtelose gevoel sal enige een angstig maak. Ek het nogal die geneigdheid om benoud te voel tussen baie mense. Veral n wedstryd waar daar duisende toeskouers is laat my voel of ek nooit die utgang gaan kry nie. Dit het eintlik begin toe ek saam met my pa Springbokke en Hane rugbywedstryd bygewoon het en ons die trappe moes afklim.Nes ek af tree kon ek nie my pa sien nie. Dit het my rerig gevang. Ek het toe al skool gehou en was al volwasse toe dit begin het. Die lughawe met so baie mense doen dieselfde met my.

    Liked by 2 people

    • Kameel sê:

      Jy laat my nou aan my man dink. As jy nou ‘n befoeterde man wil sien sit hom tussen skares. Ek het geleer as ek ‘n “show” wil geniet gaan saam met ‘n vriendin. Ons het eenkeer saam my suster, haar man en van ons groter kinders Phantom of the Opera gaan kyk… my man was saam. Hy het alles bederf met sy befoeterheid. En ek is juis so lief vir die Phantom musiek.

      Like

  6. Toortsie sê:

    Oe Kameel, dis verskriklik! Die meeste van alles die kalf-episode.

    Liked by 1 person

  7. Sjoe Kameel dit kon ‘n erge besering veroorsaak het. Ek is dankbaar dat ek nie hoogte- of engte vrees ken nie. Ek het wel eenmaal vir ‘n paar sekondes engte-vrees beleef in die in ‘n tonnel tussen Kango 2 en 3 van die Kangogrotte. Ek moet tog eenmaal daaroor blog oor die hele belewenis om tot by Kango 4 te gaan

    Liked by 1 person

    • Kameel sê:

      Jy kan gerus meer oor die grotte skryf…. net gelees waar die een ou vasgesit het… en julle hom op ‘n stretcher moes uitdra. Kan nou nie help om vir die prentjie te glimlag nie. Julle sou my in ‘n body bag uitgedra het 😕

      Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s