Kameel se grafsteen

Lê-jou-eier: My grafsteen

05-24 17My boom waaronder my as gestrooi sou word, het afgebrand, en nou moet ek vir ‘n nuwe plek soek. Een ding is seker, ek wil nie in ‘n gat gesit, en toegegooi word nie. Nog minder wil ek ‘n grafsteen hê waar my lof besing word. Maar ‘n taak is ‘n taak, en ek het hierdie een aangepak soos enige ander taak in die lewe; “As jy hom doen, doen jy hom ordentlik.” So terloops; Marlè lê mos die skuld vir haar perfeksionisme voor my deur, en diè motto van my.

Terug by die taak. Vir ‘n dag lank het ek gedink, en gedink, maar voor dooiemansdeur bly staan. Toe kry ek die briljante gedagte om die mense naaste aan my te vra hoe beleef hulle my. Ek het dit heel duidelik gemaak ek soek geen soetsappigheid nie (ek verpes soetsappigheid.) Skryf net ‘n sin of twee vir my grafsteen, vra ek.

Hier is die resultate:

Marlè: “Ag nee wat dit is nou gans te morbied.”

Kenneth: “Wat, Ma van plan om êrens heen te gaan?”

Jay: Waar moet ek die tyd kry vir dit.

Chantè: “RERAG (Sy sê altyd rêgtig so om my te verpes) WAT BEPLAN MAMMA????”

Die Stil Kind: “Ai, mammie laat my nou in trane uitbars. Voel dit of mamma se tyd naby is.” Ek moet bieg ek het gelag toe ek dit lees, maar het gou die saak reggestel, sy is ‘n baie sensitiewe mens. Toe sy eers verstaan dat dit vir ‘n taak is, skryf sy die volgende: “Mamma is altyd daar vir my met woorde om my moed te gee om aan te gaan. Liefde wat nooit sal opdroog. Dankie mamma vir wat ek vandag weet, vir die lag en geselsies wat ek nooit sal vergeet.”

Shane: “I have no memory or heard you say a bad word/negative talk about anyone… I’m sure you had them. That’s what stands out for me the most right now…. Which is quite awesome.

Nicoline (My sus Rika se dogter wat my haar konfidant gemaak het.) “Wat ek tannie voor respekteer is tannie se geloof en verhouding met Jesus. Tannie se hartsverlange dat elke kind wat tannie grootgemaak het werklik die planne wat God vir hulle het uitleef. Tannie se binnekamer is die oorlogskamer vir elkeen van hulle. Tannie is ook soos ‘n fontein waar baie mense, inkluis myself, net kom stilstaan vir vertroosting en raad. ‘n Borrelende fontein met lewende water van wysheid vir mense in die daaglike op en af van die lewe.”

Charlotte my beste vriendin: “Kameel het die lewe goed deurdink in haar verhouding met God en mense. Sy het haar beginsels en sieninge op die Woord van God baseer, en getrag om dit uit te leef met hulp van Bo. Sy was standvastig en regverdig met begrip vir haar medemens. Kameel was lief vir die lewe.

Mariana my jarelange haarkapster: “Jy is ‘n omgeemens het altyd tyd vir ander en hou van mense. Jy het egter jou eie tyd nodig en is ‘n no-nonsense mens. Jy is liefdadig en gee om vir jou familie. Ek ervaar jou as iemand wat die waarheid van ‘n situasie sal uitsorteer tot by die kern van die probleem. Jy lyk altyd vriendelik, en ek glo nie jy sleep kwade gevoelens saam nie. Dankie dat jy deel van my lewe kan wees.

Ja, ek is lief vir God en ek is lief vir mense… maar, die fontein borrel nie altyd nie, met tye is hy kurkdroog. My mond laat my ook maar in die steek, en met tye wens ek die hele wêreld, plus my huismense weg, en wil my kop in ‘n gat druk (net my kop) om nooit weer ‘n lewende siel in die oë te kyk nie.

So dan, “back to the drawing board.” Vergewe die Engels, maar ek hou van die gesegde. Ek oordink die lewe en my rol in dit…. en meteens gaan die lig aan. “My rol in dit!!” Is dit nie wat ek nog altyd oor die lewe te sê het nie. Ek wou drama gaan “swot,” maar is gekeer, toe word die lewe self een groot drama. So hier is my grafskrif:

Kameel, ‘n karakter uit die dramareeks – Uit moederskoot tot met die dood – het uit die kalklig getreë om te rus. Sy maak egter weer haar verskeining in ‘n opvolgreeks – Wanneer die basuin weerklink. Die aanvangsdatum vir die spesifieke reeks is nog onbekend; hou dus die spasie dop…..

Tot wedersiens

 

Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22). Laasgenoemde blogpos is opdateer op 2017-09-05.

23 thoughts on “Kameel se grafsteen

    1. Dankie woestynkind. Gelukkig staan ons eendag voor God in Jesus se geregtigheid. Dit sal darem wonderlik wees om “welgedaan” uit Sy mond te hoor ook. Mooi aand vir jou 🙂

      Liked by 1 person

    1. Dankie scrapy. Kan jy dink hoe absoluut pragtig gaan ons wees wanneer ons daar opstaan in ons verheerlikte liggame. Ek glo ook ons sou lekker gekliek en kekkel het, het ons nader aanmekaar gebly. Ek weet jy sê jy kekkel nie…. maar ek glo jy sou. Mooi dag in die poskaart!!

      Like

      1. AS die geselskap reg is vlot die woorde ook. Ek is steeds elke dag dankbaar om in die pragtige natuurskoon te kan wees. Dis so rustig soggens vroeg by skool met net die voëltjies wat besig is om wakker te word en om skoon lug in te asem. Geniet jou dag. Is Jakkarandas al aan die blom?

        Liked by 1 person

        1. Oooo scrapy, die wêreld is mooi op die oomblik maar wens vir lekker vars lug…. hooikoors is baie erg. Hier by ons is nie Jakarandabome nie, maar ons ry gewoonlik om te gaan kyk. Dink volgende maand is regte tyd. Jy praat van voëltjies; het mos gesê ek soek ‘n ander plek vir my as. Vanoggend stop ons by die kerk…. op ‘n plek is ‘n klompie koorsbome bymekaar en jy hoor net voëltjies sing. Dit is van lank af my gunsteling plek in die kerkgronde. “Net hier…. net hier kan jy my as kom strooi!” sê ek vir my man. Ek is bly jy geniet jou … tog wonderlik hoe die natuur ‘n mens kalmeer. Mooi dag vir jou!!!

          Like

Gesels saam, asseblief!