Die susterskap van die honde

Ek het 2 honde van dieselfde ras, noem hulle ouhond en jonghond. Ouhond is 9 jaar oud, jonghond 6 maande. Ouhond is nie aldag lus vir jonghond se gekejakker en karnuffel nie en vele aande, vermoed ek, mag jonghond nie by ouhond lê nie.

My seun het ook ‘n hondjie, jonghond se sussie. Wanneer sy by is, is ouhond jonghond se sussie se maat. Sussie mag omtrent bo-op ouhond lê, maar jonghond mag nie naby kom nie.

Vanoggend was dit D-dag. Jonghond moes veearts toe. Ons wil nie oor 6 maande 9 klein hondjies ook nog op die werf hê nie.

Vroegoggend roep ek vir jonghond, sy vertrou nie die vrede nie en ek moes haar letterlik dra kar toe.

Ouhond bly alleen agter. Die gesig hang, skouers hang, skewe stert hang. Heeldag hang hier ‘n wolk oor ons erf. Ouhond eet nie ‘n stukkie nie.

Laatmiddag gaan haal ek vir jonghond. Sy is seer en skaam. Die stert swaai sulke klein swaaitjies. Ons moet haar in die kar intel en weer uittel. Sy vertrou steeds nie die vrede nie en wil nie in die huis inkom nie en dis koud en die wind waai.

Wie sal haar oorreed? Ouhond! Dis ouhond wat haar gaan haal, met liefde en geduld hanteer, wat haar bring tot in die sitkamer waar hulle kussings lê. Ouhond gee ook sommer glad nie om dat jonghond ‘n bietjie wyer lê as gewoonlik nie, en bly waak oor haar. Te mooi lê die tweetjies sy aan sy.

Dalk het ouhond vandag ‘n bietjie oor haar ongeduldigheid gedink! Wie weet?

English Blog Posts

Toortsie se Bantingboerekosboek Facebook page

Toortsie se  Facebook page

Finesse Blogger of the week

Toortsie by Finesse: Skemerkelkie

Toortsie by Pinterest

Plaasakkomodasie by Riversdal, Wes-Kaap

14 thoughts on “Die susterskap van die honde

  1. Is dit nie net te wonderlik nie. Hoe hulle net weet. Ons Emma weer, wil heeldag so na as moontlik aan kleinste seuntjie bly lê. Boetie is cronies siek en kry volgende week ń operasie. Asof Emma hom oppas. Sy verwilder arme labrador heeltyd, wat eintlik die kleinkinders sn is, en so verwyl sy haar dag. Paraat. Naby hom.

    Liked by 1 person

  2. Arme hondjie is “verkeerdgemaak” by die veearts. Ek sit en lees juis een van James Herriot se vele boeke, wat ek al uit my kop uit kan opsê! Hone, en ook katte, se aanvoeling is eg en erg. Ook perde s’n.

    Liked by 1 person

    1. Dit was regtig ontstellend hoe die twee gister opgetree het. Nou us hulle oraait.
      Toe my broer een nuwejaarsdag dood gelê het en ek op my bed gelê en rou het, het my labrador die hele tyd voor my kamerdeur wag gehou. Tot ek beter gevoel het, toe het sy in die son gaan lê.

      Liked by 1 person

      1. Toe ek gestremd en gefrustreerd was, was dit die pointer en die labrador wat my kom opsoek het as ek van binne gebloei het. Hulle het my emosionele pyn op ‘n myl aangeoel en my voete kom lek om my te troos.

        Liked by 1 person

    1. Ja hulle is goeie vertroosters. En net so versigtig sy gister vir my was, net so oorweldigend is sy vanoggend in haar liefdebetoning om vir my te sê dis okay. Tog soek sy ook nog troos, sy klim amper bo-op my, waar sy gewoonlik net met haar koppie en een poot op my skoot lê.

      Liked by 1 person

Lewer kommentaar op HesterLeyNel Kanselleer antwoord