Gee en ontvang

Lê-jou-eier: Gee en ontvang

Picture88Vroeg in my getroude lewe saam met Andrè, is ek van my trots om te ontvang gestroop. Daardie jare was ek nog hoogs rebels, en my familie het my maar versigtig genader. Hoe my ouers uitgevind het van ons finansieële verknorsing weet ek nie, maar op ‘n dag kom kuier my ousus. Met die loopslag sê sy, sy het vir my iets in haar kar. Sy maak die kattebak oop, en daar voor my oë is sakke, en sakke, en sakke vol kruideniersware, en ‘n sak groente ook. Dit kom van haar en my ouers af sê sy. En wat doen ek? Ek is smoorkwaad, en wys dit ook. Ek aanvaar die kruideniersware maar kook nogsteeds die volgende dag by die werk. Suzanne – ‘n pragtige kind van God, en oud genoeg om my ma te wees – praat met my daardie dag oor “gee en ontvang;” Haar woorde loop nogsteeds saam met my deur my lewe, en ja, ek aanvaar nou geskenke, en hulp met groot dankbaarheid.

Ek is egter nie ‘n geskenke mens nie; die kanse dat jy ‘n geskenk van my gaan kry is maar skraal. Wanneer dit by geskenke kom het ek nie ‘n idee wat om te koop nie, en dit is ook nie op my lys van wat werklik belangrik is nie. Net Vrydagaand het Marlè en Jay my kop behoorlik gewas oor hierdie saak. “Mammie gaan kuier NIE by mense met leë hand nie, as mammie nie weet wat om te koop nie, vat vir hulle blomme!!!” sê Marlè toe ek my dilemma aan hulle probeer verduidelik. Dit is Ken wat later die twee stilmaak met diè woorde, “Leave your mother alone you know she is not a giver.” Dit het wel die gekibbel oor gee en ontvang tot ‘n einde gebring, maar ek was hartseer dat my huismense nie my hart verstaan nie.

Gee en ontvang hardloop vir my veel dieper as die uiterlike gee van dinge. (Ek praat nie van nood by armes of hulp in verknorsing nie.) Of daar koek by die tee is wanneer ek vir jou gaan kuier is nie belangrik nie; om die waarheid te sê die tee is nie eers belangrik nie, nee, jy as mens is belangrik!! Die feit dat jy tyd gemaak het om jouself met my te deel, is ‘n geskenk wat geld nie kan koop nie. Wanneer jy my dan nog boonop vertrou, en jou hart teenoor my oopmaak, loop my beker oor. Verlede week sê Charlotte my vriendin van jare, vir my oor die foon dat sy ons weeklikse kuiers so mis (Vandat Ken by die huis is het dinge verander,) “Jy moet weet jy is al mens met wie ek die diep dinge in my hart mee kan deel,” eindig sy ons gesprek. Sulke woorde is mos ‘n riem onder die hart… ‘n wonderlike geskenk.

Al wat hierdie gee en ontvang van jou as mens vra is tyd. Tyd om werklik by iemand stil te staan, en te luister. Sondae na kerk drink ons gewoonlik eers koffie of tee by die koffiekroeg. Amelia, ‘n engel van ‘n mens is gewoonlik saam met haar man daar. Sy is seker na aan haar tagtigs, ‘n sagte mens wat altyd glimlag. “Hoe gaan dit met jou Amelia?” vra ek toe sy kom groet. “Goed,” glimlag sy. Ek vat haar hand, kyk in haar oë en vra weer, ‘Hoe gaan dit rêgtig met jou Amelia?” Net daar skiet haar oë vol trane, en ‘n storie van diep hartseer stort oor haar lippe.

Dit dan is vir my die “essence” van gee en ontvang. Natuurlik is ‘n fisiese geskenk ook baie welkom…. nê Toorts. Die posman was netnou hier!!!

Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, kliek op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke.

 

18 thoughts on “Gee en ontvang

  1. Ag Kameel, nou het jy my sommer (onbedoeld, ek weet) oor die vingers getik, want ek is baie selfsugtig met my tyd. Ek sal heeldag saam met my gesin spandeer en dit geniet, maar ek deel nie maklik my tyd met mense buite my huiskring nie – ek kuier nie na behore nie (behalwe in blogland). Nog iets op my lysie waaraan ek moet werk. Dankie vir die deelname.

    Liked by 1 person

    1. Ons is maar elkeen uniek gemaak Hester. Die koop van ‘n geskenk kom miskien weer maklik by jou, terwyl dit vir my ‘n kopseer is. Ek sal ook nou maar moet maak soos Marlè sê en ‘n blom of iets saamvat wanneer ek weer na mense toe gaan.

      Liked by 2 people

        1. O my gatta!!! soos my ma sou sê. Jy is jou eie mens Hester, en jy kuier lekker saam met jou familie. Dit sê baie. Party mense kom nie eers met hulle familie oor die weg nie.

          Liked by 2 people

  2. Tyd is ń baie meer waardevolle geskenk om te gee as iets wat jy koop. Ek is effens soos Hester, kuier eerder met die kinders en kleinkinders. Jy het jouself goed hier uiteengesit. Baie van ons verkies kwaliteit tyd bo geskenke.

    Liked by 1 person

    1. Una ek besef dat hierdie iets hier binne my wat die wêreld wil omhels en teen my bors vasdruk nie uit myself kom nie, maar dat dit ‘n gawe van God is. Ek voel weer dat ek te kort skiet wanneer dit by fisiese geskenke kom…. maar dit is werklik vir my ‘n kopseer. Geniet jou dag en ek vertrou dat jou nuwe winkel ‘n groot seën sal wees.

      Like

  3. Kameel, alhoewel ek my 10e met liefde gee en ek regtig ingestel is op nood van ander waar ek kan help, is ek ook nie regtig ‘n geskenkemens nie. Ek voel altyd my geskenkie is verkeerd en baie selfbewus met wat ek vir mense gee.
    Tyd is ‘n wonderlike ding om vir iemand te gee. Ek dink dis die toppunt van gee.

    Liked by 1 person

    1. Ek is juis besig om deur jou geskenk vir my te lees Toorts 🙂 Weereens baie dankie. Jy gee op baie maniere en ek dink nie jy moet jouself te lig weeg wanneer dit by geskenke kom nie. Miskien het ek dit al voorheen vir jou gesê maar ek bewonder jou onbaatsugtige gee om ander ‘n hupstoot vorentoe te gee. Jy doen dit sonder om self bedreig te voel en dit is ‘n wonderlike gawe.

      Liked by 1 person

  4. Jy het nou n goeie beskrywing gegee van hoe belangrik daardie tydjie van net luister is. Ons is almal in tydnood en tog word die tydjie wat mens uit liefde vir iemand gee dubbel en dwars teruggegee. Dit is n kuns om net te luister. Die vrou wie se huis ek opgepas het waardeer my tydjie wat ek aan haar afstaan. Ek waardeer ook weer haar tyd wat sy met my deel. Ons is geesgenote, sommer van die begin af. Ek gee vir jou n blommetjie as bewys dat heerlik is om jou te mag ken.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!