Skoene wat pas en groot voete

Hester het ons gedagtes behoorlik op hol met haar idiome. Ek wou al oor nog geskryf het, en het gedink ek is nou oordadig.

Ons het op skool geleer dat, as die skoen jou pas, trek hom aan. Later het ek gehoor, as die skoen jou pas, trek die riempie vas. Ek hou baie meer van hierdie een!

Deesdae moet ‘n mens so versigtig wees met wat jy sê, jy kan net dalkies op iemand se tone trap en dan is die gort gaar. Die probleem is juis dat pap wat te dik aangemaak is, maklik aanbrand!

Mense is so sensitief deesdae en neem jou vreeslik kwalik as jy dalk ‘n sensitiewe snaar aanraak. Soms wonder ek of dit nie pleinweg onvolwassenheid is wat dit aanhelp nie. Ai, en hier trap ek al weer op tone, maar sommige voete is groot en party tone soek om getrap te word.

So, my vriend, as die skoen jou pas, trek die riempie vas. Kyk na daardie sensitiwiteit wat jou so diep raak, oordink dit en werk daaraan. Bou ‘n brug en kom daaroor. Wanneer daardie seer toon gesond is, kom jy dalk as ‘n sterker en beter mens anderkant uit. Komaan, trek jou sokkies op en werk aan daardie goedjies wat vir jou pla. Werk aan jouself en jou volwassenheid.

Pas hierdie skoen jou dalk? Dan is Ally Shoes in Hermanus net die plek vir jou! (Kliek op die foto om by Ally Shoes uit te kom)

 

Groetnis

Toortsie

English Blog Posts

Toortsie se Bantingboerekosboek Facebook page

Toortsie se  Facebook page

Finesse Blogger of the week

Toortsie by Finesse: Tot seën van ander

Toortsie by Pinterest

Plaasakkomodasie by Riversdal, Wes-Kaap

“Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, kliek op die volgende InLinkz skakel:

 

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke.

Nuwe onderwerpe word aangekondig elke Donderdag om 12:00 en sluit outomaties na een week.”

41 thoughts on “Skoene wat pas en groot voete

  1. Sien, dit is die rede waarom ek aandring om net leer vellies te dra. Benewens die feit dat hulle gemaklik pas, het ek dan ook iets om aan te kou terwyl ek met my voet in my mond sit vir een of ander onsosiale ding wat ek nou weer kwytgeraak het.

    Liked by 2 people

  2. Dis nou lekkerkry-praat. Vergeet van oordaad Suster, laat waai en skryf. Ons het nog twee dae oor om by daai skakel te las en daar is geen rede waarom ons nie ‘n opvolg kan doen nie. So, “laat jou hare hang” het ons altyd gesê. As ek tyd kry, wil ek ook nog wat te sê hê oor ons familiespreuke.

    Like

  3. Vergewe my maar ek wil ook ‘n stuiwer in die armbeurs gooi. Jy het ons koppe nou goed gewas en daarom het ek ‘n appeltjie met jou te skil. As jy dink ek maak ‘n berg van ‘n molshoop is ek jammer, maar ek voel in die gesig gevat. Jy hoef nie bang te wees ek gaan jou tot by oom Daantjie in die kalwerhok slaan nie; daarvoor is ek te lig in die broek. Die poppe sou behoorlik gedans het, maar ek gaan die horings intrek, my strydbyl neerlê en dit afmaak as niks. Moet jy nou net nie op jou agterpote staan nie; ek het tong in die kies gepraat. 🙂

    Liked by 2 people

      1. Dis die eerste keer wat ek van die rosie in haar hoed hoor. Ons kan sowaar maar nog ‘n week oor idiome skryf…. daar is so baie van hulle. Mooi dag vir jou!!

        Like

          1. Toorts ek vra sommer hier. Hoe kry ek daardie blou paddatjie by my blog. Ek het verlede week sommer joune gebruik om by Hester se Link uot te kom.

            Like

Gesels saam, asseblief!