‘n Nuwe seisoen

FB_IMG_1503304178161
‘n Skoondogter soos Anna

Kenneth ons kunskind het ‘n paar ernstige verhoudings gehad voordat hy uiteindelik getrou het. Marlè het vir hom gesê sy weier om weer lief te raak vir ‘n meisie van hom, om net teleurgestel en hartseer te wees wanneer die verhouding op die rotse loop. Marlè het hardop gesê wat ons almal in ons harte gevoel het. Toe hy dus die dag ‘n swartkop meisie aan ons kom voorstel, was ons vriendelik maar het nie soos altyd ons harte dadelik vir haar oopgemaak nie.

Die twee het Europa gaan toer, en met die terugkomslag was dit duidelik dat die verhouding heel ernstig was. Ek kon hierdie meisie van hom nie peil nie; sy was nie soos sy vorige meisies sag en vroulik en afhanklik nie. Inteendeel, sy was ‘n fiksheid-instuktriese met ‘n pragtige gespierde liggaam, wat gewigte gestoot het, en nie ons tipe kos geeët het nie. Wat sterk in haar guns getel het is dat sy ‘n  Spaanse danseres was; ongelukkig het sy daarmee opgehou toe sy besluit het om meer tyd aan liggaamsbou te bestee. Sy het aan kompetisies begin deelneem, gewen, en gewen, en gewen. Ek het gewoond geraak aan haar in die kalklig met krone op haar kop, trofeë in haar hande, op die buiteblad van ‘n tydskrif, of artikels van haar binne-in. Sy het eenkeer ‘n week op tv verskyn, het “bootcamps” vir manne en vroue, is ‘n motiverings spreekster ens. ens. ens. Verlede jaar is sy Orlando toe, waar sy aan ‘n liggaamsbou wêreldkompetisie deelgeneem, en tweede gekom het.

Intussen is sy en Kenneth getroud, en ek het van die begin af vrede daarmee gemaak dat hulle nie kinders sal hê nie. Toe hulle ‘n paar jaar gelede in daardie rigting begin praat het, het ek dit nie te ernstig opgeneem nie. Tyd het aangestap, hulle is beide onvrugbaar verklaar, en ‘n jaar of wat later het my skoondogter van aanneming begin praat…. maar Kenneth wou nie byt nie. (Ek het al hieroor geskryf maar herhaal maar weer.) Verlede jaar het hulle dit ‘n saak van gebed gemaak, en toe die dokter in Oktober vir hulle sê dat hulle nou vrede moet maak met die feit dat hulle albei onvrugbaar is, en nie kinders kan hê nie, was Kenneth ontstoke. “No man is going to tell me something is impossible, when God said it is possible,” was sy woorde oppad kar toe.

Desembermaand sê my skoondogter vir my iets wat my verbaas na haar laat kyk. “Ma, ek is nou so moeg vir spiere, ek wil skreeu. Al wat ek heeldag hoor is kyk hierdie spier of kyk hoe mooi is my armspiere.” Toe moes ek geweet het hierdie skoondogter van ons word voorberei vir ‘n nuwe seisoen in haar lewe. Sy het kort daarna swanger geraak en verlede Dinsdag is daar vir hulle ‘n seuntjie gebore. Ons is almal so dankbaar, so bly en soos Kenneth ‘n rukkie terug vir my oor die foon gesê het, “Ek kannie ophou kyk na hom nie, hy is so mooi.” En net vir ingeval julle wonder; ja, ek het deur verloop van tyd lief geraak vir hierdie anderste skoondogter van ons met haar passie vir die lewe. Ek glo sy gaan ‘n wonderlike ma uitmaak, en om ma te wees is meer werd as al die krone op hierdie aarde.

25 thoughts on “‘n Nuwe seisoen

    1. Dankie Abrie….. ons koker is vol. Of is hy besig om oor te loop? By 16 het ek gedink die kleinkinders is voltallig…. nie die nuwe seisien in ag geneem nie. Tyd sal leer of dit by 17 gaan stop 🙂

      Like

  1. Nuwe seisoen is baie gepas hier! Dit wys tog ook dat die mens wik maar God beskik. Baie, baie geluk vir julle! Dis heerlik om te weet dat die twee tog wel “vrugbaar” was of is. Ek dink self nou ook ver terug. My man het voor ons getroud is gesê hy is onvrugbaar. Sou dit n verskil maak as ons geen kinders kry nie? Wel, God het beskik en ek(ons) het het wel n seun gekry.Hy is tot vandag nog steeds n wonderwerk. Wat sou ek sonder hom in die lewe gedoen het? Dis alles net vreugde.

    Liked by 1 person

    1. Dankie Scrapy. Sowaar die mens wik maar God beskik. Die Here het geweet hoe nodig jy eendag hierdie seun van jou gaan hê. My skoondogter sê die fabriek is nou oop… sal sien wat nou verder gebeur. Ek het voorheen gesê ek hoop net ek bly by met al die name…. ek het nou 17 om te onthou 😯 Geniet jy nou jou dag (of nag) en die Here seën!!!

      Like

      1. Ek gaan amper slaap. Ons het die pragtigste oggende gehad die week. As ek so skooltoe ry dan dink ek telkens aan jou poskaart beskrywing hier. Dis werklik soos n poskaart hier. Ek ry so kwart oor sewe soggens. Son kom net op en die mistigheid hang in sulke flarde tussen heuwels! Ek is so dankbaar om hier te wees naby my kind in so n pragtige plek. Klein Bea gee my net soveel plesier. Geniet jou no 17. Hoop jy het n heerlike geseënde dag.

        Liked by 1 person

    1. Geluk ouma Son, mag hy/sy vir julle groot vreugde bring 🙂
      Dankie…. ja, sy is mooi; het ‘n mooi persoonlikheid ook. Vroue praat van haar as ‘n rolmodel wat haarself uitgee vir ander.

      Like

Gesels saam, asseblief!