Toentertyd se Ouplasers

Dirkie het ‘n foto op Faceboek gesit van ‘n gebreide hangeroortreksel. Waar kan sy die patroon kry?

Ek het dit! Ek moet mooi gaan soek en kyk dit toe amper mis daar waar ek gedink het dit was.

Wie is tannie Martha? Ek belowe ek sal op my blog vertel. Soos ek oor die Ou Ouplasers dink, kom name by my op waarvan ek al die gesigte vergeet het en gesigte waarvan ek die name vergeet het.

Ek is ‘n Ouplaser. Ja, ek is ‘n Bredasdorper ook, of ‘n Overberger of Wes-Kapenaar, as jy regtig wil, maar as jy die mikoskoop op sy fynste stel, is ek ‘n Ouplaser. Ons het so ses km van Ouplaas af gebly en as jy daar verby ry, sê die padbord: ‘Ouplaas: Skool, winkel, kerk.’ Dis omtrent al waaruit Ouplaas bestaan, en natuurlik sy mense.

Ons bedrywighede het redelik rondom Ouplaas gedraai as kind. Ons was daar in die skool. Een keer per maand is daar kerk gehou, twee keer per maand het ons Ouplasers saam bidure gehou, jaarliks is ‘n volle Pinksterreeks van 10 dae daar aangebied. Ons het vrouediensvergaderings daar gehad en wat nog alles. Op Ouplaas het dinge gebeur!

In my kinderlewetjie was tannies Mags en Willa baie prominent. Ek het baie by hulle gebly. Twee oujongnooiens. As een van hulle verjaar het, het ons hele skool altyd vir hulle gaan sing en dan het tannie Mags vir ons almal lekker koekies en tuisgemaakte lekkers en koeldrank aangebied.

Dieselfde met oom Johnie en tannie Martha. Oom Johnie was tannie Mags se broer. ‘n Regte platjie en kindervriend. Hy het altyd by die pinksterbidure tussen ons kinders kom sit. Dís nou behoorlik om Wolf skaapwagter te maak. Sy naam was Afrikaans uitgespreek met ‘n sagte J en ‘n lang ô. Jônie, nie Johnnie.

Oorkant die riviertjie het nog ‘n broer van hulle gebly, oom Pieter en tannie Bes. Ons het hom geken as oom Pieter Jack. Hy het ‘n hele turksvyboord gehad in verskeie variëteite en as jy turksvytyd daar gaan kuier het, sou hy vir jou die een na die ander turksvy skil totdat jy genoeg gehad het.

Dan was daar tannie Magrieta en ek kan sowaar nie haar van of haar man se naam onthou nie, oom Jan! Oom Jan Koning en tannie Magrieta!,en oom lang Daantjie en ek dink, sy vrou was tannie Kootjie. O gits! André sê oom Lang Daantjie het nie ‘n vrou gehad nie. Ek was baie jonk toe hulle dood is, so ek het min herinneringe aan hulle. Ek kan wel onthou dat ek saam met my pa by hulle gaan kuier het.

Die winkel se bestuurder, wat destyds oom Eric Pratt was en tot my skande kan ek nie nou die tannie se naam onthou nie, het in die huis langs die winkel gebly en die skoolhoof op die skoolgronde. Francois het my nou herinner, dis tannie Kitty. Oom Eric het altyd ‘n koerantbladsy in ‘n keël gedraai dan het jy los lekkers daarin gekoop.

Op ‘n stadium was daar ‘n huis reggemaak waar die juffrouens gebly het. Voorheen was dit ook ‘n ou winkel.

Het ek nou al gesê wie was tannie Martha? Ja man, sy was bekend as tannie Martha Johnie. Ons het heelwat by hulle gekom en as ek langsaan by tannie Mags hulle gebly het, het ek graag daar gaan koeldrank drink. Haar huis was ‘n bietjie moderner as tannie Mags hulle s’n wat nie eers ‘n badkamer in gehad het nie.

So dit was die ou Ouplasers van destyds. Oom Jan en tannie Ina was van die ‘jonges’, my ouers se petuurs.

Groete
Toortsie

English Blog Posts

Toortsie se Bantingboerekosboek Facebook page

Toortsie se  Facebook page

Finesse Blogger of the week

Toortsie by Finesse: Koop tyd

Toortsie by Pinterest

Plaasakkomodasie by Riversdal, Wes-Kaap

8 thoughts on “Toentertyd se Ouplasers

Gesels saam, asseblief!