Klein kindertjies

Klein kindertjies kan so kosbaar wees sonder dat hulle dit besef. As jy hulle net ‘n klein bietjie omgee wys, gee hulle dit in emmersvol terug.

Die vreemde ou dogtertjie staan net by die popperak met die pakkie joghurt onder die arm, sy kla nie, sy kerm nie, vra nie. Haar pa probeer sy bes om haar daar weg te kry, maar staan, staan sy. Ek vra haar watter pop is vir haar die mooiste. Eers reageer sy glad nie, dan, skielik, gee sy my ‘n skitterglimlag en wys net met die vingertjie watter een. Ek vra van watter pop hou sy nog, maar die vingertjie wys weer dieselfde pop. Skielik raak ek aan die bewe. Wát keer my om vir haar die pop te koop? Die dankbaarheid in daardie ouers se gesig het boekdele gespreek.

Soos Hartjie H.  Ons het jare naby mekaar gewoon, maar sy was baie skaam. Skielik kry ons meer met mekaar te doen, ons tel saam, ons gaan stap saam. Toe ek vir haar ‘n dikwoltruitjie gee, dra sy dit sonder ophou, selfs al is die moue ietwat lank. Die Frozen pop vir haar verjaarsdag word gedruk en gesoen in vreugde.

Dompeldoortjie, die outistiese liefiekind, wys weer sy liefde op sy eie unieke manier. Kuier ons daar en ek sit op die bank, kom lê hy met sy beentjies oor my skoot of hy kom so met sy gesiggie tot teenaan myne, of hy flap net sy handjies vreugdevol om sy blydskap oor tannie Toortsie te wys.

Met Appeliefie, klein kordate slimjan, moet jy op jou tone wees. Tannie Toortsie se bottel water fassineer hom. Eers dink hy dis syne en Toortsie kry ‘n baie harde uitroep van ontevredenheid. Dan besef hy, hy het sy eie water en kom stel die saak plegtig reg, net om vyf minute later vreeslik mooi te kom vra of hy ‘n slukkie van tannie Toorts se water mag kry. Toe Toortsie borde en bakke nodig het vir kosfoto’s, pak hy amper hul hele huis uit, net om vir tannie Toortsie te help! 😁

Vanoggend sit daar die pragtigste witkoppie voor my in die kerk. Sommer gou loer hy om en maak vir my ogies. Toe ons regop staan om te sing, vee ek saggies oor sy hare. My hande bly op die bank voor my se rugleuning en keer op keer voel ek ‘n klein koppie in my hand, soekend.

God voorsien op baie maniere.

Toortsie

English Blog Posts

Toortsie se Bantingboerekosboek Facebook page

Toortsie se  Facebook page

Finesse Blogger of the week

Toortsie by Pinterest

Plaasakkomodasie by Riversdal, Wes-Kaap

 

15 thoughts on “Klein kindertjies

  1. Truly I tell you, unless you change and become like little children, you will never enter the kingdom of heaven. Therefore, whoever takes the lowly position of this child is the greatest in the kingdom of heaven. And whoever welcomes one such child in my name welcomes me.
    Ek het nie ander woorde nie.

    Liked by 1 person

  2. Hierdie is werklik ‘n baie mooi skrywe. In 2015 by die Big Swing in Graskop (jy spring en val 68 meter reg af en swing dan vir paar minute, was daar ‘n pa en sy seun (nog in laerskool en daarom te jonk om alleen te spring) wat tandem gaan spring. Dit is ‘n groot man en vol bravade voor die tyd, maar toe dit by die spring kom verstar hy met sy seun reeds vasgemaak aan hom. Hulle het vir ‘n paar minute daar gestaan op die rand met die seun wat vra wanneer hulle gaan spring. Die teleurstelling in sy seun was baie groot. Ek was op die punt om aan te bied dat ek saam met die seun sou spring, maar het besef dat die dalk ‘n nog meer negatiewe impak op die pa sou gehad. Die seun sou dit seker geniet het maar wat sou dit in sy denke t.o.v. sy pa geskep het. Hierdie word dalk nog ‘n bloginskrywing en indien wel sal ek jou ping.

    Like

Gesels saam, asseblief!