‘n Onwillige Gas

My kleindogter se troudag breek sonskynhelder aan. Ek is bly vir haar maar my gemoed is swaar; ek wil nie vandag by diè troue wees nie. Ek het ‘n geldige rede gehad om die uitnodiging van die hand te wys – reëlings vir ‘n drie weke kuier by ons seun aan die Suidkus was reeds getref – maar ek het soos die Engelse sê, ‘n “gut feeling” gehad dat ek by die troue teenwoordig moet wees. Hoe nader die troudag gekom het, hoe meer het ek daarna opgesien, en hoe meer dikwels het ek met Jesus daaroor gepraat.

“Jy lyk mooi,” sê Ken vir my oppad troue toe. Komende van hom is dit ‘n groot kompliment; hy is nie een wat heeldag loop en mooipraatjies maak nie. Maar tot dit laat nie my hart rustiger klop nie. “Gaan hierdie troue ‘n herhaling van Timothy s’n wees?” wonder ek. Timothy, my liefdeskind wat ek vir vyf jaar grootgemaak het. Ek, die biologiese ma wat op sy troue sonder woorde duidelik gewys was waar ek hoort. En vandag trou sy dogter. By die troulokaal aangekom neem ek myself voor om so vêr moontlik op die agtergrond te bly.

Ons stap met ‘n kronkelpaadjie deur die veld; hier en daar hang ‘n bottel met ‘n wit blom in, maar ek verlustig my nie aan die mooi soos ek andersins sou nie. Voor ‘n klipkerkie staan ‘n klompie mans in aandpakke, maar ek het net oë vir Timothy wat lyk asof hy uit ‘n modetydskrif gestap het. My hart swel van trots oor die aantreklike seun van my. Ons lag oor die bier wat hy in sy hand vashou. “My senuwees is klaar,” sê hy, en aan sy stem kan jy die hartseer van ‘n pa hoor wat sy enigste dogter aan ‘n ander man moet afgee. Met die wegstap sê hy vir my, “Ma gaan sit asseblief voor in die kerk, nie agter nie.”

Ons gaan sit vier rye van voor in die kerkie met sy hoë openinge waardeur die lig pragtig skyn. ‘n Ruk later kom Timothy se grootmaakma, en haar kinders ingestap en gaan sit regsvoor. Sy staan op toe sy ons sien, en kom groet. Dit is ‘n mooi gebaar van ‘n vrou wie my deur die jare nie besonders goedgesind was nie. Die minute tik verby; die kerk vul met mense, en dan begin die troumars speel. ‘n Vinnige blik na die bruid sê vir my wat ek reeds vermoed het; haar swart hare hang lank en los, en ‘n trourok laat haar nie mooier lyk as wat sy altyd is nie. Kort voor haar troue het sy haar oupa – wat êrens op ‘n Griekse eiland bly – probeer opspoor. Ek kon haar nie meer inligting gee as wat ek jare tevore vir Timothy gegee het nie. Sy was teleurgesteld, en ek het haar met diè woorde probeer troos, “If you want to know what he looked like when he was young look in the mirror…. you are his split image.” Dit is egter op Timothy wat my oë vasgenael bly. Die emosie op sy gesig maak my hart week; die trane wat hy so hard probeer terughou vind weerklank in my eie hart.

Ek het nie geweet wat om van ‘n Mormoontroue te verwag nie, maar alles verloop normaal. Die man wat hulle trou was blykbaar ‘n ou vriend van die bruidegom se pa gewees. Aangesien ek nie weet hoe hulle aangespreek word nie, noem ek hom van hier af “die prediker.” Na die roosblare gestrooi, en gelukwensings mildelik uitgedeel is word die bruidspaar weggeraap om fotos te gaan neem. Weereens stap ons met ‘n kronkelpaadjie dieper die veld in, en kom by ‘n gebou uit wat soos ‘n kasteel lyk. Onder die groot bome in die tuin is daar tafels en bankies waar mense reeds lekker sit en gesels. Ken gaan haal vir ons “punch,” en ons gaan sit by ‘n leë tafel.

Nie lank nie of Timothy se grootmaakma kom sit by ons. “Daar is ‘n rede hoekom ek jou vandag in die kerk gegroet het,” sê sy, “ek wil vrede maak.” My hart hou nie “grudges” teen haar nie, maar heel duidelik het sy nie vrede in haar hart teenoor my nie. “Jy het mos vir Timothy en Amile afgeteken” praat sy verder. Ek skud my kop, “Nee, ek het hulle nooit afgeteken nie, Andrè het alles met ‘n spul leuens verdraai, en met hulle gevlug.” “Ek was vertel jy het hulle afgeteken,” Is dit werklik nodig om die hartseer van die verlede oop te grawe? wonder ek, maar besef dat sy dinge op haar hart het wat pla. Sy wys na ‘n operasiemerk op haar nek, en sê dat dit te danke is aan Marlè wat op vyfjarige ouderdom van haar weggeneem is. Ons gesels daaroor maar vind dit onmoontlik om ons pad tussen die leuens deur na die waarheid te vind. Sy gesels verder oor meer persoonlike sake tussen haar en Andrè, en voordat sy opstaan om te loop vra sy my een guns; sal ek asseblief vir Marlè vra om haar te kontak. Dis ‘n redelike versoek, maar een wat my laat verstar. Vir negentien jaar noual praat ek en Marlè glad nie oor haar verlede nie. Sy het die deur op haar pa en broers toegemaak, en nie eers toe Andrè dood is, het ek die moed gehad om haar daarvan te vertel nie. Ek probeer dit aan Timothy se grootmaakma verduidelik, maar sy vat nie “nee” vir ‘n antwoord nie, en ek gee haar my woord dat ek vir Marlè sal vra.

Die prediker kom sit by my en Ken, en kort voor lank gesels ons land en sand. Hy lag heerlik toe ek hom vertel dat ek vir God gesê het ek is nie ‘n baksteen nie, en vir jare diè spesifieke gedeelte uit die Skrif vermy het. Tussen die gesels deur gaan haal Ken vir ons – vanaf ‘n pragtig gedekte tafel – die heerlikste sjokolademoes koek. Eers later sou ons uitvind dat dit die troukoek was waaraan ons so heerlik gesmul het. Gelukkig was ons nie die enigste sondebokke nie!!!

Die bruidspaar keer van hul fotosessie af terug, en die familie word nader geroep vir die neem van fotos teen ‘n ruwe ou klipmuur. Ek bly op die bankie sit. Timothy wink ons nader, maar ek skud my kop. Hy vat egter nie “nee” vir ‘n antwoord nie, en verhef sy stem. Gedweë staan ek en Ken op en gaan staan voor die kamera. Met ‘n liggaam so styf gespan soos ‘n snaar, staan ek langs Timothy en glimlag stram vir die kamera. Uiteiendelik is dit verby, en kan die fees begin. Die gaste stap die kasteel binne en neem hulle plekke by kersverligte tafels in. Ons sit aan dieselfde tafel as Timothy se grootmaakma en haar kinders. Die dame aan my regterkant is die bruidegom se tannie; ‘n jolige, plat op die aarde vrou, met wie ek sommer dadelik kliek.

Die onthaal verloop vlot. Ons luister na – gelukkig nie te lang “speaches” nie – drink heildronke, en eet. Of beter gestel, die ander eet en ek kyk toe. Timothy bring die bruidegom se ma na ons tafel toe, en stel haar aan my voor. Sy is ‘n pragtige blondekop vrou, sprankelend en vol lewe. Sy begin dadelik Timothy se aantreklikheid en deugte besing, en sê sy is so jammer hy is getroud want sy sou hom baie vinnig opgeraap het. “I would not have given you permission,” ontsnap die woorde my mond. Timothy gooi sy kop agteroor en lag hartlik voordat hy my ‘n stywe druk gee en sê, “No, she would not have given her permission.”

Heelwat later kom Timothy met die prediker na ons toe aangestap. “Let me introduce you to my mother,” sê hy, maar voordat hy tot die daad kan oorgaan val die prediker hom in die rede. “We have already met,” en voeg by, “You have a very special lady for a mother.” “Oh, that I know,” sê Timothy. Die woorde pof my nie op nie, inteendeel dit maak my nederig voel. Ek besef dat ‘n Hoër Hand hier aan die werk is.

Die vloer word geopen, en by die derde dans besluit ek en Ken om huistoe te gaan. Ons wil die volgende oggend vroeg Suidkus toe ry, en nog niks is gepak nie. “Bly, dan gaan haal ek die kar,” sê Ken en nadat hy gegroet het, verdwyn hy by die deur uit. Ek stap so onopsigtelik as moontlik na waar Timothy op die dansbaan met ‘n klein dogtertjie dans. Toe hy hoor dat Ken die kar gaan haal het sê hy dit is onnodig, hy sal saam met my tot bo by die parkeerterrein stap. Toe ons die dofverligte tuin betreë vat Timothy my hand. ‘n Behaaglike gevoel van behoort trek deur my. Al waarvan ek bewus is, is sy warm hand om myne en sy wonderlike teenwoordigheid hier dig langs my. Die musiek verdof in die agtergrond, die nag vou om ons en vir ‘n paar kosbare minute is dit net ek en my seun op hierdie aarde. Met die grondpad onder ons voete, en ons stemme wat in die naglug opklink belewe ek ‘n stukkie hemel op aarde. Te gou is dit verby en kom ons by die parkeerterrein aan. Ons groet, en toe die motor wegtrek swewe ek nog in die lug rond. Ja, my kleindogter het getrou en alles het goed afgeloop, maar hierdie troue was meer as dit; God was ongetwyfeld aan die werk in lewens hier vandag. En ek, die onwillige gas gaan diep dankbaar en uit haar sokkies uit geseënd huistoe.

Advertisements
This entry was posted in God en ek, Uncategorized. Bookmark the permalink.

23 Responses to ‘n Onwillige Gas

  1. travel460 sê:

    Ek sit nou hier in trane, Kameel. Jy is ñ wonderlike mens wat baie, baie seergekry het. God weet, Hy onthou, en Hy het elke traan van jou bewaar. Dankie dat jy hierdie getuienis kom deel het, dit was nodig dat ek vandag hier kom lees.

    Liked by 1 person

    • Kameel sê:

      Dankie, nou is ek ook in trane oor jou mooi woorde. Eendag is al die seer van die lewe verby en sal elke traan van ons wange afgevee word. Tot dan moet ons aangaan al voel die pad met tye so baie baie lank.

      Liked by 1 person

  2. dromer777 sê:

    So bly vir jou. Dankie vir die deel. Ek het ‘n baie tranerige 2 weke agter die rug oor my seun wat so ver van die Here af is en hierdie gee my weer hoop!

    Liked by 2 people

  3. Kameel tussen my grappies deur ken ek ok seer maar nie soos jy beleef het nie. Ek is dankbaar nee opgewonde dat Christus jou hand kom vat het al is dit jou seun wat jou hand geneem het. Ek was onlangs ook by ‘n troue waar daar baie seer is met die ma wat selfmoord gepleef het en die pa wat blind is na ‘n ongeluk, ek het die pa geneem en kon fotos neem van die seuns wat hul pa omhels en hul pa (‘n kind van die Here) wat vir my se dat hy nou weer hoop het vir die toekoms. ‘n Soortgelyke belewenis wat jy gehad het. Maar ek darem met iets ligters eindig: “Jy lyk mooi,” sê Ken vir my oppad troue toe. As jou man Ken is, is jy mos Barbie!

    Liked by 1 person

  4. Kameel sê:

    Ag Abrie hier sit jy ‘n traan in my oog en ‘n lag om my mond. Jesus wat my hand geneem het deur my seun… dis presies net so. En dan Ken en Barbie…. dit is so special. Jou humorsin is ‘n gawe van Bo, dankie dat jy my altyd laat glimlag.

    Liked by 1 person

  5. Dis wonderlik vir jou. Ek is so bly jy het ‘n stukkie genesing en vrede gekry.

    Liked by 1 person

  6. Ek is so bly vir jou Kameel, ek hoop dat julle net nader en nader aan mekaar sal beweeg. Bring vir ons lekker weer saam Suidkus toe.

    Liked by 1 person

  7. Sit ek hier en tjank… ek het nie woorde nie

    Liked by 1 person

  8. ekmyselff sê:

    My woorde is min… so bly alles het so mooi geloop.

    Liked by 1 person

  9. Sjoe, sjoe, sjoe… Ek gaan weer moet lees, want my trane sit te vlak om behoorlik te lees. Dankie dat jy hierdie stukkie seer, maar ook vreeslike mooi met ons deel! ♡

    Like

  10. So loop ons elkeen met ons sserkey-verlede n pad en kim God op Sy wonderlike manier om stukkie vir stukkie heling te bring. Dankie vir die deel hiervan.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s