Trauma en die huwelik

Wanneer ons deur trauma gaan, kry huwelike soms baie swaar.

Ek praat van enige trauma: Verandering in ons omstandighede, finansiële agteruitgang, dood in die familie, probleme by die werk, trek, verandering van werk, ag noem maar op, enige rimpeling in ons lewe skommel die huweliksbootjie.

Aanvanklik probeer beide hul bes om die vrede te bewaar, maar die spanning bou op en iewers bars ‘n bom.

Skielik begin jy wonder of jy ooit in die regte huwelik is. Skielik begin alles aan jou huweliksmaat jou irriteer. Skielik begin jy oor die muur loer, soek jy uitkomkans. Skielik wil jy nie meer in daardie huwelik wees nie.

Die fliek, Fireproof, het my ‘n wonderlike les geleer: Wanneer die vuur op sy ergste brand, staan jy en jou maat bymekaar. Jy los NIE jou maat in die vuur nie!

Krisistye bring geweldig druk op huwelike. Ons hanteer krisistye elkeen op ‘n ander manier. In krisistye moet ons soveel meer druk verduur, ons byt net vas om te oorleef.  In krisistye kry ons dit dalk nie só reg om op ons maat te fokus nie, praat ons dalk nie soveel ons maat se liefdestaal nie, omdat ons besig is om kop bo water te hou.

Krisistye is NIE die tyd om oor die behoud van ons huwelike te dink nie. Gedurende krisistye dink ons nie altyd so rasioneel nie, beklemtoon ons goed wat ander tye nie soveel sou pla nie. Gedurende krisistye moet ons nie groot besluite ten opsigte van ons huwelik maak nie.

Is jy in so ‘n krisissituasie? Bid! Bly by God se voete sodat Hy jou kan deurdra. Al is dit hoe moeilik, gee jouself kans om heel te word. Ondersteun jou wederhelf na die beste van jou vermoë en besef dat hy/sy nét so swaar kry. Gee vir hom/haar liefde, selfs al kom dit nie terug nie, maar net dalk, dalk bring dit juis die deurbraak waarvoor jy wag.

Maak ‘n lysie van 10 dinge wat jy in hom/haar waardeer. Dink mooi hoekom jy vir haar liefgeraak het, watter van sy sterk punte het jou juis getrek? Doen dit, dis denkeveranderend.

Geen trauma is maklik nie. Onthou, as julle dit kan regkry om deur die trauma te kom, kom julle sterker aan die ander kant uit, en dís die moeite werd! Sterker in persoon, sterker in julle liefde vir mekaar en sou julle daar deur kom, kyk dan VORENTOE, kry nuwe horisonne, nuwe nuut!

Oor en oor die moeite werd! Onthou, die storms van die lewe maak ons sterk!

Toortsie

English Blog Posts

Toortsie se Bantingboerekosboek Facebook page

Toortsie se  Facebook page

Finesse Blogger of the week

Finesse:  Koop tyd

Toortsie by Pinterest

Plaasakkomodasie by Riversdal, Wes-Kaap

 

16 thoughts on “Trauma en die huwelik

  1. Veral die lysie van 10 kwaliteite neerskryf. En om jouself te herinner aan die dinge wat jou verlief gemaak het, en later lief daar raak het. Die ander ding wat my help wanneer dinge swaar gaan, is om te onthou dat daar nie iets soos ‘n “perfekte huwelik” bestaan nie…

    Liked by 1 person

  2. My vyftienjarige kleinseun vra nou vir my as ek hom een raad kan gee vir sy lewe vorentoe, wat sal dit wees. Ek sê toe “keuses, keuses, keuses” Ons keuses het gevolge…. veral wanneer dit by verhoudings kom, en die die huwelik is def nie mees “challenging.”

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!