Hoe ek my blog bedryf

Nou praat ek van ‘ek’ en ‘my’, terwyl hierdie eintlik ‘n ‘ons’ blog is met ‘n Kameel, ‘n Bokbaaivygie en ‘n Toortsie. Ek skryf egter hier namens myself. 

Wat werk vir my op my blog?

Eerlikheid. Ek probeer om eerlik te wees in wat ek skryf, as ek ernstig is, maar ook as ek laf is, selfs as ek met myself spot! Mense vang jou gou uit as jy oneerlik is en iets voorhou wat jy nie is nie.

Eerlikheid maak dat jy soms meer van jouself ontbloot, tog voel ek dat dit juis dít is wat sommige mense trek, wat ‘n aanknopingspunt is.

Respek vir die lesers en my blogmaats. Ek vra myself soms af: Sou jy hierdie gelees het? Ek probeer om die ander mense se menswees te respekteer, ook hul sienings wat dalk van myne verskil.

Ek probeer om nie vuil wasgoed te was op my blog nie. Soms sal ek wel noem wat my pla en mag dit gebeur dat die skoen dan iemand pas, maar soos die spreekwoord lui, as die skoen jou pas, trek die riempie vas! Onthou egter ook dat my toortsieliggie soms skyn waar dit ongemaklik is!

Tog skryf ek soms daarvan as ek deur moeilike tye gaan. Ek doen dit dan nie om simpatie te soek nie, maar om uiting aan my emosies te gee, maar meer nog, om ander in dieselfde situasie te help. Wanneer dinge swaar gaan, kan ‘n mens maklik dink dat jy die enigste persoon is met wie dit swaar gaan. Vind die persoon dan iewers op ‘n blog ‘n Toortsie wat ook al deur die modder is, gee dit vir daardie persoon moed. Gewoonlik plaas ek sulke bloginskrywings lank ná die tyd, wanneer ek nie meer so broos is nie.

Ek is eerlik oor my geloofsoortuiging, maar probeer om op geen manier ander gelowe af te kraak nie.

Ek hou altyd in gedagte dat mense wat my ken, ook hier lees en ons is ‘n klein ou dorpie waar mense mekaar ken!

Ek skryf oor dinge waarvan ék hou, dinge na aan my hart, dinge wat vir my lekker is, ook dinge wat my pla en my gemoed versuur.

Nou wil ek graag weet, wat werk vir jóú? Skryf dit in die kommentaar hieronder, of, maak ‘n bloginskrywing by jou blog en onthou om hierdie bloginskrywing te tag. Jy weet mos hoe, né?

Ek wil graag ietsie skryf wat ek hoop, reg sal oorkom. Ek het ook ‘n lewe buite my blog. Dit voel dalk of ek alles vertel, maar ek doen nie. My faceboek persoonlike profiel is eintlik vir my en my pelle. Daar skryf ek soms nog méér persoonlike goed wat ek nie graag deel met onbekendes nie, selfs al voel dit of ons blogmaats ou pelle is. Daarom is ek soms huiwerig om blogmaats as facebookvriende te aanvaar. Die meeste van die tyd hou ek my kommunikasie met blogmaats net op my blog, die res doen ek met my pelle. So, sou ek dalk soms ‘n blogmaat as fb maat onttrek, weet dat dit nie gaan omdat ek nie van jou hou nie, dis eerder omdat ek jou nie regtig ken nie. Ek hoop julle verstaan. 

Groetnis

Toortsie

English Blog Posts

Toortsie se Bantingboerekosboek Facebook page

Toortsie se  Facebook page

Finesse Blogger of the week

Finesse: Om te pendel saam met jou man

Toortsie by Pinterest

Plaasakkomodasie by Riversdal, Wes-Kaap

28 thoughts on “Hoe ek my blog bedryf

  1. Dis nice om te weet. Ons geniet jiu blog. Ek blog net soos en hoe ek gelei word deur die Heilige Gees. Gaan nie oor my nie, indien dit iets is waardeur ek was, waaruit iemand anders kan benefit. Al is dit soms hóé ongemaklik vir my. Maar dis God-business. Xx

    Liked by 1 person

  2. Ek leer so baie by jou, Toortsie. En jou blok bly ñ ‘goeie’ plek waar ñ mens kan kuier. ñ Veilige hawetjie tussen soms harde en negatiewe skrywes. ñ Ou kan by jou kom asem haal, en sal altys ñ bemoedigende antwoord kry.

    Liked by 2 people

  3. En humor. Hoe meer ek mense kan laat lag, hoe beter. Ek probeer om so te skryf dat ek nie mense se gevoelens seermaak nie maar soms as mens eerlik is gaan iemand ‘n cry baby wees. Dis my blog wat ek gebruik om te “skryf gym” so as jy nie daarvan hou, moenie lees. Ek skryf baie in die algemeen so iemand gaan hulself raak lees en of daarvan hou of nie so dis okay.

    Julle blog is een van my gunsteling want dis so goed geskryf en laat mens altyd diep dink. Ek hoop om nog baie van julle te lees

    Liked by 1 person

    1. Baie dankie vir die kompliment, maar ook vir die lekker raad. Humor is ononderhandelbaar. 😁
      Toe ek kort begin blog het, was hier ‘n ander blog waar ek graag gelees het. Daardie persoon het geskryf: ‘As jy nie hou van wat ek skryf nie, kyk in die boonste regterhoek is ‘n kruisie. Kliek daarop en ek is vir altyd uit jou lewe uit. ‘. Dit het nogals vasgesteek.

      Liked by 2 people

  4. Vir my is skryf terapie, dus skryf ek wanneer iets skrynend mooi of erg hartseer is. Ek skryf uit verontwaardiging en in vervoering. Wanneer als uitgeskryf is, voel ek altyd beter. ‘n Wonderlike bonus is die blogvriende se kommentaar!

    Liked by 1 person

  5. Soos jy seker al agtergekom het,is ek mal oor die natuur.Dus gaan my blogs merendeels daaroor.Ek hou ook daarvan om waarnemings te maak en emosie daarby te voeg,vir ‘n lekker storie.Ek maak ook seker dat ek niemand aanstoot gee nie.
    Blog is ook my persoonlike dagboek en ek gee nie om of iemand dit lees of nie daarvan hou nie.

    Like

  6. Miskien blog ek oor te persoonlike goed maar ek skryf om dit uit my sisteem te kry. Ander kere blog ek weer om gebeurtenisse te kan onthou…. amper soos ‘n dagboek.

    Like

    1. Dis juis die persoonlike goed waarvan die mense hou. Hulle kan daarmee assosieer. In die nagemaakte, plastiekwêreld us daar min egtheid. Dankie vir elke ding wat jy skryf. Ek skryf ook maar persoonlike goed en as mense daaroor wil skinder, is dit hulle saak.

      Liked by 1 person

  7. Toortsie, jy weet my blog is eintlik my persoonlike joernaal, ek sal nooit wat ek op my blog deel op my fb deel nie, en geen blog mense is op fb en anders om. Niemand aan wie ek al kon raak weet van my blog nie. Ek het my blog begin omdat ek gelees het dat niemand dit ooit dalk eens sal lees nie. Maar ja, ek plak my hart hier, soms tot my eie verleentheid en ek besef daar kan gevolge wees, huidiglik werk dit vir my, miskien delete ek die hele ding in die toekoms, miskien nie. Ek blah, blah net op fb maar dieper delf ek nie want dit is niggies, nefies, pelle, kinders en, en daar is gordyne voor my vensters, hier gooi ek die gordyne oop en tot dusver voel ek veilig met diegene wat deur my vensters loer en my siel bekyk. Ek is mal oor almal se blogs wat ek lees en ek weet glad nie hoe om te tag nie.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!