Vryheidsdag

Ek is nie goed met al hierdie vakansiedae nie en hou gewoonlik nie eers kop met watter een dit is nie. Hier en daar sien ek ‘n facebookinskrywing oor vandag.

Maankind het eerste my oog gevang. Sy skryf: Vryheid is om keuses te hê. Vryheidsdag het eintlik ‘n politieke konnotasie, maar vir my beteken Vryheid om myself te wees, met my eie oortuigings en opinie. Vry om te kies hoe ek my werk wil doen, en wanneer. Vryheid is keuses.

Vryheid van keuse, iets om voor baie dankbaar te wees as jy dit het. Wat ‘n wonderlike iets om te hê. Hoeveel mense is vasgevang in hulle situasie, met ‘n onvermoë of onkunde om te kan kies! Vry om myself te wees. Ek sit vryheid van geloof by, dankbaar dat ek nog toegelaat word om my Christenskap uit te leef, sonder vrees vir vervolging, terwyl vervolging wêreldwyd toeneem. Mag ons dit altyd so beleef en mag ons hierdie vryheid nooit as vanselfsprekend aanvaar nie. Ek is amper ook soos Trisa, vry om my werk te doen, hoe en wanneer ek wil, al moet dit dan soms in die nag wees! 🙂

My neef, Andries, se gedagtes is behoorlik op loop met ontwikkelings wat die afgelope aantal jare gebeur het. Hy noem die Gautrein wat vergelyk met die bestes ter wêreld, en terloops, besef julle dat daar ook ‘n professionele trein vir professionele mense in die Kaap is?

Hy skryf: Vryheidsdag en ek dink aan positiewe ontwikkeling. In 1990 was Jan Smuts n klein lughawe waar jy na jou vliegtuig moes loop of per bus ry. Daar was 49 geskeduleerde vlugte per week (bron effens twyfelagtig) en vandag is dit n massiewe lughawe met twee massiewe terminale, lugbrûe en 308 vlugte per dag. Boonop het Gauteng nou ook Lanseria en Wonderboom. Kom ons vier daardie vooruitgang.

Ja, hier is baie verkeerde dinge in ons land, en as ons gaan begin opnoem, dink ek nie ek gaan die einde van hierdie bloginskrywing sien nie en teen vanaand gaan ons almal depressief en neer teen die grond wees. Ons land het ook soveel positiewe dinge, ook te veel om op te noem. As ek sommer op grondvlak kyk, hier in my dorp, en sien hoe het ons hier al oor grense beweeg, kan ek nie anders as om verskriklik dankbaar te wees nie.

Ja, ons het nog ver om te gaan. Ek hoor netnou op RSG dat sekere van die gesindheidsveranderinge wat ons al lankal sou verwag, nou raakgesien begin word. 1994 was nie ‘n dag met ‘n towerstaf nie, ons almal se harte moes verander word, en ja! Ons harte IS besig om te verander.

Mag ons almal vry wees! Ek daag jou uit om by die kommentare iets te skryf waaroor JY bly is in ons land. Kom ons beïnvloed mekaar positief, dis die moeite werd.

Groetnis

Toortsie

English Blog Posts

Toortsie se Bantingboerekosboek Facebook page

Toortsie se  Facebook page

Finesse Blogger of the week

Finesse: Om te pendel saam met jou man

Toortsie by Pinterest

Plaasakkomodasie by Riversdal, Wes-Kaap

11 thoughts on “Vryheidsdag

  1. Ek is nog altyd baie bly vir die vryheid wat ek het om my geloof te beoefen en nes jy vat ek dit beslis nie as vanselfsprekend nie. Ek is ook dankbaar oor mense wat kan saamstaan om op te tree teen dit wat verkeerd is in hierdie wereld, en veral in ons land onder die “dekmantel” van vryheid.

    Liked by 1 person

  2. Ek is bly dat ons nou die vryheid het om vriendskappe aan te knoop oor kleurgrense heen en sonder inagneming van verskil in geloofsoortuigings of die politieke party waarvoor jy stem. Anders as voorheen, lok dit geen negatiewe reaksie uit nie.

    Liked by 1 person

  3. Ek was nou ‘n rukkie buite die land en met my terugkoms kyk ek met nuwe oë na alles en besef dat ons wonderlike mense hier saam het,wat dinge doen,grappies maak oor die slegte goed,’n humorsin het en ‘n wil om dinge te laat werk.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!