Die kerkklok

Gisteraand 11 uur hoor ek die kerkklok lui, die eerste keer sedert ons nou in die dorp woon.

Dis nie eintlik vreemd nie, want tot op hede was ons nog min hier. Daar is ook aan die kerktoring en -klok gewerk, dalk is hy maar eers in die afgelope week weer aan die gang gesit.

Dit was vir my lekker om die klok te hoor. Ons huis is nogals ver van die kerk af, dit was ook ‘n verrassing om hom te hoor.

Dadelik is ek teruggesit na my laerskooljare as ons by my ouma kom kuier het en ek die slae getel het. Ek kan nie onthou dat ek dit gedoen het toe ek in die skoolkoshuis was nie, maar hiekom sou ek dit níé doen nie; die kerkklok is só deel van ons bestaan. Ek onthou ook later jare toe ek as volwasse vrou by my ouers kom kuier het, dat ek die slae getel het.

Die klokkespel klink mos op elke kwartier anders. Sou jy in die nag wakker word, het jy geweet dis kwart voor of kwart oor, maar kwart oor wat?

Toevallig was dit vanaand 11 uur weer die eerste keer wat ek hom vandag gehoor het. Sal dit wees omdat die dorp dan stil genoeg is dat ek hom tot hier kan hoor? Of is dit ek wat rustiger raak? Of dalk ‘n kombinasie vsn albei?

Nag, ou grote. Dis goed om jou te hoor. Gerusstellend bekend.

Op versoek van Spokie:


Ons kerk is ‘n waardige ou dame. Ek het die foto’s gaan leen op ons kerk se Facebookblad.

Toortsie

English Blog Posts

Toortsie se Bantingboerekosboek Facebook page

Toortsie se  Facebook page

Finesse Blogger of the week

Finesse: Om te pendel saam met jou man

Toortsie by Pinterest

Plaasakkomodasie by Riversdal, Wes-Kaap

16 thoughts on “Die kerkklok

  1. Die gelui van kerkklokke was so deel van die lewe as kind en tiener. Kannie dink of ek ooit die kerkklokke tussen die mielielande gehoor het nie. Ook nie in die stad nie. Ai!!!!

    Liked by 1 person

  2. Ek het jare laas kerkklokke gehoor. Word seker nie meer in voorstede gebruik nie. Wat ek wel onthou is my ma se grandfather clock wat my elke kwartier in die nag wakker gemaak het. Daai horlosie het ek elke kwartier van elke nag verwens.

    Liked by 1 person

  3. My pa het destyds soms die kerkklok gelui wanneer die koster nie daar was nie. Hulle moes versigtig lui want as die tou te entoesiasties getrek is het die klok onderstebo vasgesteek en dan was dit ‘n storie om hom weer los te kry.

    Liked by 1 person

  4. Jy roer my hartsnare oor die kliok. My oupa, Hansie Le Grange was 18jaar koster op De Rust, van 1939 tot 1957. Hy het in die koster se huis gebly totdat oom Karel Potgieter hom opgevolg het. Einste ek is in daardie huis gebore 1942. Amper 9 jaar later is my jongste suster ook daar gebore. Terug by die klok, ek glo vandag nog niemand kon daardie klok lui soos my oupa nie. Hy kon dit regkry om die ketting vas te hou sodat die bel tril daarin. As mens op die huis se stoep gestaan het, het klank van die klok teruggekom asgevolg van n echo.

    Like

  5. Dis ‘n pragtige kerk! Ek’s mal oor kerktorings en -klokke! Ek weet dat in Duitsland desjare die kerke uiterlik onderskei kon word deur hulle keuse van toring simbole. Die Lutherse (evangeliese) kerk het die haan gebruik en die Katolieke ‘n kruis. Dan was daar ook van die hervormde kerke wat ‘n swaan asook ‘n trompet-engel ingespan het.
    Deesdae gebruik die katolieke soms wel ook hane (maar dan word hy gewoonlik met goud beslaan – die katolieke hou mos nogal van bietjie bling en ‘oppulence’) – en ek het verlede jaar nogal ‘n paar met ‘sfere’ ipv have en kruise gesien…
    My pa was nogal ontstig oor die simbole nie meer streng op toepassing is vir die verskillende kerke nie. 😀

    Like

Gesels saam, asseblief!