‘n Skewe spieël

Sy staan in die voëlnes se kombuisdeur; Marlè met haar krulhare en blou oë. “Het mamma nie altyd vir ons gesë een ding roep ‘n ander nie?” Ek skud my kop, “yep, dit is soos dit werk.” “Nouwel, daardie spieël in die badkamer het ‘n vreeslike rimpeleffek in ons huis veroorsaak, en die einde is nog nie in sig nie” sê sy. Ek kannie besluit of sy bly of moedeloos is nie.

Die een spieël in die groothuis se spaarbadkamer gee al vir jare probleme. Hy bly skeeftrek, en al skoonseun se planne om van hom ‘n ordentlike spieël te maak, het tot dusvêr misluk. Hy is al vervang, maar tevergeefs; skeef trek hy skeef. En toe, ‘n paar Saterdae gelede gaan koop skoonseun weer ‘n spieël, maar nog voordat hy kans kan kry om hom teen die muur vas te sit skop ons vyftienjarige kleinseun – wat op hierdie stadium net voete, bene en arms is – die spieël stukkend. Net daar trek Marlè ‘n streep. Vergeet van ‘n spieël bokant elke wasbak, een groot spieël in ‘n houtraam is wat hier nodig is; sy klim in die kar en gaan koop ‘n spieël. Dis ‘n pragtige spieël met ‘n raam wat lyk asof hy uit Noag se ark uitkom, en net daar slaan die paw-paw die fan. Die spieël lyk heeltemal uit plek uit teen die res van die meubels in die spaarkamer. Marlè gaan koop die pragtigste seegroen matte en handoeke, maar dit is nie die “magic wand” wat nodig is om harmonie in die vertrek te bring nie. “Dan maar al die meubels uitmekaar haal, en verf dat dit stokkoud lyk,” sê sy, en spring aan die werk. Die mure van die kamer moet seegroen geverf word besluit Marè; sy roep skoonseun maar hy geen net een kyk en sê hy sal vir Simon laat kom om te verf. En aangesien een kamer geverf moet word kan hulle net sowel die hele huis laat uitverf.

Verlede Maandag daag die verwers hier op, en die werf begin wemel. Tot die voëlnes spring nie heeltemal vry nie. Die seegroenkamer begin mooi lyk maar die donker nagemaakte houtvloere pas nie; wit plankvloere sal definitief beter lyk. So gesê so gedaan, maar terwyl hulle nou die vloere in die spaarkamer vervang hoekom nie sommer diè in die hoofslaapkamer en kantoor ook nie? En aangesien die hele huis uitgeverf is waarom wag vir lente om al die gordyne, beddegoed, duvets ens. te vervang. Skoonseun en die seuns is op ‘n fietstoer, en Marlè gaan “shop.” Sy straal behoorlik toe sy na ‘n dag in die winkels terugkom. “Dit is lekker so sonder die mansmense,” sê sy. My oë kannie al die goed inneem nie, en ek sê wanneer alles hang en op hulle plek is, kan sy my kom roep.

Saterdag is dit ‘n gewerfskaf uit ‘n ander wêreld by die groothuis, en toe raak dit stil en ek gaan kyk. Alles lyk pragtig maar die spaarkamer vat definitief die koek. Seegroen, sag, romanties met ‘n groot gesinsfoto bokant die bed, en in die een hoek ‘n hoedestaander waaraan die mooiste breërand seegroen hoed en ‘n kleiner wit hoed hang.

“Jy is seker so bly dit is klaar,” sê ek vir Marlè, maar sy skud haar kop. “oor twee weke kom die bouers, hulle gaan die seuns se badkamer oordoen wat my al so lankal pla. Ek het vanoggend die teëls gaan uitsoek.”

En dit alles oor een enkele weerbarstige spieël.

 

 

 

22 thoughts on “‘n Skewe spieël

  1. O, die worsteling wat ydelheid kan bring! Waarvoor gebruik mens nou weer ‘n glas wat backchat met onaanvaarbare figure en ondienlike gesigte? Daar was ‘n les in elkeen wat skeefgetrek het. Maar as mens *wil* dan *sal* jy ook mos! 😂

    On 3 Apr 2017 15:58, “Toortsie, Kameel en Bokbaaivygie se blog” wrote:

    > Kameel posted: “Sy staan in die voëlnes se kombuisdeur; Marlè met haar > krulhare en blou oë. “Het mamma nie altyd vir ons gesë een ding roep ‘n > ander nie?” Ek skud my kop, “yep, dit is soos dit werk.” “Nouwel, daardie > spieël in die badkamer het ‘n vreeslike rimpeleffek in” >

    Like

    1. Dit is seker lekker as ‘n mens nog die lus en krag daarvoor het. Ek het teruggedink aan my lewe op daardie ouderdom en besef dat ‘n mens toe nog die wêreld kon vermag.

      Liked by 1 person

        1. Die verwers aan buitekant besig met laaste “touches.” Die bouers vir verandering van badkamer begin volgende week. Weet nie wanneer nuwe lessenare en kaste in kantoor ingesit gaan word nie…. dus is daar nog groot werk wat voorlê. Glo dit gaan pragtig lyk as alles klaar is.

          Liked by 1 person

    1. Sovêr lyk alles pragtig…. en ek glo die seuns se badkamer gaan ‘n paar gryshare weerhou. Hulle wil nie meer bad nie en is dus gedurig in of pa en ma, of die spaarkamer se badkamer om te stort. Seuns is nie die netjieste spesie op aarde nie… tot Marlé se frustrasie. Hoe sê hulle “All is well that ends well.”

      Like

    1. En dit is nog die einde niet. Vanoggend kom hier ‘n vrou aan… sy kom afmetings doen vir nuwe kaste en lessenare in studeerkamer!!! Die ou kaste ens gaan nie saam met die nuwe vloer nie!!! Daar was groot fout met daardie spieël.

      Liked by 1 person

        1. Jy moet sien hoe afgeskilfer en verwaarloos lyk my blombakke nou om die voëlnes 😦 Vir wat kon die spieël my nie uitgelos het nie? Dink ek moet gaan slaap en wanneer ek wakker word is alles hopenlik verby 🙂

          Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!