Laat dit asseblief reën op die plaaaaaaas

Vir vyf aande het hierdie ouma vir haar ses, en driejarige kleindogters eers ‘n bybel en dan ‘n kinderstorie, voor slaaptyd gelees. Ai, net jammer dit was Jakkals en Wofstories. Ek het nog altyd ‘n kanniedood aan jakkals en sy skelmstreke.

Die laaste aand sê die driejarige krulkop sy gaan nou bid voordat sy vir my nagsê. Ons maak ons oë toe en sy begin; “Dankie liewe Jesus vir hierdie lekker daggie. Laat dit asseblief reën op die plaaaaaaas. Aaaaamen.” “Jy het te kort gebid…. wag dan help ek jou,” laat haar donkeroog sussie van haar hoor, en skuif tot voor haar, neem haar hande in hare en begin. “Dankie liewe Jesus vir hierdie daggie.” Gehoorsaam herhaal die krulkop die woorde. Die donkeroog gaan aan. “Laat dit asseblief op die plaas reën.” “Laat dit asseblief reën op die plaaaaaaas,” en dan vervolg sy ewe verergd “Ek kan bid!!!” Sy begin weer, “Dankie liewe Jesus vir hierdie daggie, laat dit asseblief reën op die plaaaaaaas.” “Dankie vir my mamma en pappa,” sê die donkeroog vinnig, en die krulkop herhaal die woorde. “Dankie vir my sussie,” sê ousus. “Dankie vir Vilani,” By hierdie tyd is my oë wawyd oop en ek verlustig my aan die twee, en ek glo die Here geniet dit net so. “Dankie vir my oumas en oupas,” gedweë herhaal die stemmetjie dit. “Dankie vir my ooms en tannies.” Die woorde word herhaal. “Dankie vir my niggies en nefies.” Weet nie of die krulkop so dankbaar is oor haar nefies en niggies nie – hulle vind haar ‘n pyn en maak nie ‘n geheim daarvan nie – maar sy sê die woorde. “Dankie dat Jesus ons lief het.” “Dankie dat Jesus ons lief het.” “Amen” sluit die donkeroog die gebed af, maar so maklik laat die kleintjie haar nie flous nie – het sy dan nie van die begin af gesê sy gaan bid nie? Dus begin weer van voor af.

“Dankie liewe Jesus vir hierdie lekker daggie,”

Laat dit asseblief reën op die plaaaaaas.

Dankie vir my mamma en pappa.

Dankie vir Vilani.

Dankie vir my oumas en oupas.

Dankie vir my ooms en tannies.

Dankie vir my niggies en nefies.

Dankie dat Jesus ons lief het.

Aaaaaaaamen”

Hoe geseënd kan ‘n mens nie wees nie!!!!!

“Dankie Jesus.”

 

31 thoughts on “Laat dit asseblief reën op die plaaaaaaas

    1. Ek het dit so geniet. Sy kry ‘n beurt om aan etenstafel ook te bid. Dan sit ek met wawyd oop oë en verlustig my aan die gesiggie en mondjie wat so saampraat oor die bloedrooi beet.

      Liked by 1 person

    1. Ek geniet onskuldige kindergebede so baie. Met my eie kinders moes ek myself so inhou om nie te lag nie. Een aand bars ek toe ook uit van die lag en doodluiters gaan ons seuntjie aan met “Liewe Jesus vergewe my ma dat sy dink bid is ‘n grap.”

      Liked by 3 people

  1. Ag ek sien die tweetjies daar by jou sit, so kosbaar.
    Janee, mens moet jou lag kan hou! My dogtertjie se heel eerste, plegtige tafelgebed het so geklink: “Ag liewe Here, help my tog asseblief met hierdie twee kinders.”

    Like

    1. My eie kroos het gesorg vir vele kosbare en lagwekkende gebedstye. Tot vandag toe koester ek dit. Daar is net iets aan kindergebede wat dit so spesiaal maak.

      Like

Gesels saam, asseblief!