‘n Dronkman se opdrag

Eeue gelede het koning Ahasveros vir ‘n hele week lank ‘n groot partytjie gehou en sy hele dorpie, Susan, se mans trakteer vir ‘n hele week, terwyl koningin Vasti weer die dames bederf het in die paleis.

By die mans het dinge lekker geraak, die soppies het gevloei, terwyl die koning lekker gespog het met al sy rykdom.

Toe kry hy ‘n blink plan: Dis tyd om te spog met sy baie mooi vrou!

Maar sy voel, aikona, dit gaan nie só werk nie. Sy gaan haar nie deur ‘n dronk man laat hiet en gebied nie, selfs nie eers as hy die koning is nie!

Die koning was in sy eer gekrenk. Kyk, mens kan suip soveel jy wil, maar jy word nie deur ‘n vrou verontagsaam nie!

Nou ja, dit was eeue gelede. Vroue het nie teen hulle mans opgestaan nie, veral nie in die openbaar nie. Sy het haar man verneder, selfs al sou dit uiters vernederend vir haar wees om voor die dronk spul te verskyn.

Nou wonder ek sommer, sou dit vandag wees, wat sou die regte optrede wees? Sou sy dit dalk een keer toelaat sodat hy nie verneder word nie, maar op die regte oomblik dit met hom bespreek en sê, ‘Nooit weer nie’? Of is die regte manier om hom totaal te ignoreer? Of sal sy elke keer moes gaan paradeer?

Wat is die regte manier in die 21e eeu waar vroue EN mans veronderstel is om waarde te hê? Waar ons veronderstel is om mekaar en ons huwelike te respekteer?

Ja, die koning het beslis buite perke opgetree. Ek en jy tree ook soms buite perke op. Maar hoe hanteer ons dit sodat beide beter aan die ander kant uitkom? Sodat ons huwelike staande kan bly?

(Lees die verhaal in die Bybelboek, Ester.)

Groetnis

Toortsie

English Blog Posts

Toortsie se Bantingboerekosboek Facebook page

Toortsie se  Facebook page

Finesse Blogger of the week

Finesse: Toe kom die lorrie

Toortsie by Pinterest

42 thoughts on “‘n Dronkman se opdrag

  1. Dit is maklik om te “preek”
    – hy moes in die 1ste plek nie te veel gedrink het nie
    – sy vrou is nie sy besitting nie
    – hy maak n bespotting van homself en van haar
    maar ai ons almal val… in sy dronkenskap onthou hy van sy MOOI vrou en wil met haar SPOG
    Ek het al geleer mens redineer nie met n dronk man nie, praat eers die volgende oggend.
    Ek het al geleer haal jouself uit die situasie uit en stap weg, moeilike een want as jy wegstap sal jy nie weet wat hy alles se en doen in sy dronkenskap nie…

    Respek sal ek se… vir jouself en vir die ander person.
    Vra vir vergifnis en sorg dat dit nie weer gebeur nie.
    Leer iets daaruit.

    Liked by 2 people

  2. Mooi beskrywing van die paartie en ook ‘n interessante vraag. Ek gaan nie hierdie een probeer antwoord nie, want my haat vir dronkenskap lê diep gewortel. Ek het geen idee hoe ek (veral hier op my oudag) beheer sal hou oor my humeur nie. Dink jy ook ‘n mens tree soms onbedagsaam op vanweë “bagasie” uit jou verlede?

    Liked by 1 person

    1. Ons tree beslis op danksy gebeure uit ons verlede. Ek lees nou hierdie fantastiese boek, ‘Taste Life, healing the wounded’ deur Francois Mostert.
      Ons ontwilkkel beskermingsmeganismes en begin goed van jouself en ander mense en ook omstandighede glo wat nie altyd heeltemal reg en bevrydend is nie en ons op die lang duur strem.

      Liked by 1 person

          1. Mmm, die drinkende persoon, byvoorbeeld, glo nooit dat hy/sy enige skuld het aan die ongelukkige atmosfeer nie – hulle blameer hulle naaste vir alles. Ja, en dan begin jy later glo dat jy dalk die oorsaak is daarvan dat die persoon eerder aan ‘n bottel vasklou as aan familie en vriende. Ek glo dit geld ook in die geval van egbreuk, fisiese aanranding, verslawing aan dobbel, ens. Ek reageer nie goed in sulke omstandighede nie.

            Liked by 1 person

            1. Hiermee praat ek nie alkoholisme goed nie. Die probleem is dat die alkoholis nie beheer het oor sy drinkgewoontes nie tensy hy totaal stop met alkohol inneem. Die alkohol neem die beheer oor.
              Alkoholiste is gewoonlik ook nie slegte mense nie. Dit het hierdie koning ook bewys deur later vir Esther en die Jode goed te wees.
              Maar dat alkoholisme geweldige skade doen kan nooit wegredeneer word nie. Gesinne ly daaronder. Dis ‘n verskriklike siekte. Soos jy skryf, die ander persoon ontwikkel later sielkundige probleme van glo dat hy altyd verkeerd is.
              En ja, die alkoholis is nooit verkeerd nie en het altyd ‘n grondige rede hoekom hy drink.
              Dis oraait dat jy nie in sulke omstandighede goed reageer nie. M

              Liked by 1 person

  3. Sy het te veel respek vir haarself gehad…. en ek haal my hoed vir haar af…. want dit kon haar haar lewe gekos het. Nie ‘n manier waarop ek myself voor dronk mans gaan paradeer om my gesuipte man te behaag nie. Die volgende dag praat die drank nie meer nie en ek glo jou man sal meer respek vir jou hê.

    Liked by 2 people

      1. Ons sal nie weet hoe sy daarna gevoel het nie… maar sy het haar selfrespek behou en kon haar kop ophou. Dit is juis dat dit in daardie dae was waar ‘n vrou absoluut onderdanig moes wees wat hierdie verhaal so opbouend maak.

        Liked by 1 person

  4. En sou jy hierdie storie reverse dink ek daar gaan ‘n tyd kom wat ons voor dieselfde keuse gestel gaan word. Gaan ons vir ons hemelse Bruidegom opstaan voor ‘n dronkgesuipte wêreld van goddeloosheid; al kan dit jou lewe kos… of gaan jy Hom verloën?

    Liked by 1 person

      1. When you are arrested, don’t worry about how to respond or what to say. God will give you the right words at the right time.
        Die Heilige Gees sal op Sy pos wees.

        Liked by 1 person

  5. Ek glo natuurlik die hele probl van onderdanigheid het net mooi hier gekom. Dit staan nie in d skeppingsplan nie en nerens lees jy daarvan nie totdat ou Ahasveros so in sy eer gekrenk was dat hy ‘n wet gemaak het wat in alle tale en alle lande uitgevaardig moes word. Hierdie wet het beveel dat vroue aan hulle mans onderdanig moet wees. En daar het eeue verbygegaan van onderdrukking. Ons moes selfs voor die preekstoel beloof om aan ons mans onderdanig te wees – en dit alles agv ‘n gekrenkte manlike ego van ‘n heidense koning.

    Like

      1. Hie-hie. Dis ‘n taai een hierdie, seegogga! Ek weet in die skeppingsverhaal was Eva geskape as die man se HULP, iemand wat hom moes bystaan. (Dis hoekom ek altyd sê;”‘n man sonder ‘n vrou wat hom komplimenteer, is voorwaar ‘n kaal…vaal…paal”)

        Liked by 2 people

  6. Toortsie, hier vra jy nou ń ander ‘dink”. Ek het nie die ander kommentare gelees nie, liewer nie. As dit ek was: Ek weet wie en wat my man is. Ek ken sy swakhede. Ek weet hoe om hom te manipuleer, wat en wanneer om wat te sê en te doen om hom tevrede en rustig te kry. Hom goed oor homself voor sy vriende te laat voel. Ek is slim, want ek is ń vrou. Sy vrou. Soms doen ek net. Vir vredes onthalwe. Maar ek baat ook daarby. Ek ken my perke. Ek weet hoe ver om te gaan, vir hom. Maar ook vir myself. Dit is vir my lekker as sy vriende ‘goed’ van hom dink. Ek baat ook daarby. Dalk slinks? Wat daarvan. Punt is, ek het ń verstand, en ek gebruik hom. Soms sit ek emosies bietjie eenkant en tree net op. En eerlik, meeste van die tyd werk dit alle kante toe uit. Dit was my keuse, en ek het self besluit.

    Liked by 1 person

  7. Iets ligs en sommer net. Jare gelede kry ek n staffie persent en met die naam gee tyd, spring hierdie einste verhaal in my kop en net daar besluit ek haar naam sal Vasti wees. Sy sal trots wees, nie bang nie en nie buig voor n lawwe man nie

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!