Wat is haar naam?

Nooit gedink ek sal ook eendag by diè dag uitkom nie…. maar nou is ek hier en verstaan uiteindelik my ouma beter.

Sewe en dertig jaar gelede wys ek ons babadogtertjie aan my ouma. Sy kyk en vra , “Wat is haar naam?” “Janine ouma,” sê ek. (Ek het in my tienerjare verlief geraak op diè naam, en my ma se neusoptrekkery oor die vreemde naam wat ek eendag my dogtertjie gaan noem, het my min geskeel.) Nou staan ek voor my ouma en sê met trots die mooie naam – maar haar reaksie is nie wat ek verwag het nie. Sy draai haar kop skeef om beter te hoor, “Wat sê jy is haar naam?” “Janine,” antwoord ek. “Wat!!!” vra sy, en strek haar nek met die skeefgedraaide kop vorentoe. “JANINE.” Skreeusê ek die naam. Maar nogsteeds bly die naam vir haar ‘n “mystery.” “Ouma ‘n mens spreek dit uit Che…. Che… Cheneeeeeen.” “Vir wat gee jy die kind so ‘n lelike naam, ek kan dit nie sê nie,” en met die woorde tel sy haar hekelwerk op, en wys daarmee dat die saak afgehandel is. Sy het nooit die naam verstaan nie, en dit ook nooit uitgespreek nie. Sy is sowat ‘n jaar later oorlede.

Tyd het aangestap die kinders het grootgeword, en kleinkinders is gebore. By die sestiende kleinkind het tot ek begin halt roep. Alhoewel ek partykeer kopkrap met die spelling het ek darem tot dusvêr kopgehou met die name. Verjaarsdae en ouderdomme is ‘n ander saak – ‘n onbegonne taak vir my kop wat sukkel om twee en twee bymekaar te tel. En toe so op die nuwejaarsoggend daag ons twee en veertig jarige kunskind vonkelwyn in die hand, en vrou aan die arm hier op. Hulle is sewe jaar getroud, en volgens die dokters albei onvrugbaar. Die vonkelwyn word oopgemaak en die nuus dat sy swanger is met trots aan ons en sy susters meegedeel. Hulle kinderloosheid het hulle verlede jaar ‘n saak van gebed gemaak, en God het hule gebede verhoor. Trane het vryelik geloop; daar is hardop gesnik, en tot skoonseun het trane afgevee.

Die baba se ontwikkeling word met ons gedeel. Verlede week bel ons seun opgewonde, die geslag kan nog nie vasgestel word nie maar hy dink dit gaan ‘n dogtertjie wees. “Ek het ook so ‘n gevoel,” sê ek, en dink aan Janine wat gedroom het sy staan met hulle swartoog, pruilmond babadogtertjie in haar arms. En toe vra ek diè vraag; “As dit ‘n dogterjie is wat gaan julle haar noem?” Hy sê die naam en ek vra verbaas “Zoro!!!!” “Nee,” en weer hoor ek ‘n vreemde naam hier in my oor. “Ek verstaan nie, spel vir my die naam,” en ek spits my ore. “Z-a-r-a,” sê hy. “O Zara,” sug ek verlig maar dit is nie hoe jy die naam uitspreek nie. “Moenie dit in Afrikaans sê nie, dit is nie ZAra nie maar Z…..” en die naam rol so vreemd oor sy lippe. Ek probeer my bes om die naam korrek uit te spreek maar faal elke keer. “Ag los maar,” eindig ek ons gesprek, “ek gaan haar in elk geval min op haar naam noem.” Maar ek vind myself kort-kort met haar naam op my tong maar dit wil nie uit my mond rol soos dit moet nie.

Jammer ouma, ek het nie toe verstaan nie maar vandag is ek wyser.

21 thoughts on “Wat is haar naam?

    1. Enso gaan die lewe voort 🙂 Ek is ook maar dankbaar dat al daardie Johanna Jakoba Petronella du Toit van die outyd agterweë gebly het. Laat ons maar vrede maak met die kort vreemde name. Wie weet een van die dae kry ‘n kind net die eerste letter van die alfabet as naam. Mooi dag vir julle in die mooie Hermanus.

      Liked by 1 person

    1. Dankie Hester, lekker as jy kom kuier. Daardie Suidkusseun van ons is tjoepstil oor die cyclone. Seker omdat hy pootjie in die lug lê nadat sy gebreekte enkel opereer is. Is nuuskierig om te hoor waar julle nuwe tuiste gaan wees. Lag ek nou…. bedoel nie dat julle gaan wegspoel nie. Mooi aand vir julle 🙂

      Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!