Obsessie

Obsessie is nooit ‘n goeie ding nie. Die baie ou HAT wat ek het, beskryf dit as ‘n voortdurende kwelgedagte.

Nou ja, met my inpakkery en trekkery het ek ‘n voortdurende kwelgedagte, ‘n obsessie, wat ek moet keer dat dit nie myself en ook nie my liewe man mal maak nie.

Kyk, die plaashuise is mos maar groot, veral die ou huise van die Wes-Kaap. Geslagte woon mos ná mekaar in hulle en daar is ‘n geneigdheid tot aanbou. Nou ja, ons het gelukkig nie aangebou nie, die huis was reeds meer as groot genoeg! Ons grootste werk was om die huis te bewaar, te behou. So ons het terwyl ons hier gebly het, ons hand aan die huis gehou. Ons het baie houtvloere vervang, vensterrame heelgemaak. Sulke onderhoudswerk, sodat ons ‘n netjiese, heel huis kan afgee vir die volgende inwoners.

Nou trek ons in ‘n dorpshuis in.

So jare se opgaar en bymekaarmaak en goetertjies hou, moet nou ingepak word.

Die obsessie?

Ek vrees die dag as die lorrie kom! Want daardie dag is dit meubels en bokse en kratte en los goeters en ENIGE DING waaraan jy kan dink.

So ek is obsessief om so veel as moontlik goed in te pak en te verskuif lank voor die dag van die lorrie. Gaan daar dan iemand dorp toe, moet daar goed saamgaan. Ai toggie!

My dorptoegaandag word ‘n week voor die tyd bepaal en dan word daar obsessief ingepak om tog ‘n goeie klompie goed te kan saamneem en te gaan uitpak aan die ander kant.

Om meer as een rede natuurlik. Ja, wat klaar is, is klaar. Maar meer as dit kry ek ‘n idee van hoeveel plek daar is, waarvoor daar regtig plek is, wat kan saamgaan en wat moet eerder by die agterdeur moet uitgaan.

My obsessie?

Die dag van die lorrie moet daar nie eintlik meer bokse ter sprake wees nie. Daardie dag moet daar net meubels gelaai word. Eintlik sou ek baie bly wees as daar teen daardie tyd net groot meubels gelaai moet word omdat baie van die klein goedjies wat kan seerkry, reeds hulle staanplekkies het in die nuwe huis. Die dag as die lorrie ry, moet die klere en potte en panne en borde eintlik alreeds uitgepak wees aan die ander kant. Net die heel nodigste moet nog oor wees wat sommer in die kar gelaai kan word.

Nou ja …

Obsessie is nie altyd ‘n goeie ding nie. Haal diep asem, Toortsie! Baie diep!

En vir dié wat wonder, Ursula is nie met ‘n oog te sien nie! Sy is seker iewers op die wieke van die wind op soek na Sarel of Nicodemus!

So today, I recognize something in me that I don’t like, and that is that I have some obsession about something. I thought I wasn’t that type of person!

Toortsie

Toortsie se Bantingboerekosboek Facebook page

Toortsie se  Facebook page

Finesse Blogger of the week

Finesse: Op jou merke!

Toortsie by Pinterest

16 thoughts on “Obsessie

  1. Jou manier is meer georden…. maar ek weet van mense aan die Suidkus wat hulle hande in die lug sou gooi van frustrasie. Sterkte en moenie skaam wees vir weggee nie…. dit is heerlik om huis skoon te maak van jare se opgaardery.

    Like

      1. ‘n Ouerige paartjie aan die Suidkus wou trek. ‘n Paar persone van die kerk bied toe aan om hulle te trek. Hulle het gedog hulle staan ‘n dag af en trek hulle maar watwou… daar word stukkie vir stukkie getrek en dan word dit eers aan die anderkant reggesit en uitgepak. By die tiende dag was almal keelvol en het gesê nooit weer nie. Ek wil nou nie lieg nie maar ek dink amper die vrou se naam is Ursula. Sal bietjie by my seun hoor.

        Like

        1. Hahaha Ursula!
          Nee so iets kan jy slegs doen as jy dit self en alleen doen. ek het darem al meermale my trek in een dag ook gedoen, hoor! Maar op hierdie stadium wil ek nie hulp hê nie. Dankie, maar nee dankie. Wel ‘n paar van die plaas se manne om die goetertjies vir my te skuif. 🙂 Maar dis seker net daar waar Ursula haar bevind! Ek het gewonder waar sy is!

          Like

          1. Nee Toortsie Ursula sit by die Suidkus saam met Radley 😂😂😂😂 Nou weet ek uiteindelik hoe sy lyk!!! Sy is half Duits ook!!! O la la, haar naam is toe Ursula 😂😂😂😂 Hierdie een geniet ek gate uit!!!

            Like

  2. Ursula, het jou sleg in die steek gelaat. Gelukkig is ons by die stadium verby, van huis skoonmaak, nou net die nodigste. As ek so na baie van my vriende en familie,wat nou moet begin dink aan afskaal, se huise kyk, dan is ek dankbaar.

    Like

Gesels saam, asseblief!