Rigtingwysers

Op ‘n stadium het ons kerk ‘n kwartaalnuusbrief uitgegee. ‘n Koerantjie. Dis anders as die weeklikse afkondigings. Die tydskrif se naam was BRUIS!

Die Maart 2015-uitgawe se tema was RIGTINGWYSERS VIR 2015. Hierdie het die Toortsie geskryf:

TOORTSIE SE RIGTINGWYSERS

Vir my is Jesus Christus die beste rigtingwyser wat jy kan kry.

In my lewe was daar heelwat gebeure en mense wat as rigtingwysers opgetree het. Die eerste van hulle, my ouers, wat deur hulle woorde en lewe ‘n goeie voorbeeld was.

Vir Tannie Mags van Ouplaas was daar slegs een pad en dit was die regte pad. Geen gekonkelry om iets ‘reg’ te kry nie. My ouma Lenie was iemand wat stil op God se pad geloop het. Geen afdraaipaadjies nie. Wat ‘n wonderlike voorbeeld!

Ek glo God stuur mense op jou pad om jou die regte rigting aan te dui, te help om die regte keuses te maak. Ek was in standerd 5 toe my niggie, Elize, die stranddiensma op Struisbaai was. Voor dit het ek wel so ‘n paar keer die stranddienste bygewoon, maar toe Elize daar was, het ek deurgedruk en die klassies en verrigtinge die volle tyd bygewoon. Dit het my op ‘n nuwe pad geplaas. Elke jaar in die Desembervakansie het ek stranddienste bygewoon en later self ‘n spanlid geword. Dis lewensveranderende dinge, dinge wat jou help om dalk net ‘n klein, maar belangrike koersverandering te maak.

In diestelde standerd vyf was daar ‘n juffrou in die koshuis wat haar geloof baie ernstig opgeneem het. Danksy haar is ‘n bybelstudiegroep vir standerd vyfs onder leiding van Jacoba Human begin. Dis alles klein dingetjies wat amper ongesiens verbygaan maar ‘n groot impak op mense se lewens het.

Ek is dankbaar vir elke rigtingwyser wat oor my lewenspad gekom het, vir elke persoon wat vir my gehelp het om die regte keuses te maak. Deesdae is ek dankbaar om eerlike vriendinne te hê, vriendinne wat die waarheid sal praat, al wil ek dalk iets anders hoor.

My wens is dat ons ook vir ander rigtingwysers sal wees, dat ons deur ons lewens en woorde ander sal help om die regte keuses te maak.

Aan God al die eer!

Groetnis

Toortsie

Toortsie se Bantingboerekosboek Facebook page

Toortsie se  Facebook page

Finesse Blogger of the week

Finesse: Hoe raak my verswakte moeders my?

Toortsie by Pinterest

7 thoughts on “Rigtingwysers

    1. Oeee ons kan nooit sonder hulle nie! Waar staan dit in die Bybel van jou voorgangers wat jou langs die baan staan en aanpor om die regte ding te doen? Ek sal bietjie dink hoe die regte woorde is.
      Maar ons moet dit weer vir die volgende klompie ook doen, wat ek weet jy doen! 🙂

      Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!