Die inpak begin

Die inpak het begin vir die groot trek. Plaasjapie word semi-dorpsmeisie.

Ekself pak elke item in, sorteer, draai toe, skryf neer wat in die boks kom. Alles word gedokumenteer. Die boks kry ‘n nommer, dit word op die rekenaar aangeteken: Inhoud in detail, waar in die huis dit solank gestoor word, in watter vertrek moet dit neergesit word on die nuwe huis, moet dit dadelik uitgepak word of moet dit net so weggebêre word vir ‘n moontlike volgende skuif?

Soos wat ek begin om die huisgoedjies een vir een toe te draai in koerantpapier, draai ek herinneringe daarmee saam toe. Pragtige blou Veniësiese glas blompotjie wat Anna 33 jaar gelede vir my gegee het; ‘n Massiewe blompot van Kobus waarin net so ‘n groot bos blomme in was, nog blompotte van hom af, soms vir ‘n verjaarsdag, soms in die hospitaal, elkeen oorspronklik gevul met blomme; Glas kersblakers wat tannie Dina en ook my studentemaats vir my 21ste verjaarsdag gegee het; Glaspotte wat ek een keer by Oriëntal Plaza gekoop het, ek was so bang! Hoeveel glas blompotte van my ma. Ag, sy was só lief vir mooi glas en blomme, ek neem hopeloos te min kere vir haar blomme! Besonderse glas melk- en suikerpotjie wat Francois en Lucille as trougeskenk gegee het.

Ek kom op goed af waarvan ek al vergert het, goed wat ek beslis weer wil afstof en gebruik.

Die lewe is goed. Dankie vir soveel herinneringe oor jare opgebou. Dankie dat ek nog die verstand het om die herinneringe op te roep. Dankie dat ek nog die fisiese kragte het om die goed self uit te sorteer  en weg te gee wat nie meer nodig is nie.

Hierdie inpakkery gaan nie ‘n oornagbesigheid wees nie, daar gaan tyd saam met dit verloop, maar so saam met dit kry ek ook kans vir afskeid neem, dinge in my kop en hart te verwerk en met nuwe moed uit te sien na die volgende fase in my lewe.

Let’s do it!

Na aanleiding van sommige van die kommentare reeds ontvang, vra ek nou: Watter tips het julle vir my om die pakwerk te vergemaklik? Watter geheimpies het julle? Wat kan julle my leer? Ek het ‘n leerbare gees, so enige raad is welkom, dankie. 🙂

Toortsie

Toortsie se Bantingboerekosboek Facebook page

Toortsie se  Facebook page

Finesse Blogger of the week

Finesse: Ons hou plaastroue

Toortsie by Pinterest

46 thoughts on “Die inpak begin

  1. Dis mooi. En die herinneringe ook.
    Toorts, het ek n inskrywing gemis? Hoekom trek jy? In my kop dink ek dat die kinders dalk nou op die plaas in jou huis gaan woon, maar ek het dit nerens gelees nie.
    Geniet die pak en ook die uitpak en al die memories daarmee saam. Sterkte

    Like

    1. Nee, jy het nie ‘n inskrywing gemis nie.
      Om hierdie een te verduidelik, is nie so maklik nie. Geen emosionele of ander probleme nie. Dis net ‘n ingewikkelde storie. 🙂
      Maar ek trek met my een voet dorp toe. Ons gaan baie pendel, dink ek. Kom ek noem dit ‘n tusseninfase. 🙂
      Dankie, ons het nogals lank hier gewoon, maar ons is gereed vir die volgende stap.

      Liked by 1 person

        1. Veronderstel om te wees maar ek dink ons gaan harder werk!
          Soveel mense sê dat hulle hulle glad nie kan voorstel dat ons dorpenaars word nie. Eerstens sal ek moet leer om sagter te praat! En ek weet nie hoe ek met die dorp se blaffende honde gaan regkom nie.
          Die mense wat so sê, het altyd so ‘n benoude giggellaggie saam met dit!
          Ons sal moet leer om nie ons plaasmaniere daar uit te haal nie! Gits!

          Liked by 1 person

    1. Nee, geen horries nie en geen agtermekaar nie. Hoe nader dit aan die tyd raak, hoe deurmekaarder raak dit. Ek moet vroegtydig begin, dit maak my rustig, maar ek weet op die ou end is dit chaos, geen gedokumenteerdery nie. So elke boks wat reg gedoen word, is ek oor DANKBAAR!

      Liked by 1 person

        1. Jong, om ‘n plaashuis op te pak, is maar ‘n groot storie. En dit moet maar stewig verpak word want dit kom sommer op ‘n lorrie en ry op ‘n grondpad. En as ons anderkant aankom, staan ek soos ‘n verkeerskonstabel en sê net hierdiekant toe en daardiekant toe. 🙂

          Liked by 1 person

          1. Sterkte! Ons trek elke paar jaar en het al ‘n hele paar ‘hacks’ aangeleer. Maar ek is seker daarvan dat plaas trek nie kinderspeletjies is nie. Geniet die nuwe seisoen.

            Like

              1. Hmmm…ek het die horries nie ligtelik bedoel nie! Haha! Dis baie, hoe sal ek sê, ‘kontroversieël’. So ek sal nie vir enige iemand aanbevelings maak nie. Maar swartsakke speel hoofrol..en klere tussen die breekware! (Ons hou van verandering en dis hoekom ons gereeld trek. Bly nie vir ewig in dieselfde huis, ry elke week ‘n ander kar en my hare het al amper elke kleur van die reënboog gesien.)

                Like

                1. Klere tussen breekware 🙂
                  Ek het op ‘n stadium baie getrek, maar het hier nou nogals lank gewoon. Het ook al slimmer geword oor jare. Haal bv laaie uit die kas en trek die laaie net so, pak nie alles eers uit nie! Maar dit werk net as ek nie te ver trek nie, dit sal nie agterop ‘n lorrie werk nie. So ek laai die laaie net so in my kar en loop steek hulle weer op hulle plek in aan die ander kant. Dis te sê as dieselfde laaikas weer in dieselfde kamer gaan staan! 🙂

                  Liked by 1 person

                  1. Ja man, dit bespaar plek en die alewige gewas aan die anderkant. Ek gebruik altyd skoon klere, handdoeke ens om die breekgoed toe te draai. Sommige dekorstukke ook. Silwerskoon goed moet mos wragtig nie weer gewas word nie! Dit het my altyd uitgeput. Die skottelgoed aan die ander kant. Al my canvasses vou ek sommer in die gordyne toe. Moet in elk geval weer gestryk word aan die anderkant so why not! Die laaie-ding doen ek ook graag.

                    Like

  2. So, ek is nie alleen in my trekfase nie. Ek trek net oorkant die rivier in, maar ek moes ook dringend my man en sy hond versoek om solank te oefen om minder raserig te wees, want ons gaan nou tussen mense woon. Ons was twee jaar lank alleen op die bult en het geen respek vir stilte nie. My man sê ek sal asseblief moet leer om AL my klere aan te trek voordat ek my slaapkamer verlaat. Lekker inpak – ek beskou dit as ‘n geleentheid om weer ‘n bietjie onnodig opgegaarde items te skenk.

    Like

    1. Ja, sien, die onnodige opgegaarde items … uhm … hier’s BAIE van hulle! En die voornemens goed … sal maar sien hoe ver ek met hulle kom! Sterkte vir jou ook! AL DIE KLERE AAN! Ek sal daaraan ook iets moet doen!

      Liked by 1 person

  3. Sjoe maar jy klink heel georganiseerd op die oomblik. Ek het ook klere tussen waardevolle items gepak. Spesifiek al die truie wat ek saamgebring het hierheen het gehelp om alle waardevolle goedjies te beskerm. Nommers en wat in boxe is is ook baie belangrik. Dit help beslis. Simpatie met die groot trek aan die eenkant maar steeds aan anderkant baie opwindend ook.

    Liked by 1 person

        1. Ek kon nie Spaghetti wol kry nie. Ek hetvElle gebruik en ‘n hele verskeidenheid daarvan. Steeds die nr hekelpen wat voorgeskryf is. Dubble knit het ek 2 drade van geneem en chunky net so. Die blokke het toe te klein gekom, so ek het ekstra rye gehekel tot die blokke 42 cm elk was.

          Like

  4. Ek het ook gedink ek het iewers ‘n toortsie gemis omdat ek nie weet van die trek nie maar het nou op die kommentaar gesien dat ek nie een gemis het nie. Baie sterkte daarmee, sal die ‘posts’ dophou om agter die kap van die byl te kom wat die trekkery betref hehehe.

    Like

  5. Sjoe Toortsie, ek is reeds baie beindruk dat jy lysies maak op die rekenaar! My metode is oudtyds – ‘n nommer op elke boks en skryf in ‘n notaboeke wat binne in is. En skryf op elke boks watse vertrek. Klink vir my of jy alles goed onder beheer het. Baie sterkte – trek is nie vir sissies nie.

    Like

    1. Jong, ek begin gewoonlik goed … maar soos die D dag nader kom raak die druk ook meer. Ek het vandag ‘n klompie boeke ingepak, ‘n klompie bokse boeke en dit lyk nie eers of iets gebeur het nie! (Nie gedokumenteer watter boeke in watter bokse nie, so soek sal ek soek!)

      Like

          1. Toortsie – jy lyk soos die blog ekspert hier. Ek wil ‘n aparte blog doen, een wat ek deel op facebook, en dus minder persoonlik is. As mense dit sou lees, sal hulle toegang het tot my Pixie blog ook?

            Liked by 1 person

              1. Baie dankie – ek het al begin beplan. Ek wil skryf in Engels, net om my brein aan die werk te kry. Na die hele vakansie van Afrikaans praat voel dit of ek nie my woorde kan uitkry as ek Engels praat nie! x

                Like

  6. Tips vir trek. Klere wat hang gaan net so op die hangers. Lê plat op opgevoude kombers. Haal af en lê plat opmekaar oor kombers. Vou toe en dit ry op die kar se agtersitplek. Daar hang jy net op. klaar in regte volgorde.

    Borde, Bakke ens draai jy in vadoeke, lappe en tafeldoeke toe.

    Like

Gesels saam, asseblief!