Banting en die feestyd

Dis feestyd, eettyd, ontspantyd. Dis familiesaamwees en vriende-saamwees. Dis rooiwyn en brandewyn en trifle en tiramisu en sjokolade en koekies. “Ag komaan, eet nou ‘n stukkie, ‘n klein ou stukkie sal mos niks maak nie! Drink nog ‘n glasie saam met my! Toe man!”

Ook die Toortsie sukkel soms om nee te sê vir die versoekings wat in oorvloed om jou verskyn. Kyk, die Toortsie maak ‘n héérlike trifle, sy noem dit sommer verleipoeding. Daarin kom ALLES wat soet is: Die oorskiet sjokoladekoek, karamel, jellie, vla, roomlikeur om die koekerasie vogtig te kry, neute, kersies, groenvyekonfytstukke, room, flake … en as Kersdag al die oggend baie vroeg begin het met net ‘n stukkie kaas in die maag en daar is behoorlik gebeur in die wind om musiek te verskaf by die Radio Kanseldiens, moet ek erken, dan is die weerstand maar laag wanneer daar geëet word by die Kersfeesmaal. Die aartappelslaai en ander ‘verbode’ kosse word dalk vermy, maar daar is net ‘n kleine ou happie trifle nodig om die skanse af te breek.

Vir elke Banter, nee, vir elkeen wat ‘n verslankingsdieet volg en met die Kersete die pad verloor het, wil ek sê: “Dis nié die einde van die wêreld nie. Dis ook nie die einde van jou Bantingpad nie. Jy is nié ‘n verloorder nie! Jy is net méns!” 

Maaarrrrr moenie dat hierdie een keer se swakheid nou beheer van jou neem nie. Asseblief nie. Wees sterk! 

Vanoggend het ek vir die eerste keer hierdie vakansie begin met my standaardontbyt: Eiers, avokado en slaai, en dadelik is alles skielik sommer weer in plek. Skielik pla die orige soetgoed in die yskas my nie meer nie. Skielik kan ek weer fokus. 

Sterkte ook vir jou! 

En as die Bantingpolisie dalk vir my vra hoekom daar in elk geval soetgoed in my yskas is wat nie daar hoort nie, antwoord ek wat ek nog altyd sê: Op geen manier gaan ek my leefstyl op ander mense afdwing nie. Natuurlik is die kos wat ek maak, Bantingvriendelik, maar as die ander mense in my huis iets soets eet, gaan ek hul nie aanspreek nie.

En onthou steeds die goue reël, dat as jy genooi word vir ete, neem ‘n slaai of Bantingsouttert of iets saam sodat jy verseker weet dat daar iets is wat jy kan eet. Dit werk regtig!

Mooi loop. Wees sterk. Wees vasberade. Hou jou oog op die einddoel, om vol te hou met jou eetprogram, om op te staan as jy geval het.

Groetnis

Toortsie

Toortsie’s Banting Bash Facebook page

Toortsie’s Facebook page

Toortsie’s LCHF stories on Fridays (Afrikaans)

Order Toortsie’s Banting Bash here. 

Toortsie’s LCHF Journey

Finesse Blogger of the week

Finesse: Die grootstegeskenk wat my dogter my kon gee.

4 thoughts on “Banting en die feestyd

Lewer kommentaar op rondomtaliedraai Kanselleer antwoord