So ek Bant nou al 2 jaar en vier maande, het al ‘n paar sakkies aartappels in gewig verloor en is steeds vol moed vir die besigheid.
Banting is ‘n leefstylprogram, nie ‘n vinnige gewigsverliesprogram waarop jy gou ‘n klompie kilogramme afskud en dan gaan jy weer normaal aan met jou lewe nie. Dis hoe ons altyd die ander gewigsverliesprogramme benader het.
Die ding is, dis by die ‘normaal aangaan met jou lewe’ waar die probleem lê, of liewer, dis waar dit by mý gelê het. En so stilweg dink ek, ek is nié die enigste nie! In die begin hou jy nog goed, en voor jy jou kom kry, het jy verval in jou ou gewoontes en het jy totaal beheer verloor, net om daardie verlore gewig weer so vinnig as moontlik terug te wen.
Die probleem is, as jý eers die program gewen het, uitoorlê het, is dit verby. Tiekets. Mens het net nooit weer genoeg wilskrag om dit korrek aan te pak en sukses daarmee te behaal nie.
Volhoubaarheid is vir my ‘n groot probleem met die meeste van hierdie programme. Oee dit werk fantasties, maar slegs vir die oomblik. As dit so volksvreemd is, as jy totaal anders as die res van jou gesin moet eet, as jy jouself behoorlik moet uithonger, as jy letterlik van Cup A Soup en een snytjie brood moet leef en almal om jou eet steak en die lieflikste groente, belowe ek jou, dis NIE volhoubaar nie. Iewers gaan jy moed verloor, knak, en aan die eet raak om nie weer te stop nie!
Hier is nou ‘n wonderdieet wat baie veld wen en ek is baie bly vir elkeen wat sukses daarmee behaal. Ek het dit ‘n bietjie bekyk en by dag 2 het my keel al toegetrek, net by die lees daarvan, want met só min kos sal ek nie oorleef nie! Onthou, die rede hoekom ék vet geword het, was van eet en niks anders nie. Ek is lief vir eet. Mal daaroor.
En dis juis dít wat Banting vir my so gerieflik maak: Ek mag eet! Ek mag al die lieflike, ryk kosse eet en ek mag dit voluit geniet. My gesin kan dieselfde kos as ek eet sonder om dikmond te wees, want Bantingkos is lekker! En dis VOLHOUBAAR. Ek kan nog vir jare so aangaan!
Banting is nie ‘n uithongerdieet nie en ons moet oppas dat die ou reëls wat vir soveel jare vir ons opgedis is, ons nie beïnvloed nie. JY HOEF NIE HONGER TE LY MET BANTING NIE. Nooit nie. Jy hoef nie. Jy mag genoeg eet, soveel soos wat jou liggaam vra. Sonder om skuldig te voel. Nee, jy gaan nie van jouself ‘n vraat maak nie, maar jy MAG genoeg eet. En ons almal se liggame verskil. Die een persoon kom met minder kos reg as die ander een. Ek wil ook dink dat ‘n persoon wat regtig oorvet is dalk aanvanklik meer sal eet as iemand wat nie so baie het om te verloor nie.
Banting is NIE ‘n vinnige kitsdieet wat ‘n mens gou vir ‘n paar dae probeer nie.
Moet onder geen omstandighede jou laat voel of jy van iets ontneem word nie. Dis nie nodig nie!
Maak jou Banting vir jou maklik. Volg die reëls, maar moenie nog ‘n spul reëls loop inskryf wat nie nodig is nie. Hou dit uitvoerbaar sodat dit ‘n leefstyl raak en nie ‘n probleem nie. Moenie dit onnodig moeilik maak dat jy moed verloor nie. Die uitdaging is om daarby te hou soos dit reeds is, nie om te kyk hoe ingewikkeld jý dit kan maak nie. Geniet dit, dis nie ‘n strafkamp nie, maar ‘n lewe wat jy mag geniet in sy volheid.
Mooi loop en sterkte en onthou, jy doen nie jouself ‘n onreg om selfs tydens jou vakansie by die Bantingleefstyl te hou nie. Dis nie ‘n straf nie. Geniet jou Banting en geniet veral die jaloerse kyke van almal wat jou probeer oortuig om tog nie tydens jou vakansie ook nog te wil Bant nie! Wys hulle hoe uitvoerbaar die leefstyl is, selfs tydens ‘n vakansie.
Be strong! Be courageous! Die beloning is in jou mooi, nuwe lyf!
Banting is bobaas!
Toortsie
Toortsie se Bantingboerekos Facebook page
Toortsie se Facebook page
Finesse Blogger van die week
Toortsie by Finesse: Ons hou troue!
Toortsie op Pinterest
Toortsie by Low Carb Direct: Jy het nou jou doelgewig bereik, so wat nou?
Before en After:
Ek voel ek mis uit, selfs siek wanneer ek nie effe Banterig kan eet nie. Goed soos brood en mielies maak my regtig siek. Baie lief vir samp & boontjies maar ek word regtig olik daarvan. Gluten of iets en dit jaag bloedglukose die hoogtes in. Banting is gewoon net gesond eet.
http://www.thingscapetown.blogspot.co.za
LikeLike
Nou hoekom sal iemand vir baie lank Bant, goed gewig verloor, uitstekend daarmee doen, van die wa afval en dan allerhande belaglike kitsdiëte volg terwyl sy WEET dat Banting vir haar goed is en werk vir haar? Ek verstaan dit nie.
Ek verstaan wel hoekom jy dit wel doen, die styselding, maar ek praat van mense wat dit wel KAN regdoen?
LikeLiked by 1 person
Mense wat kan, maar nie wil nie, is intellektueel gekonstipeerd en emosioneel disfunksioneel. Om gif in te neem is selfmoord en dis nie die beste keuse. Ons wil tog net die beste hê? Wel, ek ken iemand wat ewe lank is as wyd maar gedurig comfort food verorber.
LikeLiked by 1 person
Dankie ek het jou woorde Baie nodig gehad…… baie sleg uit die bus geval laaste twee maande maar jy gee my moed….ek gaan aanhou en aanhou!!
Sent from my Samsung device
LikeLike
Ek wil jou gerusstel. Dis OKAY as jy uit die bus geval het, dis menslik. Onthou, sukses word nie gemeet aan die aantal kere wat jy val nie, maar die kere wat jy opstaan.
Byt vas, dis regtig die moeite werd.
Toe ek vanaand sommer vir die lekker nog weer in my man se vet skaap- en groentepot inspring, is ek so dankbaar dat ek Bant en dat ek nie skuldig hoef te voel nie. Wat ek vanaand te veel eet, maak dat ek môre langer hou voor ek honger is. Dis wat Banting so anders maak. Ander tye sou ek my ooreet het, net om môre my weer te ooreet, maar by Banting, as jy nou meer eet, hou jy môre langer. Wonderlik!
Sterkte vir jou!
LikeLike